My gedagtewêreld het 'n opstanding nodig
- inviagemeente
- May 8
- 2 min read

Hier is 'n uitnodiging tot 'n klein eksperiment. Neem 30 minute van jou dag. Vat jou selfoon, druk die opnameknoppie, en begin hardop dink. Sê alles wat deur jou gedagtes vloei. Alles.
Dan, wanneer die tyd verby is, luister daarna.
Sou jy daardie persoon volg? Die een wat so dink? Hoor jy hoe gedagtes mekaar weerspreek? Verbaas dit jou wat jy soms dink?
Verseker!
Dit maak sin dat die Nasionale Wetenskapstigting bevind het dat ons tussen 60,000 en 80,000 gedagtes per dag het. Dertig minute gee jou al genoeg materiaal om verstom te staan! Die navorsing wys ook dat sowat 80% van hierdie gedagtes negatief is, en 95% bloot 'n herhaling van vorige gedagtes. Wetenskaplikes noem hierdie herhalende gedagtepatrone "gedagtewurms." Op die MRI skanderings lyk dit glo soos wurmpies. Wanneer jy lank aan een gedagte kou, trek dit ander soortgelyke gedagtes aan - soos 'n magneet.
Hulle kronkel deur ons bewussyn en laat hul spore na.
Hoe beheer 'n mens hierdie magtige stroom van gedagtes?
Paulus se raad klink eenvoudig maar diepsinnig: "Laat God jou nuut maak deur jou denke te verander… " (Romeine 12:2). Hierin lê 'n opstandingsbelofte opgesluit. Jou gedagtes kán nuut word. Hulle kán bevry word van negatiwiteit en daardie herhalende gedagtewurmpies!
Wat het Jesus gedoen na sy opstanding? Verrassend genoeg het Hy nie kerke geplant of massabyeenkomste gehou nie. Nog minder evangelisasie groepies om die wêreld te probeer red. Hy het paar sy volgelinge stil ontmoet en vir veertig dae met hulle oor die koninkryk van God gepraat. Hulle sou goed onthou het dat Jesus hulle geleer het dat die koninkryk van God binne ons is.
Jesus se eerste oproep aan mense was "bekeer jou". Die woord wat ons as "bekeer" vertaal, is "metanoia" in Grieks, wat letterlik "groter denke" of "denke verby" beteken. Die woord "metanoia" kan dus teruggryp na hierdie oer-Christelike begrip dat om Jesus te volg, beteken om anders te begin dink.
God se plan is nie net om ons eendag hemel toe te vat nie. Hy wil hê dat ons nou al iets van die hemel moet ervaar deur die gedagtes wat Hy vir ons gee. Ware verandering gebeur wanneer ons binnekant – ons gedagtes en hart – nuut word, soos 'n opstanding wat nou reeds begin. Wanneer ons binnekant verander, verander ons dade ook. Dit gebeur natuurlik, soos 'n boom wat vrugte dra omdat dit gesond is.
"The resurrection is not just a question of one day after death,
but a lifelong journey in which we are being resurrected every day." Ronald Rolheiser
"The question is not 'How am I to find God?'
but 'How am I to let myself be found by God?'
The question is not 'How am I to know God?'
but 'How am I to let myself be known by God?'"
Henri Nouwen
- Theo Geyser