Ek het gewonder: Waar’s die Geneesheer…want waar is die genesing?


Ons is tans besig met 'n reeks oor vrae. Vrae wat so intrinsiek deel is van ons geskapenheid. Vrae wat getuig van verwondering, van worsteling, van intimiteit met God, van twyfel (wat nie dieselfde is as ongeloof nie), van eerlik mens wees.

Jeremia is 'n profeet wat baie vrae gevra het. Hy het God nie soos 'n kelner in 'n restaurant behandel nie, om 'n analogie van Eugene Peterson te gebruik. Peterson sê baie van ons bid soos wat ons gaan eet by 'n restaurant. Jou metgesel is jyself - jou behoeftes, buie, en bekommernisse. God is net die kelner wat jou bestelling kom neem, jou kosklagtes hanteer, soms 'n groter en ander kere 'n kleiner fooitjie kry. Wanneer jy gereeld by dieselfde restaurant gaan eet, onthou jy dalk later die kelner se naam, maar dis dit. Jy kan nie jou kos kry sonder hom nie, maar hy's ook nie 'n intieme deelnemer aan jou maaltyd nie.

Jeremia het meestal met God gepraat, nie net oor Hom nie.


“Is daar geen balsem in Gilead nie?

Of is daar geen geneesheer nie?

Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?”


Jer.8:22

As mens bewus is daarvan dat Gilead ‘n plek in Israel is waar helende balsem in oorvloed geproduseer is, word Jeremia se vraag - wel, streng gesproke God se vraag - aan sy volk baie swanger en erg retories. Die leidraad lê dus voorts in die baie belangrike woordjie wat die tweede vraag inlei: of … Of is daar geen geneesheer nie? En ook op hierdie vraag het die mense die antwoord geken, want vele dokters (al het hulle sekerlik nog nie in daai tyd die Eed van Hipokrates afgelê of Zuma-jare gaan doen nie) het hul praktyke in en om Gilead bestuur as gevolg van die balsem wat vrylik beskikbaar was. Die probleem, as mens in besigheidsterme aan “vraag-en-antwoord” of "vraag-en-aanbod" dink, is dus duidelik nie aan die produksiekant of dié van die antwoord nie. Die moeilikheid lê in die vraag. Jeremia se bekommernis of frustrasie is dat Israel nie daarin kan slaag om te gebruik wat God reeds aan hulle beskikbaar gestel het nie.

Dis amper asof Jeremia wil vra: “Moet die pasiënt regtig sterf? Is daar ‘n dokter in die huis?”

“Hoe kan mense wat handel dryf in balsem so siek wees?”

“Hoe kan die mense van God, met die Wet in hul midde, soveel oortredings begaan?”

“Hoekom is die dominees se kinders altyd die stoutste? ” (mag jy dink)

“Of die skoenmakers s’n altyd kaalvoet?”

“Hoekom is die mense wie se monde Die Enigste Antwoord het, se hande dikwels so sonder idees, so los-en-vas, so dubbelsinnig?”


Wat my bring by hierdie week in ons land. Soveel beloftes, so min heling. En dan, soos met enige verhaal in die Bybel is een van die belangrikste vrae om te vra: (Soos die band "Live" sing: “Adam and Eve live down the street from me, Babilon is every town.”) Hoe ver is Gilead van Suid-Afrika, van my provinsie, my distrik, my huis?

Dit lyk nie asof al ons tegnologie, mediese wetenskap, militêre krag, wette en politiek al noemenswaardige genesing kon meebring nie. Mense leef langer, so what? Genesing gaan oor veel meer as mooi velle en lewers wat net-net nie ingee nie. Dit gaan oor heling, heel word, heelheid – van liggaam, siel en gees.


Ons gaan deur Jeremia se lens asook dié van Etty Hillesum, kyk na hierdie vraag Sondag.


Daar IS balsem. Daar is iets of Iemand wat smart en droefheid versag, wat ontbinding teëgaan, wat in jou leef. In wie jy leef, beweeg, IS.

Daar is skynbaar ook dokters. Die vraag is of hulle dit weet. Hulle kan dalk net vir ewig aanhou opkyk, iemand daarbo die skuld gee vir alle pyn op aarde of bewus word van ‘n lewende teenwoordigheid in en om hulle, leer om die balsem raak te sien en dit aan te wend en met die Groot GeneesHeer te wandel. Om ‘n plant wat ‘n welriekende hars afskei langs die pad raak te sien en dit te help transformeer tot ‘n salf.

‘n Balsem wat heelheid bring.

“We should be willing to act as a balm for all wounds” / “Men zou een pleister op vele wonde willen zijn”

Etty Hillesum


- Geskryf deur Frieda van den Heever