Wat presies sê ek as ek myself liefhet?



Robert Holden wat die kursus Living as Love (waarmee heelparty mense by InVia nou weer besig is) aanbied, vertel toe sy dogtertjie drie jaar oud was, het hy haar gaan soek nadat sy al 'n paar uur buite in die tuin lê. Net lê. Toe hy haar kry, wou hy weet of daar iets fout is. Haar antwoord: "Nothing. I'm just lying here feeling beautiful." Asof sy Ps. 139 opgeëet en ingesluk het. En die eerste gedagte in sy kop was: "Is that even allowed?"


En daardie vraag kloof 'n diepgewortelde mis-verstand (want ek glo regtig dis 'n kopding) in ons oop: dat ons self-liefde moet verdien, moet hard werk daarvoor, dat dit nie verniet kom nie ... dat dit sekerlik nie toegelaat mag word om net op die gras te lê en mooi te voel nie.

My geestelike begeleier vra my altyd spottenderwys of ek al "klaar" is met Psalm 139 ... omdat sy weet dat mens nooit klaarmaak met Psalm 139 nie. Dat ek eendag (en wie weet wanneer een dag is) sal sterf en nog nie die volle omvang en dieptes van Psalm 139 ken nie.


Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my... Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!


En my siel weet dit alte goed.


My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.


Ons almal het 'n diep behoefte om te ken en geken te word en steeds liefgehê te word, om geweeg en nie te lig (en in hemelsnaam ook nie te swaar) bevind te word nie, om genoeg te wees en net nooit te veel nie, om soms net te lê (en niks DOEN) en mooi voel. Ons het net al so ver geleer leef van ons siele af dat ons dit vergeet, ons is so vervreemd van onsself dat ons werklik nêrens kan tuiskom of 'n heenkome bied vir ander mense nie."


"Your soul longs to draw you into love for yourself.

When you enter your soul's affection, the torment in your life ceases."


John O'Donohue


So wat presies sê ek as ek sê ek het myself lief? Of 'n groter vraag: durf ek dit sê? Is dit nie erg frowned upon nie? Is dit nie onbybels nie? Is dit nie arrogant en narsisties nie?


Self-liefde is nie narsisme nie, dis die teenoorgestelde. Narsisme het eintlik niks met liefde te doen nie, alhoewel dit dikwels as 'n patologie of 'n verdraaiing van self-liefde beskryf word. "It is not love unless everything is loved ..." soos iemand gesê het.


En as ons Matteus 22 - Jesus se groot gebod - reg verstaan, kan ons nie ons naaste, ander mense, liefhê as ons nie onsself liefhet nie.


Dit is, ironies genoeg, wat Liefde aan ons doen: Ware Liefde wys ons op watter maniere ons wegkruip daarvoor, watter strategieë ons inspan om skanse op te bou daarteen. Liefde stroop ons van al die maniere waarop ons wegkruip vir Liefde, vir God, vir ons Self. Ons gaan Sondag gesels oor die lewensnoodsaaklikheid van hierdie liefde wat ons so dikwels misken of misgis vir 'n bietjie self-pampering.


Self-liefde is jou geskenk aan hierdie wêreld. Ons bestemming is nie net om Liefde te vind (of eerder om onsself in Liefde te vind) nie, dis om die teenwoordigheid van Liefde in hierdie wêreld te wees, om as Liefde te leef.


Self-liefde is 'n reünie, 'n hereniging, 'n tuiskoms. En as jy welkom voel by jou eie tafel, kan jy ander mense nooi, kosgee, kuier ... jouself uitgiet (verdeel) sonder om 'n stukkie van jou ware self te verloor.


Hierdie gedig van Derek Walcott het weer hierdie week vir my diep troos en uitnodiging gebied.



Love after love



The time will come

when, with elation

you will greet yourself arriving

at your own door, in your own mirror

and each will smile at the other's welcome,

and say, sit here. Eat.

You will love again the stranger who was your self.

Give wine. Give bread.

Give back your heart

to itself, to the stranger who has loved you

all your life, whom you ignored

for another, who knows you by heart.

Take down the love letters from the bookshelf,

the photographs, the desperate notes,

peel your own image from the mirror.

Sit. Feast on your life.

Derek Walcott


- Deur Frieda van den Heever