
WAT DOEN ONS | WYSE GRYSES
Baie kulture glo dat 'n man en vrou wat slegs aan hulleself oorgelaat word 'n gevaarlike element binne enige samelewing word. Hulle het Wyse Gryses nodig om hulle te begelei na geestelike en psigiese volwassenheid.
Die leiding en hulp van die Wyse Gryse gaan oor die destabilisering van die ego of in Jesus se woorde: "...neem jou kruis op elke dag..." (Luk 9:23). Die ego speel 'n belangrike rol in ons lewe, maar is nie die volle storie van wie ons is nie! Ons het ook 'n ware self wat in God is, en uit God geskape is en wat bestaan voordat ek ontstaan het!
Geloofshelde en mense wat groter is as hierdie lewe is het almal een gemene deler: Almal het doodgegaan voordat hulle doodgegaan het. Deur die geskiedenis is die reis na die dood begelei in heilige ruimtes en seremonies wat die proses (van die sterf of laat gaan) distileer, verhelder, verkort en duidelik maak.
Elke lewensoorgang is 'n reis om te leer wat ek moet laat gaan of wat dood moet gaan sodat ek my heelheid en eenheid met God kan leef vry van 'n ego wat my altyd klein sal hou.
Hoe het Wyse Gryse ontstaan?
Met Covid 19 het ons almal meer bewus van die dood geword. Die spookvraag by die dood of in die beseringstyd van ons lewe is gewoonlik: Waarvoor het ek my lewe gegee? Die vraag is dan makliker om te antwoord, juis omdat die ego-kragte verslap het, en ons baie nader aan ons ware self is.
Navorsing toon dat een van grootste verwyte op ’n sterfbed is dat mense op hul einde wens dat hulle meer hulself was en nie wat die samelewing of ouers van hulle verwag het nie.
Die afgelope paar jaar is InVia besig om lewensoorgange beter te verstaan, en wat dit beteken om van een lewensfase na ‘n ander te beweeg. Ons is reeds 8 jaar besig met Bergskool (lewensoorgang van kind na adolessent)...