Ontstaan
Waarom nog ‘n kerk in Kaapstad? Dit is die vraag wat ek ook gewoonlik in Stellenbosch vra as ek sien kerke kom en gaan in ons mooie dorp. Kerke skiet soos paddastoele in Kaaptad op! Elke moontlike skoolsaal en ruimte word reeds deur kerke beset. InVia het die 29 ste Maart begin — saam met twee ander kerke wat ook op dieselfde dag geplant is. Dalk is die aantal kerke wat in die laaste paar maande opgeskiet het ‘n aanduiding van ‘n behoefte wat daar in die stad is.
Gesien in die lig van hoeveel mense in Kaapstad nie kerk toe gaan nie, kan ‘n mens met veiligheid sê daar behoort nog meer kerke in Kaapstad te wees. Dit is hier waar InVia ‘n rol wil speel. Die afgelope paar jaar het baie Stellenbosch Gemeente lidmate na Kaapstad verhuis. Dit het so vroeg as 2002 begin toe Gert Kruger Stellenbosch Gemeente genader het met die oog op ‘n gemeentestigting. Baie studente wat afstudeer het by US vestig hulle in Kaapstad. Sommige van hulle het gemeentes gevind waar hulle gelukkig is, maar daar is ook baie ander wat nie ‘n tuiste kon vind nie. Een van die groot redes was dat daar nie kerke bestaan waarheen hulle hulle vriende wat nog met geloofskwessies sukkel, kan bring nie. Ons het periodiek die versoeke gekry om ‘n gemeente daar te begin. Stellenbosch Gemeente worstel juis reeds vir jare met die uitdaging om kerk te probeer wees soos wat ons dit in Jesus sien: Inklusief waar priester en prostituut dieselfde genade ontvang — waar die hoop vir die wêreld ‘n werklikheid in die hier en nou word.
Baie lidmate het ook gereeld deurgery van Kaapstad om dienste in Stellenbosch by te woon. Na gesprekke van 4 jaar met die RVO (Raad van Ouderinge) het Stellenbosch Gemeente my afgevaardig om ‘n gemeenteplanting in Kaapstad te begin. Die proses het vinnig afgeskop aangesien daar ‘n leierskapspan was wat baie ervaring en kundigheid in Stellenbosch Gemeente en ander plekke opgedoen het. Drie van die persone het as RVO-lede in Stellenbosch Gemeente gedien.
Die gemeenteplanting sien ek meer as gemeente-eksperimentering waarbinne InVia gaan soek na woorde en maniere om ‘n gemeente vir die nou en die toekoms te wees. Met toekoms bedoel ek bloot ‘n kerk waarin ons kinders en ‘n nuwe generasie sal floreer en Jesus passievol volg. Ek glo dit beteken meer as nuwe jeugprogramme of om ruimte vir ‘n jeugbediening binne ‘n bestaande gemeente te maak. Die meeste kerke word vandag gelei deur ‘n baie ouer generasie (vandaar die woord ouderling) wat ruimte maak vir ‘n jonger generasie. InVia wonder hoe ‘n kerk sal lyk wat deur jongmense en ouer mense gelei word…? Hoe sal dit lyk waar oud en jonk rondom dieselfde magstafel bid?
InVia beteken op pad, en dit sal hopelik altyd so wees — om binne die kultuur en tyd van die dag iets van die werkinge van die Gees te probeer verstaan. Hier gaan dit nie oor klonering van die moedergemeente of die uitbreiding van gemeentemag nie. InVia staan op eie voet — geroep en saam gestuur binne sy eie kultuur en teologie soos wat die InVia’ers dit binne diep verhoudings probeer verwoord.
Kerke sukkel en die meeste sukkel om net te oorleef. Hierdie tendens gaan nie sommer beter word nie. Stuart Murray skryf in sy boek Post-Christendom: Church and Mission in a Strange New World: “…the Methodist Church will have zero membership by 2037, the Chruch of Scotland will close its last congregation in 2033 and the Church of Wales will be unsustainable by 2020…” Kerk, soos wat die Weste dit propageer deur die mikrofone van fundamentalisme is besig om ‘n kortstondige oplewing te maak, maar sal ongelukkig binnekort binne ‘n postmoderne samelewing totaal irrelevant word. Duisende draai hulle rug op ‘n fundamentalistiese Jesus. Die hartseer van fundamentalisme is dat dit in tye van onsekerheid stapelvoedsel word. Mense gryp dan na wit en swart. InVia hoop om binne die grys die wit en swart te soek. InVia wil die pad loop buite die voetspore van fundamentalsime.
InVia plant nie kerk omdat ons glo ons het DIE WAARHEID nie — en nog minder dat die wêreld met ONS WAARHEID gered moet word nie. Daar is reeds 33,830 verskillende Christelike denominasies in die wêreld — almal beroep hulle op waarheid! Ons is eerder oppad met en na waarheid. Kerke verdedig hulleself vanuit die bastions van waarheid — en ander kerke moet dan vernietig word met vurige koeëls van waarheid. Dit is seker waarom Karl Barth gesê het: “I hold the truth lightly.” InVia wil ook ‘n tuiste word vir hulle wat ontnugter is met waarheid. Ons wil saam met ander optel wat die kerke uitspoeg. Daar is baie mense wat buite die kerk soek — in Prof Len Sweet se woorde: “High on God and low on church” — ek hoop dat sulke persone tuis sal voel binne InVia.
Ek het geen twyfel dat die planting ook iets te doen het met my eie modering en DNS. Ek is entrepeneur, skepper en pelgrim. My broer maan my gereeld met sy wysheid: “Ek weet nie of jy die gawe van geloof of die gawe van onkunde het nie.” Ek het al berus by my eie tekortkominge, passies en gawes. My seën is ook my vloek. Ek sukkel baie om die wil van die Here en my eie passies te lees. Hier volg ek my hart baie meer as my kop.
Dan ten slotte: Ons is in Kaapstad omdat ons dink dit is die mooiste plek op aarde. Ons hoop om ‘n positiewe rol te speel waar die geskiedenis en kultuur bewaar sal bly vir die geslagte wat kom.
