“Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome…” Psalm 42:8 (Rian Truter het my gevra om iets in hierdie moeilike tyd te skryf vir die Summit – dit het toe sommer later my preek geword!) Vir baie van ons voel die lewe nou soos fiksie – dit wat ons altyd net in flieks gesien het. Nader aan tuisbodem is Deon Meyer se briljante post-apokaliptiese roman, Koors, waar hy ‘n ongekende koronavirus-tsoenami beskryf met sentrums wat siekte probeer beheer, regerings en militêre ingrypings. Dit voel amper soos ‘n profesie! Die lyn tussen werklikheid en fiksie voel nou vir almal dun… Vir baie mense gaan die kerk ook nou soos fiksie voel. Nie net omdat ons mekaar nie fisies kan ontmoet nie, maar omdat baie clichê’s, selektiewe Bybelverse, en veral die voel-goed teologie so oneerlik voel te midde van die wêreldpandemie. Op 27 Maart reik Dr Zwelini Mkhize ‘n verklaring uit by ‘n media konferensie dat die meerderheid koronavirus gevalle in die Vrystaat besmet is by ‘n groot Chistelike byeenkoms van die Divine Restoration Ministries in Bloemfontein. Angus Buchan en Kenneth Meshoe is by die byeenkoms met die Covid-19 beset. Dit het veral pertol op die vuur gegooi van nie-christene wat hulle mes in het vir baie fundamentele Christene. (Dis moeilik om te glo dat mense hulle tyd aan so iets afstaan in hierdie moeilike tyd!) My hart gaan uit na Angus en Kenneth en ons almal ondersteun die beginsel van gebed en om nou vir genade te vra. Tog voel ek dat ons wel kan luister na mense wat buite die geloof staan wat soms baie geldige kritiek het teen hoe ons soms die boodskap van Jesus interpreteer en oordra. Een van die stemme wat by my resoneer is die kapsie wat gemaak word teen triomfantalisme. Kortweg, dit beteken dat jy alles kan regmaak en altyd sal triomfeer as jy heilig en toegewyd genoeg is op hierdie gebroke aarde. So tipe geloof kan die hemel oop of toesluit en enige siektes besweer. Dit vra slegs toegewydheid, ‘n sondelose lewe en kinderlike geloof (wat in die meeste gevalle beteken dat jy die Bybel op ‘n sekere manier moet verstaan). Vir die meeste TV-evangeliste is dit hulle grootste troefkaart en inkomste. Die meeste van ons het grootgeword met so teologie: As jy soet is hou die Here van jou en dan gaan dit goed gaan met jou, en as jy stout is hou die Here nie van jou nie en dan gaan jy gestraf word. (Toevallig was dit Jesus se probleem met die Fariseërs!) Ek het dit ook geglo toe ek ‘n jong predikant was maar kon later nie saamleef met mense wat ek niks voor te sê het in hulle diepste pyn nie. Ek voel vandag baie meer tuis aan die kant van geloof en baie ontuis met goedkoop sekerheid. Ek wil probeer om soos mense in die Bybel God ook te sien in pyn. Die mense wat die Psalms geskryf het, het geweet hoe om geloof én pyn te omhels. Ons kies eerder net die juigkrete en ekstase van die Psalms soos wat ons aanbiddingskultuur ons geleer het. Maar die Psalms besing die lief en leed, lewe en dood, vryheid en gebondenheid. Psalm 42 is ‘n gedig en lied wat probeer sinmaak in ‘n post-apokaliptiese tydperk. Israel is weggevoer in ballingskap, en leef in isolasie sonder hoop. Ps 42 was ‘n pelgrimslied wat hulle gesing oppad na die tempel toe omdat hulle geglo het dat hulle verlossing en hoop in die teenwoordigheid van God is. Dan is daar ‘n wending – die psalmis ervaar verinnerliking. Dit is waar iemand sy innerlike self na binne voor God oopmaak. Die hoop is selfs nou in die berge van Hebron (waar hulle in ballingskap is), en die dors van ‘n wildsbok word gestil. Die Jode noem God ‘Elohim Peleg’ wat lettelik beteken die “God Rivier’. Hulle het geweet dat die Rivier jou nie net in die tempel nie, maar ook in jou diepste self in ballingskap kan beweeg! Die woord gedig in Hebreeus is maskil. Maskil beteken letterlik kontemplasie en daarom vertaal die Amplified Bybel dit met reflective poem. Die seuns van Korag moes dit sing en hulle rol was ook om by die tempeldeure wag te hou. Daar is ‘n mooi beeld in hierdie refleksie wat ons kontemplasie kan noem. Kontemplasie beteken letterlik om saam met God vanuit die tempel waar Sy teenwoordigheid was, te kyk. Refleksie beteken bloot dat ek my liefde en aandag lank genoeg aan die Here gee sodat ek die strome van lewende water waarvan Hy gepraat het, kan ervaar. Dan roep en vra ons uit ‘n diep plek omdat ons nou selfs deur die water beweeg word. Ferdinandt Deist het in 1987 die mooiste werk gedoen in sy boekie, “Tussen Angs en Sekerheid” waarin hy Ps 42 gebruik en sê: “Gebed as bepeinsing kan die haat en die gruwels van die wêreld voor die liefde van God bring. Dit kan my nader aan my naaste bring. Dit kan my angs en my sekerhede voor God bring. Dit kan my uitlei tot egte medemens-wees. Dit kan my bring voor die geheim van God wanneer daar iets van die Goddelike liefdesmisterie deurskemer in myself.” Hoop gebeur wanneer die liefdesmisterie in myself deurskemer omdat ek nou saam met God na die wêreld kan kyk! Hoop roep. Hoop beweeg ons. Hoop vloei na ons ongemak. Hoop weet dat Sy verlossing kom. Hoop vloei met ‘n taal en ‘n lied. Sela! Geskryf deur Theo Geyser
top of page
bottom of page