top of page

Drome Oor... Weduwees


Elkeen van ons het die weduwee in Elia se storie baie nodig. Jesus vertel die storie van Elia so: Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. (Lukas 4:24- 26)


Hoekom is hy na hierdie weduwee en nie na een van die ander weduwees toe gestuur nie?


Sy bly op die verkeerde plek. Sy behoort aan die verkeerde godsdiens. Sy is ongelowig. Sy is alleen met ‘n siek kind. Sy het nie meer kos nie. En haar tuiste is in Sidon, die plek waar Isebel bly, Elia se grootste vrees.


Sy is die vreemdeling (“ger” in Hebreeus) waarvan die Here telkens praat. Sy verpersoonlik alles wat Elia kan ontwrig. Elia se pad na heelheid moet eers hier stop. En dit is reeds om hierdie rede dat hy soontoe moet gaan!


Die woord "ger" word 84 keer as werkwoord en 92 keer as selfstandige naamwoord in die Ou Testament gebruik. Die opdrag is om buite ons gemaksone te leef en die vreemde te omhels en die vreemdeling lief te hê (Lev 19:34). Elia word gevra om sy ware identiteit te leef. Elia was 'n Tisbiet en toevallig beteken die woord Tisbiet ook vreemdeling of grens.


Dit is ook waar jy Jesus telkemale kry en waar sy dissiples soos mis voor die son verdwyn - by die vreemdeling of buite die grense. Sy dissipels het eers baie later geleer dat Jesus self die vreemdeling in die tronk, die naaktes en honger mense was (Matt 25:31-46).


Ons gesels Sondag by die Protea Hotel om 10:00 oor die uitnodiging om buite ons begrensheid te leef. Vroegoggend gaan daar mooi reën val en die son en wind skenk na 8h00 hulle genade!

bottom of page