Theo het verlede week hierdie woorde van Frederick Buechner, wat hierdie jaar op 96 oorlede is, aangehaal: “A vocation is where your deep gladness meets the world’s hunger.”
Ek gebruik dit weer as ‘n vertrekpunt op ons volgende stop of ruspunt in hierdie reeks: die woestyn.
Om iets van die wêreld se honger te begryp, te weet, te ken, moet ek ook my eie honger in die gesig staar. Die honger wêreld kan nie “gered” word deur vlak, opgestopte mense nie. T.S. Eliot beskryf dit so:
We are the hollow men
We are the stuffed men
Leaning together
Headpiece filled with straw. . . .
Those who have crossed
With direct eyes, to death’s other Kingdom
Remember us – if at all –
Not as lost violent souls, but only
As the hollow men
The stuffed men.
Die meeste mense is nie verlore of wreedaardig nie, net hol en terselfdertyd opgestop. Die woestyn, as metafoor, is die plek waar ons in aanraking kom met al die maniere hoe ons onsself volstop en nooit ‘n versadigingspunt bereik nie en terselfdertyd hol bly aan die binnekant. Albert Nolan het geskryf dat as ons Jesus wil volg, moet ons Hom bowenal en in die eerste plek in die woestyn in volg. Die reis van die woestyn in mitologie het ‘n universele patroon en dit volg gewoonlik die roeping waarby ons verlede week stilgestaan het: eers is daar afsondering (wat aan die begin nog eenvoudig en ongekompliseerd lyk), dan volg die onderonsies (waar dinge kompleks raak) en dan die terugkeer (wat gekenmerk word deur verligte oë en transformasie). Die meeste van ons hunker na diep vrede – ‘n salige stilte van die siel – maar ons sal eerder geruïneer word as om te verander, soos W.H. Auden geskryf het.
Ek weet (voor my siel) my siel is aan God verkleef, maar om te sterf aan al my illusies is ongemaklik, selfs seer. Daar’s ‘n skrif wat sê: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is.”
Daar is in die samelewing twee kragte wat teen mekaar werk, verduidelik Walter Brueggemann. Ronell Bezuidenhout vertaal dit in wonderlike toeganklike Afrikaans in haar boek Woestynwysheid: “Aan die een kant is daar’n lekkerluister-storie (‘n page turner), ‘n slapbandboek. As God aan jou kant is, sal jy (om die grillerige uitdrukking te gebruik) uit jou sokkies geseën word. Dis ‘n blitsverkoper omdat dit ons vertel dat ons die beste verdien en dus elke jaar die goed wat ek laas jaar gekoop het, mag vervang. Hierdie storie se rolmodelle is dié wat suksesvol, dinamies, ryk en daarom bekend is. Dit is selfs die storie wat in baie kerke vertel word: God kies kant, óns s’n natuurlik. Omdat die storie so baie vertel word, begin ons ons lewe volgens die beginsels van dié storie leef.
Maar daar is ‘n ander storie ook. Dis nie so gewild nie en dit word nie so lekker oorvertel soos die ander een nie. As jy in ‘n mooi huis bly, ‘n vol klerekas het, gemaklik jou seevansie elke jaar hou, dan klink ‘n storie wat jou uitnooi om so bietjie aan die “ander kant van die draad” te gaan loer nie na ‘n #1 op die trefferlys nie. Hierdie minder gewilde storie gaan nie oor meer en beter nie, inteendeel, dit oor broosheid en deernis. Dit gaan nie oor sekuriteit nie, dit gaan oor weerloosheid. Nie oor selfverryking nie, maar oor medemenslikheid. Min mense wil hierdie storie se punch line glo:
In each one of you there is a hidden being, still in the deep sleep of childhood. Bring it to life! In each one of you there is a call, a will, an impulse of nature, an impulse toward the future, the new, the higher. Let it mature, let it resound, nurture it! Your future is not this or that; it is not money or power, it is not wisdom or success at your trade — your future, your hard dangerous path is this: to mature and to find God in yourselves.
- Hermann Hesse
Die woestyn, of jy nou daarin getrek of gestoot word deur die lewe, is die plek waar ons dit ontdek. Daar is niks om agter of onder of in of op weg te kruip nie, dis hoekom ons daar gevind kan word.
- Deur Frieda van den Heever