In jou opinie, wat is die mees traumatiese ervaring?
Om iets te verloor?
Of om dit terug te vind net om te besef jy het dit vir ’n tweede keer, en hierdie keer finaal, verloor?
“There's no such thing as nothing. In every nothing, there's a something. In fact, there could be everything!” - Libba Bray, Going Bovine
Ons Westerse middelklas samelewing is behep met sekerheid.
Ons is absoluut versot op alles wat ons kan beheer, verstaan, verduidelik en voorspel.
Onsekerheid maak ons moeg. Ons vrees dit. Ons maak dit af as swakheid en die wat daaronder lei verdoem ons as sielsondaars.
Tog, deur die eeue heen in wetenskap, kuns, letterkunde en spiritualitiet merk ons die herhalende oortuiging dat die vaste begrensing van enige idee of identiteit noodwendig lei tot ’n vlakker verstaan daarvan. As jy met sekerheid en selfvertroue verklaar dat iets hier begin en daar eindig, beperk jy tog ook die invloed daarvan, en erken jy per implikasie dat dit nooit in enige ander area kan inbloei as dié jy reeds vooraf bepaal het nie.
“I know only that it is time for me to be something when I am nothing.” - Branwell Bronte
God kan nie begrens word nie.
Selfs God in menslike vorm mors met ons idee van begin en einde, van hier en daar en nêrens elders nie.
Vir alle praktiese oorwegings, leer ons baie meer van Jesus as die groot Onsekerheid, die massiewe Misterie en die absolute Onvoorspelbare, as die verstaan- en verklaarbare deel van Sy Godheid. Deur Homself te begrens in menslike vorm was slegs die voorspel tot die uiteindelike verwoesting van alle goddelike grense in die menslike gemoed.
As Hy in jou verstaan spesifiek op een plek teenwoordig is, mag dit moontlik wees dat jy ook kan verval in ’n dienooreenkomstige oortuiging dat Hy êrens elders onteenwoordig gemerk kan word. Egter, as jy binne jouself gemaklik kan raak met die idee dat Hy ook partykeer ‘nêrens’ kan wees nie, mag jy dalk ontwaak tot die verstaan dat hy meteens orals en in alles teenwoordig is.
Amper soos Neo van The Matrix, wat van ons fisiese sig verdwyn ter wille daarvan om opgelos te word in die vesels en die kode van ons bestaan.
Vanuit iets na niks. Maar dan die onteegseglike - vanuit niks na alles.
“I barely know him. I guess that is every relationship. You start with nothing and maybe end with everything.” - Adam Silvera, What If It's Us
Sodra jy Hom toelaat om van jou fisiese greep te ontsnap, los Hy Homself op, en word Hy deel van jou bestaan op ’n molukulêre vlak.
Laat God vaar. Laat God weder kom.
Kom stap saam met die Nie-niks oppad na die Alles.
Comments