top of page

Die stem van selfbedrog



“Every one of us is shadowed by an illusory person: a false self. This is the man [or woman] that I want myself to be but who cannot exist, because God does not know anything about him [or her]. And to be unknown of God is altogether too much privacy.”

Thomas Merton


Jesus het gesê die koninkryk van God is in ons. Máááár – of én – daar is ook ander dinge in ons. Die sig én die sug. Die profeet én die pateet. Solank ons die een ontken, kan die ander nie ten volle geken word nie. Dis nou maar een ding van hierdie lewe wat ek al agtergekom het: ek kan eenvoudig nie te bowe kom wat ek nie insluit nie. Ons moet ons illusies vol in die gesig staar sodat dit omskep kan word in die waarheid, of kan verdamp dat ons die koninkryk beter kan sien. As ons dit probeer geheim hou (bedek), sal dit ons versmoor. As ons dit wegjaag (bestraf), sal dit terugkom …


My vuil, my stank wil ek uit my hê.

Jaag dit nie weg nie: weg kom terug –

Neem dit in U op, Grond van my wese;

verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.

Aarde waarin alles wat boos is vergaan,

verpulwer my fyn, verander my grondig

tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,

kan verrys met my beste in my behou,

eindelik myself, myself in U!


- Sheila Cussons


Ons gaan oor die volgende paar weke aandag gee aan die stemme in ons wat ons dikwels van koers af stuur, maar ook kan dien tot ‘n wonderlike diskoers om ons opnuut tot God te laat nader. Hierdie stemme, wat dikwels voel of dit ons in twee sny, is meestal rigtingwysers na heling. Die gesplete self is ‘n wonderlike geleentheid vir héél word, of om jou heelheid in God weer te ontdek.

James Hillman, wat geskryf het oor verlange of hunkering as ‘n onontbeerlike aktiwiteit van die siel, het ook op ‘n keer gesê, “A symptom suffers most when it doesn’t know where it belongs.” Dit eggo Richard Rohr se woorde: “Not everything van be fixed or cured, but it should be named properly.” Die probleem is nie dat ons probleme (of simptome) het nie; die moeilikheid is dat die simptome meestal onaangeraak of “ongewerk” of onverwerk bly. Metamorfose – in sig self ‘n wonderwerk – kan ongelukkig nie plaasvind sonder deelname nie. En dis ons grootste ambag: hierdie werk.


Selfbedrog en alles wat daarmee gepaard gaan soos grootheidswaan en selfbelang en die illusie van ‘n eiewetlike (aparte) self is ‘n harde stem. In elke liewe een van ons, soos Thomas Merton tereg uitwys. Maar wat ons sonde noem is in der waarheid simptome van die illusie dat ons geskei (apart) is van God. Tog val meeste mense die simptoom aan en nie die oorsaak nie. Die uitnodiging is om dit as ‘n geleentheid – ‘n deurgang – eerder as ‘n probleem – die voorstoep van die hel – te beskou. Om dit nie te sien as ‘n persoonlikheidsdefek nie, maar die siel wat sy andersheid – die Ander – probeer vind. Narsisme is nie soseer ‘n eenvoudige blik op ego nie, maar ‘n manifestasie van die hunkering na ‘n paradoksale sin van self, een wat die ego en die nie-ego insluit. Dit mag jou dalk vir ‘n oomblik skok, maar selfs hierdie stem – my eie narsisme – is iets om voor dankbaar te wees ás ás ás ek dit kan herken en in die oë kyk en nie wegskram nie. Dit bevat die saad van selfaanvaarding en helaas, ‘n liefdevolle verbintenis met God en die wêreld om jou. Jou Ware Self is reeds tuis by die huis. Om dit te weet, is om “gered” te wees.


Mag ons harde koppe en stywe knieë die boodskap ontvang!



Die Ambag


Van God durf ek skaars praat: ek ken hom min,

al ken hy my tot in die laaste sel

en laaste selfbedrog; ek roer 'n vin

deur goue waterwortels, moer en bel,

en sien die buiteglans maar ken dit nie.

Min moet my woorde oor dié dinge wees

- ek, hard van helderheid en styf van knie -

maar ánder woorde durf ek tog laat lees:

dat, van die dinge wat die mens bedink,

ons smet se krag, ons wankele bestaan

die swaarste hoeke afgrond toe laat sink,

en, buite wete, weet ek: daarvandaan

trek ons iets op wat ryk is soos die sin

van daardie woord van God in die Begin.


N.P. van Wyk Louw



- Deur Frieda van den Heever


bottom of page