Dink aan ’n klein kindjie wat dwelms gevoer word. Soos die dwelm die kind se liggaam binnegaan, word die kind verslaaf en van daardie oomblik af skreeu sy hele wese uit na die dwelm. Om sonder die dwelm te wees is so ondraaglik dat dit meer wenslik voel om dood te gaan.
Ondenkbaar, né? Wie sal nou so iets aan ’n kind doen? ’n Kind wat nog nie kan kies nie.
Erger nog: ’n baba word dwelms gevoer in die baarmoeder of kry dit met moedersmelk in…
Nou dit is presies wat die samelewing met jou gedoen het toe jy ’n kind was. Die soliede, voedsame kos van die lewe - werk en speel en die geselskap van mense en die plesiere wat die sintuie uit die lewe put - was nie genoeg nie. Jy moes ’n paar dwelms proe: Aanvaarding, Waardering, Aandag, Sekuriteit, Sukses, Prestige, Mag. En toe een of meer van hulle jou eers in sy kloue het, het jy verslaaf geraak daaraan en die verlies daarvan begin vrees. Jy’t angs begin beleef by die gedagte aan mislukking, of foute, of die kritiek van ander. So het jy dodelik afhanklik geraak van mense en dinge en jou vryheid verloor. Jy het ander mense en dinge en situasies begin vra wat jou naam is. In so ’n mate dat jy self nie meer weet nie. Soos 'n regte egte junkie. Die identiteitskrisis. Op 'n permanente basis. Wie is jy?
Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”
En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? (Gen. 3)
As InVia, probeer ons die drie vrae nl. Waar is jy? Wie is jy? Hoe is jy? (How are you?) antwoord, of eerder, op ’n ander manier verwoord deur te sê: Op pad in Heelheid met ander.
Die verlange om heel te wees, die behoefte aan ’n onverbrokkelde lewe, is seker die diepste geestelike versugting wat ons elkeen het. As ons herroep dat diabolos beteken “to throw apart” en religio “to rebind”, dan is dit steeds die kerk se belangrikste funksie. Of miskien is dit meer juis om te sê die kerk is die manier hoe daardie behoefte gemeenskaplik uiting vind. Die ou woord “heil” druk presies hierdie heelwees, die nie-verbrokkeld-wees, die ongekneus wees uit. En selfs ons kneusplekke roep uit na heelheid. Na ons Huis. Hierdie verlange na ’n tuiskoms, die siel se diepste verlange na God, is die nie-geprivatiseerde formulering van dieselfde wens om heel te wees. “Salig is hy wat heimwee het, want hy sal tuiskom.” (Jung - Stilling)
NP van Wyk Louw probeer woorde gee aan hierdie universele, diep menslike verlange na naaktheid, sonder wegkruip, in eenvoud - voor God, myself en ander:
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Daar waar ek uiteindelik ‘n onverdeelde – ‘n HEEL lewe – kan lei. Is dit wat Paulus bedoel? “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Die afstand al hoe kleiner tussen dit wat regtig diep in my lê en dit wat ek sê en wat ek wil hê. Miskien is dit integriteit (Van integer of integral wat beteken heel, kompleet, of selfs meer akkuraat: in sy onbeskadigde, onvervalsde, onverminderde, suiwer, egte, waaragtige, opregte vorm.) Nie eerstens een of ander morele kode wat ge”crack” moet word of status wat verkry moet word om die hiernamaals te verdien nie. Heelheid het niks te doen met perfeksie nie. Dit beteken juis om gebrokenheid te omhels as ’n integrale deel van die lewe.
“At the center of our being is a point of nothingness which is untouched by sin and by illusion, a point of pure truth, a point or spark which belongs entirely to God, which is never at our disposal, from which God disposes of our lives, which is inaccessible to the fantasies of our own mind or the brutalities of our own will. This little point of nothingness and of absolute poverty is the pure glory of God in us. It is so to speak His name written in us, as our poverty, as our indigence, as our dependence, as our sonship. It is like a pure diamond, blazing with the invisible light of heaven. It is in everybody, and if we could see it we would see these billions of points of light coming together in the face and blaze of a sun that would make all the darkness and cruelty of life vanish completely ... I have no program for this seeing. It is only given. But the gate of heaven is every-where.”
Thomas Merton