top of page

Projek Ek: Skadu-weë




My vyfjarige tref baie duidelike onderskeid tussen “diere” en “plante” en “kinders” en “mense”. Reghelp voel net verkeerd. Ek dink die groot vraag, “Het die mense kinders?” wat gevra word om speelgeleenthede te peil, het iets daarmee te doen. Nietemin, hy het so paar weke terug sy eerste tand gewissel. Nie sonder drama nie. Toe hy een aand laat die los tand voel, sit hy regop in sy bed en begin sonder ‘n beat hartstogtelik te huil. Ek verstaan eers glad nie, is dit nie veronderstel om ‘n soort mylpaal te wees nie. Vra steeds hoekom al die trane. Al snikkend skreevra hy, “Beteken dit nou ek is besig om ‘n mens te word!?”


Ja, my liefkind, Mamma weet, dis nie ‘n lekker besigheid nie. 

Dis makliker om ‘n ster of ‘n doktor of ‘n ekspert of ‘n baas te word as om ‘n mens te word. Mensword is die moeilikste uitnodiging om te aanvaar. Asof God dit geweet het en besluit het Hy kan nie net maak of Hy weet nie, hy moet voel om te weet..


… om te weet hoe “om die duisternis te deurreis en ‘n spoor lig te laat” (Breyten Breytenbach) …


Ek het nou al heel week gewonder hoe ek hierdie Projek Ek opwindend, uitnodigend en darem ook teologies “korrek” kan pitch. Die een van “ek moet myself binnekom deur myself te buite te gaan” (Antjie Krog, ander konteks) en seker ook vice versa. Om my eie donkerte te bevriend voor ek werklik iemand anders se vriend kan wees. Voor ek so lief kan hê dat ek my lewe sal aflê vir my vriende. Die sielkunde is vol daarvan, veral te danke aan Jung, maar op kansels kry hierdie projek nie soveel aftrek nie. En tog het Jesus nie doekies omgedraai nie. Jesus ontbloot skaduwees, konfronteer egos en roep mense om te te transformeer: om meer mens te word. Dit wil my al lyk Jesus roep nie mense om beter of groter te wees nie, maar menser. Meer heel. Hy was ‘n meester psigo-analis. Hy het geweet dat mens nie te bowe kan kom wat jy nie ook insluit nie. 


Die Heuwels Fantasties sing dit so:


Dinge wat jy miskyk, sal in opstand kom.

Die kleinste ding wat jy miskyk, sal in opstand kom.


Sheila Cussons skryf dit so:


My vuil, my stank wil ek uit my hê.

Jaag dit nie weg nie: weg kom terug – 

Neem dit in U op, Grond van my wese;

verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.

Aarde waarin alles wat boos is vergaan,

verpulwer my fyn, verander my grondig

tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,

kan verrys met my beste in my behou,

eindelik myself, myself in U!


Hierdie is Jesus se ding: sondige mense wat dit erken. Hy is nooit omgekrap oor sondaars nie, net met mense wat voorgee dat hulle stroopsoet is en niks kan verkeerd doen nie.


Hierdie een het my hardop laat lag – nie ‘n schadenfreude-tipe lag met ‘n wysvinger in die lug nie … meer soos daai eerste lag na jy jou Enneagram-nommer ophou ontken het en jouself nou in die gesig moet staar:


Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! (Matt. 23:24)


… ek kan nie ophou lag nie – Jesus verloor nie sy humor saam met sy humeur nie.


Robert A. Johnson skryf in Owning Your Own Shadow:


To honor and accept one's own shadow is a profound spiritual discipline. 


Soveel ander beaam dat ‘n geestelike lewe jou nie vrywaar van skaduwerk nie. Meeste van hulle (side note) se name is “toevallig” Robert. Robert A. Johnson, Robert Bly, Robert Augustus Masters, nog een wie se van Robert is en dan natuurlik Robert Allen Zimmerman (verhoogmaskernaam: Bob Dylan). Ek het vanoggend in die stort snuf in die neus gekry oor al hierdie Roberts. Is hulle soos al die Thomasse wat skryf oor beelddraers van Christus en die ware en vals self omdat die naam Thomas “tweeling” beteken en die OG Thomas sy twyfel moes openbaar omdat hy genoeg geloof gehad het dat selfs dit vasgehou sal word? Sowaar. Die naam Robert beteken “helder roem”. Maak net sin: hoe nader aan die Lig, hoe meer skaduwee is daar om te sien. In elk geval … 


In die Evangelie van Thomas sê Jesus: “Hy wat alles weet, maar homself nie ken nie, weet niks.”


Dis soos ‘n mes wat net lem is. Dit sal die hand wat dit gebruik, laat bloei. Wat seker verklaar hoekom van die mees moreel veroordelende en kognitief rigiede mense verbonde is aan godsdienste groepe.  Godsdiens wat nie sy eie skadukant kan sien nie, moet dit iewers anders projek-teer en so bly mense onaangeraak in hulle selfgenoegsaamheid, rassisme, militarisme en materialisme.


Dis die krag van die skadukant. Mense gaan deur die lewe sonder om hulle donkertes te bevriend en dan noem hulle wat ookal met hulle gebeur “noodlot” of selfs die wil van God. Een van Jung se bekendste aanhalings is sekerlik: “Until you make the unconscious conscious, it will direct your life and you will call it fate.” Ek het so lag gekry toe ek ‘n (uiteraard) Amerikaanse coach se woorde oor hierdie aanhaling lees (het jy gesien hoe lekker projekteer ek nou hier): Carl Jung is the source of my current favorite spiritual mic-drop. 


Jou agterkant kan jou voorland word (Jung)


Skaduwerk het alles te doen met my geloof, of ek dit nou wil weet of nie. Dis om te glo en te aanvaar dat alles wat ‘n voorkant het, ook ‘n agterkant het.  Elke inbors het ‘n ruggraat. Alle energie – ook jou eie – vind uitdrukking in teenoorgesteldes, in polariteite. Ons elkeen bestaan uit beide donker en lig, seer en vreugde, die kapasiteit om te kan haat en te kan liefhê, vir selfsug en vrygewigheid. Heiligheid is nie stokstyf, onbuigbaar of perfek nie, maar ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan en ‘n aanvaarding van God se liefdevolle omhelsing van ons hele selwe, ons volle selwe – wat ons skaduwees insluit. Dit kom weer daarop neer dat ons net dit te bowe kan kom wat ons insluit – ons gewoontes, patrone, geite, eienskappe wat ons gedog het ons het al lankal ontgroei, of teen wil en dank, onterf om dan maar weer keer op keer met hulle koppe te stamp. Daar bly ‘n pateet en ‘n profeet in my. “I contain multitudes,” soos Walt Whitman geskryf het.


Die paradoks lê dikwels daarin opgesluit dat hoe “nader, my God, by U”, hoe meer bewus word ek van my skaduwees. Dit kan dan gepaard gaan met angs, onsekerheid, frustrasie en stres, wat my weer terugdompel in stokstywigheid en ‘n strewe na perfeksie. Stel God se liefde voor as ‘n kollig op ‘n blom … hoe helderder die lig, hoe duideliker die skaduwee. Dit hoef nie te lei tot neurose nie, maar tot nederigheid, dankbaarheid en bowenal ‘n diepsinnige begrip, medelye en liefde vir ander mense. Een waarheid wat my bybly van ek baie jonk was, is die gedagte dat mens nooit geskok sal wees oor enigiets wat enigiemand anders moontlik kan doen of sê as jy jou eie skadukant goed genoeg ken nie.


Ons word egter geleer om al ons ekstra tyd te spandeer om ons persona (masker) – dit wat ons wil hê ander mense moet sien – te poleer, terwyl ons dan onwetend net soveel tyd spandeer om ons skadu – die kant wat ons net hoop niemand sien raak nie – toe te smeer of weg te steek. Die uitdaging (nie die tipe wat tot ‘n boksgeveg lei of die slyp van tande behels nie; die oop-vraag-soort) is hoe ons daarmee kan omgaan om die ligte, lewegewende, kreatiewe potensiaal van ons skaduwees raak te sien en te integreer as deel van ons menswees. Dis helend. Dis heelmakend en dis heel-te-mal as mens jou skaduwee een keer vra vir ‘n dans of ‘n koppie tee terwyl hy/sy gewoond is om daagliks uitgedaag te word vir ‘n boksgeveg.


Hoekom moet ons ons bemoei hiermee - dit klink soos huiswerk … want dit is: dis werk wat by die huis begin. Dis ook werk omdat dit gaan beteken jy moet (dalk vir die eerste keer in jou lewe) verantwoordelikheid neem vir wie jy is en wat deur jou vloei die wêreld in – daar is nou niemand meer om te blameer nie. Jy is nou nie meer wat met jou gebeur nie, maar dit wat uitdrukking wil vind deur jou lewe. 


Pyn is ‘n pyn, ek weet, maar dis soos een van die ander Roberts skryf in sy boek, Meeting The Dragon: Ending Our Suffering By Entering Our Pain: To work effectively with our suffering, we need both to stand apart from its script (so as to more clearly bring it into focus), and to cease distancing ourselves from our pain. As we become more intimate with our pain, we find that we are less and less troubled by it, until our pain is but grace, however fierce.


Geweldige genade wat nie uiting soek in gewelddadige godsdiens nie.


The very things we wish to avoid, reject, and flee from turn out to be the "prima materia" from which all real growth comes. 

Andrew Harvey (Dialogues with a Modern Mystic)


Ons is maar almal net mense en is so geneig om die splinters in mekaar se oë sien, maar nie die balke in ons eie oë op te merk nie (Luk. 6:41). Die 1933-vertaling sê dit so reguit: “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broer se oog is, uit te haal (Luk. 6:42). Dis al wat skaduwerk is. Om dit wat weggesteek is, te openbaar (in die LIG te bring).  


Ons is dikwels geleer en byna gekondisioneer om ons skadukante weg te jaag, en in die proses is daar ‘n groot gaping in die groei wat daaruit voortgebring kon word. Onthou, ‘n groot deel van jou skadu is nie gemors nie, maar goud. Goud wat saam met (en gewoonlik onder) die gemors weggesteek of weggejaag is. Goud wat jy hierdie wêreld kan bied en waarmee God verheerlik kan word.  


Eers as ek my goud en my gemors aan God gee – Hom genoeg vertrou met al my fassette en kante – kan ek waarlik myself, myself in Hom, wees. 


Ons gaan Sondag verder gesels oor die verskil tussen die ego (die akteur in my wat sonder enige oudisie die rol gekry het) en die skaduwee. Ons sal ook prakties raak oor hoe hierdie geestelike dissipline ons kan help om meer mens te word. Hoe bring ek dit (my skaduwee) tuis?


This is a tale about how a person’s shadow lives a life of its own. Each night, when one lies down to sleep, the shadow departs, going out to explore the world it is not free to explore during the day. The shadow may become quite intrigued by the large and strange world, and be reluctant to return home at daybreak. So it is necessary for the person, early in the morning, to hum the shadow home. Each person has a song that only its shadow will recognize, and the shadow must obey the hum. If one is too busy, or too thoughtless, to hum the shadow home, the whole day will be difficult. Until the shadow comes home, the person is not whole, is not all together. It is like the person who got up on the wrong side of the bed – part of him is still missing. Humming the shadow home is necessary for harmony, for inner unity.


Mary José Hobday in Western Spirituality edited by Matthew Fox



Frieda van den Heever

Comments


bottom of page