Waarom is dit belangrik dat Johannes ‘n visbraai deel maak van die opstandingsverhale? Is daar nie belangriker dinge soos wonderwerke of nuwe openbaringe wat gedeel moet word nie? Johannes sluit immers die visbraai verhaal af met “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh 21:25).
Want al die opstandingsverhale gebeur in die allerdaagse en in doodgewone menslike omstandighede. Die dissipels soek eerder weer na ‘n buitengewone Jesus tussen skares en wonderwerke. Jy verwag hom nie alleen op die strand besig om ‘n vissie te braai nie.
Die dissipels sukkel ook om Jesus te herken. Hulle was ook nou nie jou cum laude studente nie. Petrus het Jesus verraai. Natanael maak grappies oor Jesus se geboortedorp. Johannes en Jakobus baklei oor wie sit waar in die nuwe regering. En Thomas glo nie. Die vraag moet onwillekeurig gevra word: Hoe is dit moontlik nadat hulle drie jaar alles saam met Jesus beleef het? Die feit dat hulle by Jesus was, wonderwerke kon beleef, verseker nie noodwendig dat hulle ook die lewe leef waarvan Jesus gepraat het nie.
Dit is hier waar ons ook ‘n opstanding nodig het.
Die gewone lewe kan ons help om nader aan Christus te kom. Die opstanding herinner ons dat God in alles teenwoordig is. Die sigbare word ‘n deur na die onsigbare. Teoloë praat van 'n sakramentele teologie. En dit is so mooi. Die lewe word geheilig deur Christus wat daar is! As ons God nie in die gewone kry nie sal ons hom nie in die buitengewone kan kry nie. Jean Pierre de Caussade sê dit mooi: “The purest form of spirituality is to find God in what is right in front of you…”.
- Theo Geyser
Comments