top of page

VROUERETREAT 2024

InVia se jaarlikse vroueretreat is elke keer 'n hoogtepunt. Vroue van verskillende ouderdomme en lewensfases kom bymekaar en die pragtige sinergie en ontploffing van energie wat dit meebring, is inspirerend.

Die Vroueretreat bied aan ons elkeen ’n kans om intensioneel tyd opsy te sit om werklik aandag te gee aan dit wat jou eie lewe vir jou wil sê. Om weer bestek op te neem van ons besige lewens en te luister wat die Stem van vrede onder die malle gejaag vir ons wil sê. Om tot verhaal te kom, of net 'n asem te skep. Om jou siel ruimte te gee om 'n slag haar opwagting te maak en veilig genoeg te voel om juis dit te doen.

Die naweek sal baie stiltetyd, ruskans en tyd in die natuur (soos die weer ons toelaat) insluit.

Datum: 2 - 4 Augustus 2024

Plek: Christian Brothers' Centre, Stellenbosch

Koste: R2150 wat deel (indien jy alleen wil slaap is dit R200pp ekstra)

Deposito van R1000 om jou plek te bevestig. 

Vorige stories:

"Twintig spesiale vroue was gegroet die 12de Augustus deur die mooiste reënboog. Die Vrydagmiddag was reeds soos ń goudpot met die gevoel van hoop en nuwe skoonheid na die storm… Frieda wat ń spasie vorm dat vroue mekaar kan bedien en sien, was weereens ongelooflik. Saam het ons in veilige sirkels gesit, “Darling I am here for you!” Dit was ń wonderlike refleksie van oë wat dieper as diep kyk. Daar was nuwe vrienskapsbande gebou, lekker gelag en met nuwe kennis van die lewe as vrouwees weggestap. Sondag het ons verskeie vroue gegroet soos ń matriarg, vriendinne, prinsesse, moeders, weduwees, en dogters. Frieda het ons opnuut laat kyk na Seënwense.

Seënwense vir die brawe vroue wat hulle wysheid kon deel - om ander te seën. Mag julle krag kry op julle pad. Tot volgende jaar!"

- Tanya

 

 

"Ek voel VOL na ’n onvergeetlike naweek van saamwees en deel met medevroue. Van 20 jaar oud tot in die 70’s het ons in ’n sirkel gesit en - hoe cliché’d dit ookal mag klink - ons lief en leed met mekaar gedeel. Wat ’n voorreg om oor ouderdoms- en generasiegrense heen ervarings, gedagtes, pyn en vreugde te kon deel, en nuwe vriende en lewensreisgenote te kon ontdek. Frieda het dit alles begelei met gedigte, voorlesings en musiek. Ek het omarm, beskut en veilig gevoel en was die hele tyd bewus van die heiligheid van ons bymekaarwees.

Ek is besiel en gevul en dans van voor af uitbundig met die LEWE!"

 

- Ounin

REGISTRASIES MAAK BINNEKORT OOP
bottom of page