top of page

einde van die wêreld?



"Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn." Ef 5: 14-16


Gedurende hierdie tyd van isolasie het 'n paar mense my gevra of ek dink dat dit nou die einde van die wêreld is. Ek is seker jy het ook boodskappies van Amerikaanse evangeliste gekry dat dit die einde van die wêreld is. Die gedagte het ook al by my opgekom, maar nie vir 'n Bybelse rede nie, maar eerder omdat ek gedink het aan al apokaliptiese literatuur en flieks wat ek al gesien het.


Die idee oor die einde van die wêreld sal enige persoon se verbeelding aangryp.


Wanneer dit swaar gaan moet ons een of ander vertroosting kry wat dit beter maak. Hierdie vrees en teologiese verstaan is nie nuut nie. Dit is so oud soos 50 jaar n.C. Die gemeente van Thessalonika het geglo dat Jesus gaan binnekort terugkom aarde toe. Hulle het so sterk daaroor gevoel dat hulle opgehou werk het en net gewag het vir die wederkoms. Paulus se raad is dan: "Wie nie wil werk nie, moenie eet nie." (2 Thes 3:10)


Hierdie spekulasie in Christelike kringe het sy ontstaan aan die woorde van Jesus toe hy opgevaar het hemel toe, en belowe het dat hy weer gaan terugkom en die koninkryk van God herstel. Onthou dat Jesus ook in Johannes belowe dat van sy dissipels nie dood sal gaan nie voordat hulle ook die koninkryk van God sal sien. Daarom het hulle geglo Jesus gaan in hulle leeftyd weer terugkom. Hierdie verstaan het dan al die verskillende apokaliptiese vrae na vore gebring: Wanneer gaan die wêreld eindig? Wat is die tekens van die tye? Gaan daar aardbewings wees? ens. Hulle het gevoel dat die beste manier is om bewustelik te leef, nugter te wees en voorbereid te wees op Sy koms. Dit het egter nie gebeur nie en daar het 'n nuwe verstaan gekom (reeds met die skrywe van Johannes, 70 jaar n.C.) dat die koninkryk van God kom eerder nou, deur sy Gees, en dat ons nog steeds bewustelik, nugter en waaksaam moet leef.


Hierdie is presies ook ons uitdaging.


Ons groot besorgdheid moet nie wees of die wêreld gaan eindig nie. Die groter uitnodiging is eerder hoe ons 1 Kor 13 kan leef? Hoe sal 'n wêreld lyk waar ons prestasies, geloof wat berge skuif, of tale van engele ondergeskik is aan die liefde? Hoe versoen God die aaklige paradokse in hierdie gebroke wêreld deur Sy liefde? Wat sal dit beteken om met liefde die diepste vreugde met mekaar op hierdie gebroke aarde te ervaar?


Jesus se woorde "waak en bid" kan ons help.


Die woorde is gesê in die konteks waar die dissipels nie fisies meer wakker kon bly om saam met Jesus te bid nie. Wanneer ons fisiese  postuur begin verkrummel, dan is ons nie meer wakker nie. Ons word passief, lui en onaktief. Moegheid, depressie, vreesagtigheid en spanning veroorsaak dat die alarm van ons lewe afgeskakel word. Ons verloor dan ons gevoel vir mense en dinge.


Jou laaste besorgdheid behoort nie die einde van die wêreld te wees nie! Jy gaan in elke geval doodgaan. Wees meer besorg oor die (gemoeds)toestand waarin die dood jou kry. Wakker, sensitief, nugter en hoopvol of reeds dood? Die ergste dood wat daar is, is om dood te gaan met al die klein, niksseggende of nie-lewegewende mikro-gedagtes waarmee ons elke dag leef! Dit is eerder nou die tyd vir bekering. Bekering beteken groot of makro-gedagtes.


Die goeie nuus van Jesus is dat 'n geestelike ontwaking beteken eerstens die einde van my klein, interne wêreldjie maar ook die geboorte van 'n hoopvolle wêreld wat geloof, hoop en liefde ken.


"Ontwaak jy wat slaap en Christus sal oor jou skyn!" (Ef 5: 14-16)


Geloofsgewoonte vir die dag


Dink oor jou eie dood. Neem 'n tyd, verkieslik as dit al donker is en visualiseer jou eie dood. Nooi die Here uit om teenwoordig te wees. Probeer naby aan jou gevoelens te kom, en bly by jou gevoelens. Bly vir 'n paar minute in daardie bewustheid. Wees oop vir enige gewaarwordinge wat die Here nou bring oor jou lewe.


Vir gesinne:


Bring asb gemoedsrus dat dit nie die einde van die wêreld is nie. Gesels oor die positiewe goed wat ook nou gebeur te midde van die dood wat regoor die wêreld plaasvind, bv. die aarde wat rus en herstel, baie tydsaam spandeer as familie, geleentheid om ander mense se help ens. 


Met ouer kinders, gesels oor dinge wat gevaarliker is as die dood. Hoe wil ek elke dag leef? Laat die klem val op hoe belangrik dit is om nou ten volle te leef, en dat ons met elke asemteug eintlik nader aan ons dood beweeg. Maar dood is nie die einde nie - dis net deel van ons reis. 


Herhaalgebed


Here, maak my wakker!



Geskryf deur Theo Geyser


bottom of page