top of page

Soos ‘n krygsman … soos ‘n vrou in kraam



Die beelde van ‘n vegter en van ‘n vrou wat geboorte skenk word oor die algemeen gesien as geslagsteenoorgesteldes. Die dapper helde het gaan veg en die swakker geslag het by die huis gebly om die kinders wat die mans in hulle verwek het toe hulle vinnig op vegverlof was, te baar en groot te maak. Maar in Jesaja 42 vind ons hierdie beelde langs mekaar, in twee opeenvolgende verse. Om God te beskryf. Soos ‘n vrou wat in kraam is, is God besig om ‘n einde te maak aan sy volk se stilte en om ‘n kreatiewe krag te ontketen wat die wêreld gaan verander, á la Walter Brueggemann.


Die klem op die manlike beskrywings van God is die norm in die kerk terwyl vroulike beelde meestal die uitsondering is en dikwels ingespan word as vonk om ‘n debat aangaande God se “geslag” aan die gang te kry. Ek wil nie hierdie kosbare hoofstuk in Jesaja op Moedersdag vir hierdie doel inspan nie. God is nie ‘n vrou in kraam nie. God is nie ‘n krygsman nie. God is nie Hy nie. God is nie Sy nie. God is Hulle. (Net ‘n ou grappie…)


Vir ons menskoppies is prentjies en beelde egter onontbeerlik. Die woordjie “soos” is ‘n lieflike palindroom. Soos ‘n paal in ‘n droom. Metafore gee ons tegelykertyd ankers (in ‘n realiteit wat ons ken) en vlerke om die groter prentjie te kan bespied. Nuwe maniere van kyk lei dikwels na nuwe maniere van doen. Beelde sit ons verbeeldings op loop.


Wat wou God vir Israel sê hierdeur? Wat is die nuwe lied tot eer van die Here wat hulle moes leer sing (v.10)? Wanneer moet ons swyg, stilbly en ons bedwing en wanneer moet ons uitskreeu en hard asemhaal en hyg tegelykertyd? God is nie die een of die ander nie. God is beide:


Die Here sal uittrek soos 'n held; Hy sal die ywer opwek soos 'n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.

“Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.”


Jes. 42:13-14


En Israel? Israel word geroep om die vroedvrou te wees. Die vroedvrou van die goeie nuus. God het nie gevra vir ‘n epiduraal nie. Hierdie ballingskap sou 70 jaar duur. Pynmedikasie was daar nie. Alles is van hulle af weggeneem.


Die gebroke volk word geroep om dit wat gebreek is heel te maak. Om geregtigheid na die nasies te bring, om in hulle ballingskap ‘n vesting van hoop te wees, ‘n lig vir die nasies, liefde in ‘n wêreld wat mal geword het.


En God, die Bron, die Skenker van nuwe lewe, belowe hulle: “Ek sal die duisternis lig maak voor julle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie. Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.”



- Deur Frieda van den Heever

bottom of page