top of page

Verandering is nie vakansie nie




Dié van ons wat dit weet, wéét dit (soms op 7, soms op 70 eers):

verandering is onvermydelik … niks hou vir ewig nie … this too shall pass … en ons wil dit glo vir die moeilike tye, maar nie vir die lekker tye wanneer alles glad en standvastig en “onder beheer” en plesierig is nie. As dit op die oog af lyk of dit goed gaan met iemand, wanneer ‘n opwaartse kurwe soos die norm lyk, sê ons “hy ry daai golf”. Wanneer ons ‘n struikelblok in die gesig staar, wanneer iets ons wakker hou in die nag, verlam in die dag, ons ganse storie word, sê ons, “dit ry my”.


Almal, almal, van ons gaan deur verandering. En dis nie altyd so goed soos ‘n vakansie nie. Hoekom lyk dit of sommige mense wakkerder, helderder, oper, sagter, liefliker “aan die anderkant” uitkom en ander afgerem, hard, toe, platgeslaan, lewensmoeg? Verandering is wanneer iets nuuts begin. Transformasie is die teenoorgestelde. Dit gebeur meestal wanneer iets ouds wegval. Meestal na ‘n krisis, wanneer iets waarop ons onsself geleer staatmaak het, weggeneem word. Maar alle krisisse lei nie tot transformasie nie. Wanneer iets weggeneem word waaraan jy gewoond of verknog of verslaaf geraak het, sal jy bitter óf beter word.


Dit lyk asof dit niks te doen het met wat MET ons gebeur nie, maar alles te make het met wat IN ons gebeur wanneer (nie “as” nie) dit met ons gebeur.


And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom. Life is a process of becoming, a combination of states we have to go through. Where people fail is that they wish to elect a state and remain in it. This is a kind of death. Living never wore one out so much as the effort not to live. Anaïs Nin


Die mense, die dinge, die goed wat die lewe oor ons pad bring waarmee ons niks kan maak nie – waaraan ons niks kan doen nie – het die potensiaal om iets met ons te maak: verlies, siekte, genesing – wat soms in die vorm van rehabilitasie kom (wanneer ek moet droograak van iets soos drank om my dieper dors en afhanklikheid in die oë te kyk), wonderwerke wat nie wiskunde is nie, stilte … dan kom mens agter die beste ding “wat jy vir God kan doen” is om te omhels wat God (gekamoefleer as jou lewe) vir jou doen, soos Eugene Peterson se vertaling van Romeine 12 dit so mooi sê.


Jesus belowe dat wanneer jy dors genoeg is om jou eie diepste lewendigheid in God se lewendigheid te vind, dit sal gebeur – trouens, die dors self is die teken dat die verbond alreeds gevestig is. Cynthia Bourgeault skryf:


“As we enter the path of transformation, the most valuable thing we have working in our favor is our yearning. Some spiritual teachers will even say that the yearning you feel for God is actually coming from the opposite direction; it is in fact God’s yearning for you.


Die verlange – die wil om te wil – is die eerste stap in die alchemiese proses wat verandering in transformasie omskep.


Antjie Krog het verlede jaar haar sewentigste verjaardag gevier en in haar nuwe bundel Plunder het ek my motto vir die jaar gevind:


redekawel


ek wil gepor, gekneus en oopgeruk word

deur ander maniere van dink ek wil

beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al

my sekerhede moet skipbreuk ly ek

wil in 'n deurlatende vel stap, my oorgee

aan wat anderkant "ek is" leef -

sonder dié permanente haag

van mag en 'n pantser van blinde ekheid




- Deur Frieda van den Heever

bottom of page