top of page

Wanneer jy vuur steel...



Ons kan iets leer by Prometheus wat op ‘n dag vuur gaan steel het by die gode omdat hy die menslike ras jammer gekry het oor hulle so swaarkry. Toe hy in die hemel kom, was daar geen ander gode nie, steel hy die vuur en deel dit op die aarde uit. Zeus word toe baie kwaad, want vuur is heilig en straf hom. Prometheus bind homself aan ‘n klip vas en elke dag kom pik die aasvoëls aan sy lewer totdat Herkules hom na jare bevry.

Teoloë soos Thomas Merton reken dat Pinkster bevry ons van die Prometheus in ons. Wanneer ons nie God se vuur in ons ontdek nie, sal ons dit by ander steel. Om ander se vuur te leef is ook ‘n illusie en sal ons nie dien nie. Dit is omdat die gode nie daar was nie en dan word jou verlossing of soeke na vuur om ‘n sondebok te speel, sodat jy redes kan hê omdat jy nie die vuur het nie!

Ons begin Sondag met ons Pinksterreeks. Dit is die tydperk waar ons opnuut dink aan wat dit beteken dat die Heilige Gees uitgestort is, en binne in ons woon en werk. Die woord pinkster beteken 50 en die gebeurtenis vind 50 dae na Paasfees plaas. Jode sou ‘n baie sterk assosiasie gemaak het met ‘n soortgelyke fees wat die Oesfees genoem is. Hulle sou dink aan die uittog van Egipte, waar Israel 50 dae na die Paasfees die viering van die wetgewing vier.

Hierdie is ‘n baie belangrike konteks. Die wet vir Israel was nie gesien as ‘n openbaring wat slaafs gewettig en geïmplimenteer moet word nie. Dit het gegaan oor liefde, passie en die vuur van die diepste verlange en begeerte om uit die woorde of vriendskap met God te leef. Daarom word Abraham ‘n vriend van God genoem.

Israel het die wet in die woestyn ontvang en baie teoloë meen dat dit ook ‘n nuwe begin en bries in die geloof van Israel was. God lei hulle in die woestyn, waar daar nie die mooi natuur en landskappe is nie, maar leegheid en stilte. Vir die meeste ander godsdienste was God die reën, bome of die natuur, maar vir ‘n Jood het God die natuur getransendeer, omdat jy God nie net kan sien nie, maar ook kan hoor!

Pinkster is presies dit. God se wet of woorde kan die vuur in ons harte oopbreek. Handelinge 2 leer ons dat God daardie vuur gee en ons dit by niemand hoef te steel of namaaksel van die vuur te probeer leef nie.



- Deur Theo Geyser

bottom of page