top of page

Carmen Platt

Kommunikasie & Ontwerp

Carmen is gebore April, 1996. Sy bring die eerste gedeelte van haar lewe deur in Limpopo, altyd met ’n leesboek iewers weggesteek, terwyl sy eerder in die tuin of haar kamer wou dagdroom. Later verhuis sy na Johannesburg waar sy in verskeie maniere betrokke raak deur kuns en musiek by Doxa Deo Meyersdal.

 

Na hoërskool besluit sy om te toer in beide Noord- en Suid-Amerika waar sy betrokke raak by die Internasionale departement van New Life Church in Colorado Springs, asook Distrito de Alto Rendimiento in Guatemala. Die hoogtepunt van die rondrits was natuurlik die verryking van verskillende kulture, die anders dink en die vrae vra. As deel van haar pelgrimstog verhuis sy na Stellenbosch om Internasionale studies te studeer, met die fokus op tale, antropologie, geskiedenis en politiek. Nadat sy haar graad ontvang spandeer sy tyd in Johannesburg, waar sy haar liefde vir uitdrukking, skryf en kreatiwiteit verder op ’n vryskutbasis kon aanpak onder Bethesda Bethesda Wholeness, ook as gevolg van die covid-pandemie wat baie deure met aanlyn blootstelling kon oopmaak. Hierdie stel haar instaat om bemarking, kopieskryf, digkuns en haar belange in kruie en heelheid te kombineer.

 

Haar verlange na die gemeenskap van Invia het haar wel in 2020 aangehuts om aansoek te doen om deel te word van die span. Wel, hier is sy nou. Met haar kaalvoete geplant in natuur, loop sy haar pad. Solank daar 'n kruietuin, 'n stroompie, 'n pen en stukkie stilte naby is, ervaar sy in diepte die Misterie van God.

 

En daar waar dit raas, waar mense net mens is, en waar dit donker voel - wel, daar kyk sy na die maan, vat aan die naaste boom, maak haar oë toe en vat 'n diep asem - want sy wéét in haar vel: God is nader as naby.

bottom of page