Aan die einde van 2008 het 'n klomp vriende bymekaar gekom in Wandel Str. 9, Gardens om te gesels oor kerkwees. Twee goed was duidelik: Aan die een kant het almal 'n passievolle geloof in mense — wat kerk genoem word — en dat mense met die regte drome, vir die regte redes in die regte tyd 'n groot verskil kan maak in die wêreld waarbinne hulle leef. Aan die ander kant was daar ook 'n diep besorgheid oor die kerk as institusie waar mense eerder geloof verloor. 'n Droom is gebore om 'n plek te word waar mense na woorde en beelde kan soek van wat dit beteken om kerk te wees. Hieruit is die naam InVia gebore. Dit beteken: Oppad wees.
Hierdie droom het 'n klomp InVia–ers in woorde probeer sit. Dit het gelei tot die geboorte van InVia se manifesto. Die manifesto is nie 'n statiese dokument of belydenisgeskrif wat in beton gegiet is nie. Dit is eerder ook 'n stuk twyfel en begeerte om te streef na dit wat ons graag wil word. Soos wat die pad geloop word sal die manifesto duideliker en beter verwoord kan word.
Net soos wat die storie in die boek Handelinge nie oor die storie van die kerk gaan nie, maar eerder oor die storie van God, hoop ons dat InVia se storie ook die storie van God sal wees.
Oppad wees beteken om êrens heen te gaan.
Dalk soos Abraham wat trek sonder om te weet waarheen hy gaan.
Wat eerder met 'n kompas as 'n padkaart leef.
Waar die onbekende die beloftes van geloof en hoop word.
InVia Manifesto
Die pad kom deur eeue heen. Hier dink ons diep na oor wie ons is en waaroor die lewe gaan.
Hier vind ons sin.
Hier ontdek ons wat dit beteken om saam met Jesus te leef
en...
...proe ons dit waarna ons dors.
Die soeke na en die afdwaal van hierdie pad...
...som mense deur die eeue se verhaal op.
Weg van dié pad loop ander paaie, paaie waar mense hulself
verloor met geld,
goed en godsdiens. Op daardie paaie kry ons seer en raak ons
mank.
InVia beteken om oppad te wees.
Ons sien alles en almal om ons deur ons eie gebreek-wees en
daarom soek ons
saam na die pad van een-word met:
Die pad sal altyd oppad wees, 'n reis en nie 'n plek waarby ons aankom nie.
'n Uittog eerder as 'n aankoms.
Dit is bedoel vir mense wat soek en nie mense wat settle
nie.
Vir brawe praters en roekelose doeners en nie net getroue
troosters
of 'n bevoorregte binnekring nie.
Op dié pad is die binnekring ook die buitekring, en elke einde 'n nuwe begin.
Erens het Iemand gekom en gesê dat Hy nie net die pad ken
nie,
maar dat Hy die pad Is.
InVia glo dat híérdie pad die duidelikste in Jesus gesien kan word.
InVia loop ook die pad met ons hele menswees.
Denke wat hul drakrag oorskat, word soos afgode.
Wanneer die ware meer waar gemaak word as wat dit is, dan word die
pad
kamma-waarheid.
Drome, gesigte en stories wys ook die pad.
Die pad word nie net uitmekaar gehaal en oordink nie, maar word
ook liefgehê,
want dit is die beste manier vir lewens om te groei.
Die pad deur die hart erken die geheim wat in elk van ons
opgesluit is waarbinne
ons ons eie unieke — deur God gegewe — aanmekaarsit kan uitleef.
Dit gaan nie
soseer oor die mens wat ken nie, maar eerder om geken te word deur
Iemand. Net
soos wat babas deur moeders vasgehou word en nie hul moeders regtig
kan
verstaan nie, maar wel ervaar dat hul geken word.
Die verstaan van onsself word nie net aangeleer nie.
Dit is soms ook die afleer van alles wat nie 'ek' is nie.
Ons verstaan van God is dikwels iets anders as wie God regtig
is.
InVia wil daarom ook in ons verstaan van God erken dat ons nog op
pad is.
Ons aanbid nie ons eie idee van God nie, maar die God wat ons
idees gee.
Hoe ek glo is net so belangrik as wat ek glo.
Alles in ons moet die taal van geloof leer ken.
Daarom wil ons by InVia die pad saam met God loop.
Ons strewe om aan die een kant die wonder van die verrassende,
vrye paaie van
die Gees te beleef — fluisterende winde wat kom van en gaan na
plekke wat
niemand ken nie. Aan die ander kant omarm ons die rustige ritmes
van orde, ritme
en oor-en-oor doen — duidelike, vaste, eeue-oue spore.
InVia strewe ons om wat KOM met wat WAS te omhels. Dit beteken
dat paaie
waarvan ons al vergeet het, weer geloop kan word. In die gisters lê
die môres.
Ons wil leer uit die skatte van die verlede en hoop op gawes van die toekoms.
Ware verandering vind plaas wanneer ons doen wat ons glo.
InVia loop stroom-op na die lewe.
InVia wil deel met die regte seer van leef in 'n "land" wat nie my
eie is nie.
Die vreemdheid van op soek wees na 'n eie plek in 'n wêreld in die
skadu van 'n
kerk-empire wat geval het.
Ons wil waak daarteen om nie net weer te raak waarteen ons
reageer nie. Ons wil nie in
ons anders-wees net weer mense verstaaf nie. Ons wil 'n plek wees
waar bevrydes nie
weer slawe sal word nie. Waar mense nie in die naam van god mag en
voorspoed aanbid
en net vra wat daarin vir hulle is nie. InVia loop stroom — op —
altyd weg van die empire.
InVia loop die pad van liefde, vrede en regverdigheid.
Die pad sluit in.
Dit is nie net saam met mense nie, maar ook vir mense.
Ons wil leef vir die vrymaak van mense en besef dat mense nie net
slagoffers van hul eie
seer en swak keuses is nie, maar ook van groter foute en boosheid
in die sisteem.
Daarom wil ons ons beywer dat die vryheid ook sal uitkring na die
besighede en
instansies van ons tyd. InVia kan daarom nie in stilte 'ontvang'
nie, maar wil 'n stem wees
wat uitroep teen die uitbuit en uitsluit van mense.
Liefde en vrede is 'n lugspeëling as daar nie reg geskied nie.
InVia loop die pad met die grond tussen ons tone. Die aarde moet
weer rus anders sal
ons kinders nie hier kan woon nie. Die wêreld IS ons woning. Ons is
nie net op pad
hemel toe nie maar ook terug aarde toe. Gelowig-wees is mens-wees
en mens-wees is
rou en eg en aards. Daarom sal InVia lig loop op die aarde en haar
minder opgebruik.
Ons sal op soek wees na eenvoud sodat wat God geskep het, weer kan blom.
InVia loop stadiger.
God se tyd is kom nie in spoedpakkies nie en jaag nie gespanne
na meer nie.
Die kortpad is die langpad en die langpad is die kortpad. Kitskos,
kits-antwoorde en
kits-geloof is die las van ons tyd.
Binne stadige etes, lang gesprekke en lui kuiers word tyd heilig en ewig.
Comment
© 2012 Created by Theo Geyser.
You need to be a member of InVia | Kaapstad Gemeente | Theo Geyser to add comments!
Join InVia | Kaapstad Gemeente | Theo Geyser