top of page

Stem van godsdienstigheid en vroomheid


Die reis van geloof gaan oor om vas te stel presies waarin my geloof is. ‘n Mens aanvaar vanselfsprekend as dit by godsdiens kom dat jou geloof in God is. Jesus wys jou iets anders. Godsdiens kan ook deur die ego geskaak en beheer word. Die duiwel versoek Jesus immers met die Bybel (Mat.t 4:1-11) en vir Paulus verander Satan hom in ‘n engel van die lig (2 Kor. 11:13).

Het jy al gewonder waarom Jesus gemaklik is met oneerlike mense soos Saggeus of tollenaars wat hulle eie mense ingedoen het of straatvrouens wat hy beskerm en selfs mee vriende word? En waarom die ongenaakbare aanval op godsdienstige mense wat Hy wit gepleisterde grafte en skynheiliges noem.

Soms skyn godsdiens, maar dit het niks met heiligheid te doen nie en dit is presies die stemme in godsdiens wat Jesus uitwys.

Ons gesels Sondag oor hoe ons die donker stem van godsdiens miskyk en hoe om dit raak te sien. Jesus vertel ‘n gelykenis sodat ons kan sien hoe maklik ons geloof in God ‘n gevaarlike geloof kan word: “Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel” (Luk 18: 9.)

Selfreverdiging en veroordeling.

Ongelukkig het selfregverdiging en veroordeling geen insig in die probleem wat Jesus identifiseer nie. Daar is ‘n stuk selfgesentreedheid in elke mens wat nie vinnig doodgaan nie, maar vra na ‘n kruis elke dag.

Tereg het Henri Nouwen gesê dat dit baie moeilik is om verlos te word van die verlore seun binne ons en nie die ouer broer in die storie te word nie…


- Deur Theo Geyser

bottom of page