top of page

Wanneer Moses sy moses teëkom



Wysheid is dikwels baie nader aan ons wanneer ons kniel as wanneer ons vlieg.


William Wordsworth


Leer ons om ons dae te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!

Keer terug, Here! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.

Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.


Psalm 90: 12-14


Mens is nooit te oud om te leer nie. Benjamin Franklin het trouens gesê, “Die drumpel na die tempel van wysheid is kennis van jou eie onkunde.” Ek het, byvoorbeeld, nie geweet Moses (die man van God) het ‘n Psalm geskryf nie. Daar het jy dit nou. En in hierdie psalm is Moses ook nie skaam om te sê dat hy nie weet nie, dat hy nie ‘n clue het nie, dat God se ewigheid en die mens se kortstondigheid sy brein breek nie.


"God it seems you've been our home forever; 

long before the mountains were born,

Long before you brought earth itself to birth,

from "once upon a time" to "kingdom come" - you are God."


Sy emosies vloei van magteloosheid, iets wat klink soos radeloosheid tot verwondering en dan oorgawe, openhartigheid en ‘n diep vrede wat nie gegrond is op omstandighede nie. 


Leer ons om ons dae te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!


My pa se kantaantekening in sy Bybel: Getelde dae is dae wat tel.


Om ons lewensdae na waarde te skat –  dit moet U ons leer, sodat ons 'n hart vol wysheid kan verwerf.


Hoe lyk hierdie wiskunde wat wysheid bring?

Wat kan ons leer oor tyd en die waarde van ons dae uit hierdie Psalm?


Prioriteite is 'n verdraaide woord. Die wortelwoord van “prioriteit” is “eerste in rang, orde of waarde”. Dis enkelvoudig, dit kan nie in 'n meervoud omskep word nie. Jy kan net een prioriteit hê en die maniere hoe jy jou tyd aanwend, moet noodwendig daaruit vloei.  Van 1940 af het tydsbestuureksperts die onmoontlike reggekry deur ‘n woord wat gebou is op enkelvoudigheid te verdraai in ‘n meervoud. Om selfs jou prioriteite te prioritiseer in A,B,C … Kierkegaard het geskryf ‘n rein hart behels: "To will one thing ..."


Hierdie is nie 'n psalm vir jou ou dag nie. Annie Dillard het ons herinner: “How we spend our days, is of course, how we spend our lives.” Ons is die somtotaal van al die oomblikke in ons lewe. Ons kan nie tyd “maak” nie, veral nie vir Die Een wat tyd gemaak het, dit vashou en vir wie ‘n duisend jaar soos een dag is nie. 

"Maak" jy tyd vir God in jou spaartyd, wat daar natuurlik nooit is nie of vloei al jou besluite en dade uit jou tyd met God? 


Leef jy in die geskiedenis waar spyt en skuldgevoel jou hart heen trek of in die toekoms waar angs en bekommernis jou kop beset? 


So imprudent are we that we wander in the times which are not ours … We try to give the present the support of the future, and think of arranging matters which are not in our power, for a time which we have no certainty of reaching.


Blaise Pascal


Is jou dae 'n las of 'n lig? 'n Gegewe of 'n gawe? Beur jy daardeur of ge-beur jy?

Hoe "gebeur" jy? Opnuut elke dag? In hierdie oomblik?

Ons is meestal so behep met "wat met ons gaan gebeur" dat ons heeltemal vergeet om te gebeur.


"Beste Bitterals ... niks werk so goed soos spanning of angs om 'n mens se verstand vir die Vyand [God in hierdie geval, uit die hoek van die duiwel] dig te maak nie. Hy wil hê mense moet begaan wees oor wat hulle doen; ons taak is om hulle knaend te laat dink oor wat met hulle gaan gebeur."


C.S. Lewis (Briewe aan Bitterals / Screwtape Letters)


Hierdie psalm sê ons tyd is so kort - sewentig, dalk tagtig jaar. Omtrent vierduisend weke (soos Oliver Burkeman in sy merkwaardige boek Four Thousand Weeks skryf). Ons kan dit natuurlik meet aan die ewigheid (hoe doen mens dit?) en ingedoen voel met die min tyd wat ons hier kry óf ons kan dit vergelyk met die teenoorgestelde van die ewigheid wat – ek weet nie, geen dae is nie. 


It’s the very last thing, isn’t it, we feel grateful for: having happened. You know, you needn’t have happened. But you did happen.


Douglas Harding


Om te sê iets het lank voor my begin en hier is ek en ek is deurmekaar en kom ons gebeur op 'n beter manier.


Ryk Hattingh (Huilboek)


Wat is die derde pad, die kruis-pad" wanneer "Busy-ness" en "Boredom" lyk soos die enigste twee dorpe wat die padpredikant aandui? As tyd jou versmoor of jy tyd vermoor (killing time klink beter)? 


Aan die einde van hierdie psalm is daar 'n wending en 'n soort sin maak, of versoening, vir hierdie dilemma en begrensdheid van menswees. ‘n Soort oplossing, of eerder opgelostheid. Wanneer ons dae opgelos word (dink maar aan 'n bruistablet) in God se troue liefde, sal ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees. Sal dankbaarheid en bewustheid, wat gegrond is in liefde, ons eens doellose dae vul met betekenis. 


"Some people use religion to strengthen their immune systems and help them resist temptation. Some use it as an antibiotic to cleanse their systems of infection and make them feel healthy again. And some use it as an aspirin, to take away the pain of wrongdoing without affecting the cause of that pain."


Harold S. Kushner (Living a life that matters)


Om onderdompel te word in God se goedertierenheid, Sy verbond (steadfast LOVE), is die begin van dankbaarheid en bewustheid wat wysheid bring. 


Die “oplossing” bring nie ‘n einde aan die paradokse in hierdie psalm nie. Moses voel steeds in die duister oor baie dinge, soos mens maar voel as die mat onder jou uitgeruk is, as jou gos-pil nie meer werk nie, as jy jou moses teëkom. Maar die Woord, anders as ek en jy, het nie net een testament nie. Die Woord het vlees geword. Paulus sal later in hierdie Nuwe Testament, toe-val-lig, Moses se baie beskeie gebed om vreugde om verdriet uit te balanseer, neem en met absolute vrymoedigheid in Christus verklaar: 


Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid …


Godgegewe wysheid is die aanvaarding dat pyn onvermydelik is, maar dat ongelukkigheid opsioneel is. Wysheid is nie om al die antwoorde op die lewensvrae te ken nie, maar om Iemand te ken wat dit weet. Wysheid is die ontdekking dat daar nie op ons as gelowiges ‘n hopelose einde wag nie, maar die vreugde van ‘n eindelose hoop. Godgegewe wysheid is die besef dat die lewe mooi is.


Deon Hugo


Frieda van den Heever



Commentaires


bottom of page