top of page

Chrislie Dreyer

YoungTeens@InVia

Chrislie het groot geword met ‘n lekker en gelukkige gesin in ’n klein dorpie in die Oos-Kaap met die naam Humansdorp. Sy sê altyd, moenie dit Google nie, dit is nie ‘n mooi dorpie nie, maar die mense.. die mense is eg!! Is dit nie waaroor die lewe gaan nie? Mense.. Mekaar.. Eg wees..


Lief vir kuns, kinders(van jonk tot oud) en kerk. EN verseker haar familie! Konneksie met mense en menseverhoudings ag sy hoog en maak soveel moontlik tyd vir mense. Elke mens sien sy as ‘n kunswerk en sien uit om te sien hoe elkeen se unieke menswees God weerklink.


Haar Ma het altyd gesê sy kan gaan kwasse swaai in Parys sodra sy ‘n Graad agter haar naam het. Sy het na Matriek Onderwys(Intermediêre en Senior Fase) studeer by CPUT in Wellington en het haar BEd Graad daar ontvang. Sy het haar loopbaan begin met haar eerste solo kunsuitstalling by die Breytenbach Sentrum. Daarna spring sy op ‘n vliegtuig Nederland toe. Daar het sy vir ’n jaar Au Pair, geleef, getoer, gegroei. Switserland het haar ook as au pair gesien daarna. Aan die einde van 2019 keer sy terug na Suid Afrika en kies sy om haar drome na te jaag om ‘n kunstenaar te wees. Sy begin haar besigheid aan die begin van 2020 en werk onder Chrislie Dreyer Art. Sy begin ook met Kunsklasse vir kinders en Emosiomele Intelligensie vir kinders. Vir vier jaar gewerk sy ook as deeltydse kinderwerker by ’n gemeente in Wellington. Sy het tans haar eie ateljee in ‘n solder bo ‘n croissant restaurant in Wellington en het aangesluit aan die begin van 2024 by die Invia span. In haar ateljee gee sy klas, maak haar eie kuns en hou interessante funksies soos Digters in die dak en kuns werkswinkels. Sy geniet dit om te onthaal en om haar kuns ruimte met ander te deel. Deur hierdie waagstuk drup dankbaarheid soos ‘n kraan elke dag in haar hart en wese en die rimpel effek skep beweging, ritme en bewustheid in haar hart van God se goedheid, liefde, omgee, genade en sorg.


Bewus van Lig... om Lig te wees, daar waar jy is en om Lig te leef, hier op aarde.. Bewus van beweeg, ontvou en vloei van die lewe.. sien sy haarself as ‘n pelgrim onderweg, altyd op pad. Op hierdie lewenspad kies sy om raak te sien, boksies wat mense skep te ontglip en hulle te verras, vry te leef, in verwondering te leef, avontuur te skep, pret te skep, met bewustheid te leef, te staar en werklik sien. Sy geniet God se alomteenwoordigheid en maak tyd vir natuur, avontuur, kuns, Stilte en samesyn vol lag, geselligheid, egtheid en Lig.


Sy sien haarself as die herskepper en God as die Meester Kunstenaar/Skepper. Alles is vir haar kuns en ag die rol en die belangrikheid van kuns in ons samelewing hoog!

bottom of page