
LENT & ADVENT
By InVia vier ons Lent en Advent as deel van die ryke tradisies van ons globale kerkkalender.
Lent / Die Vaste:
Vierings van Die Vaste begin op Aswoensdag en duur tot en met Palmsondag wat 40 weeksdae insluit. Dit word tradisioneel verbind met die gebruike van vas en onthouding, en huldig die 40 dae wat Christus in die wildernis / woestyn deurgebring het. Ons, as deel van ‘n oorgestimuleerde samelewing en kultuur, ondervind hoe hierdie gebruik ons werklik sagkens uitdaag om te laat gaan van die verganklike, ons verknogthede vol in die gesig te staar en weer die regtige dinge in die lewe te ervaar – die Vaste.
Ons het elke jaar ‘n handleiding vir die 40 dae wat fokus op die gebruik van stilte as geloofspraktyk en die kragtige effek wat dit kan hê op die moelike proses van oorgawe en onthouding. Dis veral inspirerend en onderskragend om hierdie tradisie saam as vriende, gemeenskap en gelowiges te ontdek.
Die afgelope paar jaar het InVia deel geword van die Woordfees waarbinne ons sinvolle dialoë probeer voer rondom relevante temas binne die gemeente of waarmee ons gedurende Lent reis.
Advent:
Waar die meeste van ons in Suid-Afrika die jaar afsluit (en afwas) by die see, word Advent wat strek tot Kersdag en die vier voorafgaande Sondae insluit, tradisioneel beskou as die begin van die kerkjaar. Advent kom van die Latynse woord adventus (aankoms). Die Kerk dwarsoor die wêreld herdenk daarmee die koms of tweede koms van Christus. By InVia wil ons in hierdie tyd, te midde al die feestelikhede, familietye en wegkomkanse ook die realiteite van die wêreld om en in ons sien. ‘n Regte wêreld met regte pyn waarvoor Christus regtig gekom het en ons regtig nie ‘n dowe oor (of een wat net Jingle Bells hoor) kan draai nie.