top of page

Palmsondag: Passie van Jesus


Ek wonder hoe sou Jesus hierdie vraag antwoord: Wat doen jy vir ‘n lewe? Hy het nie ‘n huis of aftreeplan nie... Nie 'n pensioensfonds nie en nog minder ‘n strategiese plan of KPA’s waarvoor hy rekenskap moet gee nie. Hy sou ook nie kon aansoek doen vir ‘n lening nie, omdat hy ook afhanklik was van mense wat vrywillig bygedra het tot sy bediening. Ons weet immers van 'n paar sakevroue wat hom ondersteun het. Tog praat hy oor werk: “My Vader werk tot nou toe, en ek werk ook." (Joh 5:17) en ook in vers 19: “wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” Werk verstaan hy in terme van sy verhouding met God.

Dis anders vandag.

Ons kultuur laat jou glo dat werk dui op ons rol, status, sekuriteit, en dat ons is wat ons besit. Jesus sou nie 'n groot indruk op mense vandag gemaak het nie. Hy vra vir niemand “Wat doen vir ‘n lewe?” nie, maar wel – “wie is jy in hierdie lewe?” Hy koppel hierdie vraag aan jou roeping, asook ‘n diep verhouding met Hom.

Die laaste 7 dae van Jesus se lewe is ‘n venter op sy finale werk wat hy moes doen. Daar word gepraat van die week van passie of die passie van Christus. Die woord passie beteken nie net lyding nie maar veel meer: "bear, endure, patience, patient, passive".

Ons staan net vir ‘n oomblik stil by die passiwiteit van Jesus.

Hierin lê ‘n juweel wat ons kan help dink oor ons lewe. Jesus se lewe word geken aan aktiwiteit. Hy is besig, sukkel soms om te slaap, word gedurig gepla en vlug kort-kort weg in afsondering. Maar dan eweskielik aan die einde van sy lewe, reageer hy nie. Hulle lei hom, spot hom, slaan hom, en hy antwoord nie vrae nie. Hy is passief. Sy passie is sy passiwiteit. Ons word net soveel gered deur sy passiwiteit as deur sy aktiwiteit. In sy aktiwiteit gee hy sy lewe aan ons, in sy passiwiteit gaan hy dood vir ons. Ons moet dit onderskei. Ons word gevra om ons lewens weg te gee in aktiwiteit, maar ook om ons dood weg te gee - en dit is ons passiwiteit.

Onthou ons kuier Sondag om 10:00 by die Grappa!


- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page