top of page

Grendelam Aan't Fynkam: mislukkings en 'n Meesterplan


Ons begin Sondag met 'n nuwe reeks en gebruik Nehemia as bronteks. Nie 'n boek waaruit dikwels aangehaal of gepreek word nie, behalwe as daar 'n nuwe bediening begin word of geld ingesamel word vir 'n kerkprojek ... wat nie heeltemal die punt van hierdie boek is nie, trouens die teenoorgestelde. Dis eintlik die storie van 'n herlewing wat misluk het. 'n "Revival gone wrong", soos Tim Mackie van die Bible Project daarna verwys. Nie as gevolg van slegte leierskap nie; inteendeel. Meer as gevolg van die dilemma van die menslike hart.

'n Dilemma wat nie opgehou het in Nehemia nie.

Nehemia eindig eintlik op 'n treurige noot en laat die leser met 'n onvoltooide gevoel en die vraag: "Hoekom het Nehemia nounet met my gebeur? Hoekom is hierdie boek ooit in die Bybel?"

Of is hierdie verhaal dalk 'n herinnering dat ons moet aanhou land op ons knieë en die Heilige Gees vra om ons harte te vernuwe. Sodat ons mense kan word, of uiteindelik kan wees, wat in lyn met God se wil leef. Nehemia (en Esra hand aan hand) kan aan die een kant gesien word dat hulle gereed maak vir 'n partytjie waarvan die eregas nooit opdaag nie ... of dat hulle 'n essensiële deel was van God se plan en dat die eregas, Christus, toe uiteindelik opgedaag het vir 'n ma-se-fees. Dat die Woord werklik vlees geword het. Dat die Skrif 'n lyf gekry het.

Nehemia ervaar 'n oomblik van intense pyn, diep verlange en hartseer oor die ellende van sy volk - regtig grendellam, na 70 jaar van ballingskap - en hierdie passie van hom vuur hom aan tot hoop en handeling. Om die gebied te fynkam, om planne te maak, om te bid, om oor te gaan tot daadwerklike aksie.

Nehemia se geloof bied 'n alternatiewe narratief, 'n nuwe storie, aan hierdie stad. Geloof laat ons beter dinge verbeel en hierdie verbeelde realiteit, wat oorgaan in aksie, kan die stad waarin ons bly, se storie verander.

Nehemia het nie die belofte ontvang nie. Maar dit maak hom nie minder deel van die Groot Storie, die verbondstorielyn wat God met sy mense het nie. Aksie in die hede vervul geloof in die verlede, dis 'n ongelooflike oproep vir konkrete betrokkenheid in die hoop van ons voorvaders en -moeders. Die woord het vlees geword... en word steeds vlesiger en vlesiger.

Hoe kan jy en jou gesin in hierdie tyd van "ballingskap" deel vorm van die ontvouing van hierdie verbondstorielyn wat die God van ons voorvaders ook met ons smee?

Watter droom wat jy in jou ronddra, wat aan jou borskas hamer, is groot genoeg om in te sluit en konkreet genoeg om in te stel.

Wat beweeg jou? Wat laat jou ween? Wat gee jou hoop?

Waar kan jy jou nek buig en jou hande vuil maak (by wyse van spreke)?

Dis nie so ver as wat jy dink nie, jy hoef nie te wag vir 'n stem uit die hemel nie, kyk net na Nehemia, hy's 'n voorbeeld daarvan: waar jou grootste passie - vreugde én pyn - en die wêreld se grootste honger ontmoet, dis waarna jy geroep word, dis jou roeping (Frederick Buechner) ... dis waar die woord weer en weer vlees word.


Skakel Sondag om 10:00 op Facebook of YouTube in.

bottom of page