by admin on October 20, 2009
Ek het vanoggend 5:30 ‘n sms gekry: Oom Preiss Carinus is nou net oorlede. Ek het gereed gemaak en na Oom Preiss se plaas, De Goede Hoop, net buite Stellenbosch gery. Hulle was besig om Oom Preiss in die ambulans te laai. Oom Preiss is in sy slaap dood. Die familie het vir ‘n paar uur rondom die bed saam met Oom Preiss gesit nadat hy gesterf het. Seker net soos in die oudae. Dood was iets natuurliks. Mense het rondom die lyk gehuil, gegroet en totsiens gesê.
Niemand weet waarvan Oom Preiss dood is nie. Hy het stil gegaan. Tannie Renè, sy vrou, het gesê dat dit is hoe hy wou gaan. Hy was 78 jaar oud. Ek het die Carinusse ontmoet in 1999. Daar was bitter min lidmate op die register en met min moeite kon ek maklik by lidmate uitkom. Ek het gehoor Oom Preiss is gerug. Die Carinusse is bekend op Stellenbosch en ook die wynbedryf. Oom Preiss is self ‘n wynboer. Dit was nie maklik binne die AGS nie. Oom Preiss het as kerkraadslid die Here probeer dien as wynboer. Op ‘n dag verskyn hy op die voorblad van die Distrikspos met ‘n glasie wyn in die hand. Oom Preiss bots toe met die ferme tug van die AGS. Hy het die onvergeeflike kerkraadslidsonde gepleeg: Hy het wyn gedrink. Hy is van sy amp onthef. Nadat ek die storie gehoor het wou ek baie graag Oom Preiss ontmoet het.
Dit was ‘n wintersmiddag met die mooie son en wolke wat oor die berge hang. Ek is ontvang met wyn en neute. Ek kon dit nie glo nie – na 10 jaar se bediening in Gauteng het niemand my nog wyn op huisbesoek aangebied nie. Dit 14h00 in die middag. Ek het soort van skuldig gevoel. Van wyn het ek nie veel geweet nie – behalwe dat ek geweet het: Hier op Stellenbosch gaan dit nog lekker raak… Ek onthou die sitkamer en plaashuis met die ongelooflike mooi berge. Die een kosyn na die badkamer is baie laag – die dag stamp ek my kop teen die kosyn. Ek kon nie onderskei of dit die wyn of kosyn is wat my kop laat draai het. Dit was ‘n lekker kuier. Jy weet wanneer jy met mense connect. Hulle aards en eg mens.
Vandag was hartseer. Dieselfde plaas. Met dieselfde betowerende berge. Die mooiste son en mis wat hang. Ek het weer my kop teen die kosyn gestamp – op ‘n kol het ek gedink nou is ek saam met Oom Preiss! Alles dieselfde maar niks dieselfde. Oom Preiss is dood. Dit maak die berge anders. Die son skyn ook met donker. Ek het Sondag vir ‘n paar minute met Oom Preiss na kerk gesels. Hy wou alles van Lucca weet. Hy het my verseker dat hy en Tannie Renè bid elke aan vir my en Wilma. Ons het gegroet net soos elke Sondag maar met een verskil: Dit is my laaste woorde met Oom Preiss…
Vandag is ek hartseer. Ek sal Oom Preiss mis.
Ek wonder die heeldag wou sou ek anders vir Oom Preiss gesê het as ek geweet het dat dit die laaste keer in my lewe is wat ek die voorreg het om iets vir hom iets te sê…
by admin on September 24, 2009
Een oggend was daar moeilikheid by die kerk. Gelukkig was ek vroeg daar. Jan, een van die oudste lidmate van die kerk, was betrokke in ‘n skermutseling met ‘n broer. Ons almal ken vir Jan. Hy is vredeliewend, verkoop elke dag sy heuning in die dorp en sal niemand skade aandoen nie. Ek het na die toneel gehardloop wat afgespeel het in die tuin van die AGS-kerkie in Crozierstraat. Daar aangekom, het Jan my ingelig dat Annelie, my sekretaresse, die kerk se horlosie gebreek het. Jan het Annelie gedreig. Die broer het net sy plig gedoen en Annelie probeer beskerm.
Jan het dié horlosie jare terug aan die kerk geskenk. Ek neem aan dat die horlosie wat agter in die kerk gehang het vir die prediker bedoel was – dat dié nie te lank (of te kort) geïnspireerd raak nie. Charismatiese mense ken nie altyd die verskil tussen inspirasie en perspirasie nie. Die geseëndheid van ‘n preek hang ook af van die lengte. Dit verskil van kerk tot kerk. Ek het die horlosie gaan afhaal en vermoed dat die battery pap is. Jan het bedaar. Die oggenddiens het goed verloop. Ek het Jan ‘n geleentheid huis toe gegee. Hy het die horlosie huis toe geneem en my verseker dat hy dit sal herstel. Ons het oor die belangrikheid van die horlosie in die kerk gepraat.
Ek het na die eerste jaar in Stellenbosch begin om studentedienste in die aand te hou. Jan het albei dienste bygewoon alhoewel ek dieselfde preek gepreek het. Almal het geweet as Jan daar was – hy het diep en kliphard gesug sodat almal omgekyk het. Tien teen een het die preke Jan verveel. Die aand het Jan ‘n ander horlosie kerk toe gebring. Dit het soos ‘n Boeddhistiese tempel gelyk en was pure plastiekgoud. Dit was ook baie groter as die vorige horlosie. Die horlosie kon ook nie mooi inpas waar die vorige een gehang het nie. My vrees was dat iemand hul kop teen die horlosie sou stamp. Met moeite het ek en Jan die horlosie opgehang. Ons was reg vir die diens.
Die diens het begin. Ons het lekker gesing. Aan die einde van die diens het ek begin met die appél. Ons is geleer op kweekskool dat die einde die belangrikste deel van diens is. Dit is waar die Heilige Gees (veral) moet werk. Daar word die net getrek. Dit is die verskil tussen lewe en dood. Dit was presies agtuur. My vraag aan die gehoor was: Na watter stem wil jy die graagste in jou lewe luister? Uit die plastiekgoud-horlosie kom daar toe ‘n koekoek-voëltjie uit. Die voëltjie lyk soos ‘n Nazi-Barbiepoppie wat op ‘n duikplank uitloop. Met ‘n hees, bewende batterypap-stemmetjie word daar getrou agt koekoe’s gelewer. Dit voel soos ‘n ewigheid…
Die studente draai stadig om, en loer na die aardige koekoek – eers doodse stilte – en daarna ‘n geskater. Ek weet nie wat om te sê nie – en weet ook dat wat ek ook al sê, gaan niks beter maak nie. Toe besluit ek om nie die seën uit te spreek nie. Met die woorde: Ek neem aan julle kies die stem waarna julle wil luister. Ok, cheers, mag die koekoek-vreugde nou ook met elkeen gaan…
Die preek is vergete. Tot vandag toe praat hulle van die Koekoek-diens. Die gewone lewe praat soms harder as die heilige oomblikke waarin ons so onwrikbaar glo.
Elke keer as ek koekoeke sien dink ek aan dié dag maar ook aan die preek en die stem waarna ek behoort te luister.
Ons het meer Koekoek-dienste nodig.
by admin on September 9, 2009
Lucca is tas-sensitief. Hy het onlangs een jaar oud geword.
http://www.youtube.com/watch?v=Kicq6e1NJIo
Hy raak net aan sekere voorwerpe waarmee sy brein kan identifiseer en die ander word verwerp. Tas-sensitiwiteit word vergelyk met iemand wat sy naels teen ‘n swartbord krap of wanneer iemand sy naels te kort afgesny het. Daarom ervaar Lucca soms pyn en angs met aanraking alhoewel enige ander kind dit as normaal sal beleef.
Nou die dag bak skoonma heerlike boerebeskuit. Die hoogtepunt is altyd wanneer dit uit die oond gehaal word. Dan vier ons teepartytjie en almal smul aan die beskuit. Lucca hou van sy kos – soos my skoonfamilie – eet alles, en nog meer. Ek het vir hom ‘n warm stuk beskuit afgebreek en gegee. Met ‘n mond wat water, het Lucca volsterk geweier om dit met sy hande te neem. Toe buk hy af en tel dit met sy mond op!
Lucca vermy sekere plekke en strukture. Sy wêreld is tans baie klein en hy weier om die onbekende naby aan hom toe te laat. Hy lewe defensief om homself te beskerm en sy aandag word baie vinnig afgelei. Die fisioterapeut het vir ons ‘n klomp oefeninge gegee om Lucca mee te help. Hy moet ‘n klein balletjie tussen ‘n klomp sade uithaal. Hy weier natuurlik volsterk om sy hand daarin sit. Hy moet ook buite op die gras kruip. Hy kruip letterlik met sy voete in die lug en met een hand op die gras. Elke aand word Lucca gekam met ‘n klein sagte borseltjie. Sy giggeltjies is aansteeklik – sy ou lyfie hoendervleis uit totdat die kiellie nie meer verdra kan word nie.
.
Deur hierdie eenvoudige oefeninge en ander, kan Lucca sy funksies verbeter en terug herwin. In die VSA staan die terapeutiese proses bekend as repatterning. Dit is uitgangspunt is eenvoudig: Die brein moet van voor af geleer en geprogrammeer word om sekere voorwerpe te ken en te identifseer.
Ek dink dat die Via van Jesus die beste as repatterning verstaan kan word. Ons moet geleer word om sensitief te word vir ‘n baie belangrike wêreld wat onnatuurlik vermy word. Dit is die wêreld waarvoor ons gemaak is en die wêreld waarin God woon. Hierdie is geen mistiese idee of een of ander geheime kennis oor God nie. Dit is om die God te ontdek wat ons elke dag voor oë vermy. Om die brein nuwe maniere te gee om die aarde wat vol heerlikheid is, te ontdek (Jes 6:3). Om terug te kom na die plek waar ons nog altyd was. Om te sien waarna ons nog altyd kyk.
Die woord bekering kom van die Griekse woord metanoia. Meta beteken bo en noia beteken denke. Ongelukkig dink ons aan het bekering as ‘n meganiese transaksie binne ‘n moralistiese verstaan. Die transaksie is eenvoudig: bely jou sonde, gee jou hart vir die Jesus en neem Hom as jou persoonlike Saligmaker aan en lees jou Bybel en bid elke dag. Dan bly daar net “sondbestuur” oor. Dallas Willard meen dat: “ The gospel of sin management produces Christian vampires who wants Jesus for his blood and nothing else”. Hierby bedoel hy bloot dat die lewe van Jesus voor Goeie Vrydag net so belangrik is as Goeie Vrydag self. Alles wat op die kruis gebeur is die somtotaal van Sy lewe. Indien bekering slegs ‘n transaksie of ‘n resep is dan het ons nie die kruis nodig nie. Ons lewe, eerder as ‘n paar morele voor- of afkeure, word ‘n belydenis. Jesus word nie net in hart genooi nie, maar ook na ons lewe en hy word nie net my persoonlike Saligmaker nie maar ook die Saligmaker van die wêreld. Redding is nie ‘n afgehandelde transaksie nie, maar eerder die aanhoudende transformasie wat binne ons plaasvind waar God ons denke skuif na die groter en bo-prentjie wat ons nodig het. Die korrekte vertaling van Hand 2:46 is: en die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat besig is om gered te word…Jesus het dit die koninkryk van God genoem. Dit is waar God die koning word en alles herstel op hierdie aarde.
Bekering gebeur nie net in ‘n kop nie – daarby bedoel ek informasie– maar ook met ‘n hart. Metanoia gaan ook oor die dinge wat ons voel, beleef en sien. Dit is veel eerder ‘n bewustheid as informasie wat gegee word. Dit is baie eerder vrae as antwoorde wat gegee word. Dit gaan ook nie net oor vrae per sé nie, maar die regte vrae. Die vrae het te doen met die storie van my lewe en hoe dit inpas by die groter storie wat God deur die eeue in die geskiedenis skryf. Daarom vertel Jesus gewone stories oor saad, voëls, bome, familietwis en die allerdaagse lewe waarin ons God ook kan ontmoet. Hy probeer om God ook buite die tempel aan mense te verduidelik. Hy kan God ook in die lelies en mossies wys. Indien ek God nie in my hele lewe kan ontdek nie sal ek Hom moet beperk tot die kerk of die tempel soos in Jesus se tyd. My geestelikheid sal tas-sensitief en selektief wees.
Metanoia genees ons van tas-sensitiwiteit. Dit laat ons op nuwe maniere ons eie lewe en die wêreld voel en waardeer. Waar die meeste spiritualiteite ons wêreldvreemd maak, maak metanoia ons eerder meer mens. Ek kan Lucca dwing om aan sekere voorwerpe te raak – maar daardeur ook sy lewe vernietig. Sy denke moet eers verander oor die voorwerpe wat ons bang maak. Enige godsdiens sonder ‘n ware metanoia is arm en kan alleen deur die enjinkamers van moralisme gedryf word.
Hierdie is die Via wat elke volgeling van Jesus moet loop. Soms na plekke wat nou te pynigend lyk.
Maar wat nodig is.
En goed.
by admin on August 27, 2009
‘n Ruk gelede het ons Stellenbosch Gemeente se 10-jarige bestaan gevier. Ek het in 1999 my eerste diens in Stellenbosch gehou. Ek en Milan was alreeds vroeg daar. Carissa het op daardie stadium by vriende van my, Herman en Corlia, in Johannesburg gebly. By die deur het ‘n man ons gegroet. Ek het aangeneem dit is die koster. Ek het myself en Milan voorgestel. Hy het gesê sy naam is Jan Meintjies. Jan het nie geweet dat ek die nuwe pastoor van die AGS van Stellenbosch is nie. Ek het gedink dit is vreemd, maar vreemder sy eerste vraag: Wil jy heuning hê? Woolworths vra R18 – ek vra R10. Dit was wierd. Ek het geantwoord: Nee, dankie ons het heuning.
Ek dink toe by myself dat die eerste ding wat hier sal moet verander is die koster se heuning…
Die AGS-kerkie het op die hoek van Andriga en Crozier straat, regoor die drama departement, gestaan. Beter ligging kan jy nie voor vra nie. Daar is glo in kringe gespot dat niemand weet waar die meeste drama plaasvind nie. Daar is ook gepraat van die kerk met die blou vensters en die pienk matte.
Die diens het begin. Daar was 39 mense. Ek het omtrent niemand geken nie behalwe vir Prof Rufus Gouws, ons hoofouderling. Die ken was ‘n gesels tydens ‘n half maratonwedloop wat ons saam gehardloop het – nie ‘n goeie verhoudingsboupoging as jy nog nooit so iets gedoen het nie… Dit was ook sy laaste diens vir nege maande. Hy is Duitsland toe om klas te gee. Jan het reg voor ons kom stelling inneem. Hy het tydens die sangdiens gedirigeer. Dit was vreemd. Die liedere was ou AGS- liedere. Tydens die lied, Druppeltjies maak ons dankbaar, het Milan aan my baadjie getrek, sy gesig getrek en binnemonds gelag. Ek het hom berispe.
Toe kom die preek. Ek het begin met ‘n grappie. Niemand het gelag nie. Elke predikant het ‘n paar wat altyd werk. Ek het weer een vertel. Niemand het gelag nie. Ek het ‘n migraine aanval op die kansel gekry. Die preek het soos ‘n ewigheid gevoel.
Na die diens het mense kom welkom sê. Jan het ook kom gesels. Die eerste ding wat Jan vir my gesê het is dat hy familie is van Pastoor Justus Du Plessis. Ek en Jan het geclick. Justus Du Plessis broer was die bekende, Dawid Du Plessis, en ook genoem: Mnr Pentecost onder Katolieke. Jan vertel my van sy slim familie. Pastoor Justus was van die Nuwe Orde in die AGS. Daar was ‘n groot bakleiery jare terug oor die Nuwe en Ou Orde. Die Ou Orde het geglo dat die teenwoordigheid van die Here word in desibel gemeet. Hoe meer luidrugtig hoe meer geseënd. Dit het ook aanleiding gegee tot ‘n kerkskeuring. Pastoor George Snyman was ook vurige voorstander van die Ou Orde. Hy het die groot verset suksesvol gelei en die PPK ( Pinkster Protestante Kerk) is toe uit die AGS afgestig. Ek het ook gehoor mense noem hulle die Pinkster Probleem Kinders.
Die gesprek bring memories…
Pastoor Justus het my in matriek aangemoedig om verder te leer. Die oorgrote meerderheid in die AGS het geglo dat geleerdheid staan in die pad van Heilige Gees. Jy moes ‘n keuse maak tussen geleerdheid en die Heilige Gees. Ek het soms skuldig gevoel, veral as die broers my gevra het wat gaan maak met die Grieks en Hebreeus wat ek bestudeer. Ek voel dankbaar dat ek na Pastoor Justus geluister het. Jan vertel my dat ek nou in ‘n slim dorp woon. In teologiese kringe sê hulle dat Stellenbosch se mense so slim is, dat hulle die wederkoms kan organize.
Jan sê vir my hy was die eerste bloubaba in Suid-Afrika en het nie genoeg suurstof by sy geboorte gekry nie. Daarom is hy gestremd. Jan vertel my hy het 14 katte en bly by sy ma. Hy waarsku my teen inkommers. Hy noem hulle f***n inkommers. Mense van Gauteng wat op Stellenbosch kom woon.
Ek verstaan nou die heuning van R10. Ek bewonder Jan se ma wat hom leer oorleef het vir die dag as sy nie meer daar is nie. Ek verstaan dat Jan tydens die sange dirigeer. Ek is bly daar is kerk vir Jan. Ek is bly hy mag heuning in die ingangsportaal verkoop.
Ek en Milan ry huis toe.
Die koster se heuning sal die laaste ding wees wat ek in die kerk sal verander.
by admin on August 17, 2009
Op ‘n dag het my ouers vir my gesê dat die Bybel kinders leer om hulle ouers te eer en nie te bekeer nie. Dat was net na my bekering aan die einde van my skoolloopbaan. Ek het ‘n sterk roeping gevoel om mense te bekeer. Die beste plek om te begin is natuurlik jou familie – soos die Bybel ook leer.
Baie van ons ken die hype van ‘n CSV-bekering. Dan word alles so eenvoudig: die lewe is wit en swart. Het het die antwoorde – want Jesus is mos die antwoord. Dan staan jy net op die Woord. Roep al die beloftes in vervulling of soos iemand my geleer het: “Name it, claim it and frame it!”. Die pad na die hemel is beskore vir die eenvoudiges en vir hulle wat sy Woord onderhou en blindelings doen.
Vandag kry ek gereeld te doen met jongmense en veral studente in Stellenbosch wat deur hierdie fase van hulle lewe gaan. Noem dit maar die Icarus-reis van geloof. Icarus het na die son gevlieg – met vlerke van was. Jy het meer as ‘n noodlanding nodig as jy terugkom aarde toe…’n Wit-en-swart-Bybel-teologie waarborg hierdie val. Die Bybel is nie grys nie – dis onomwonde grys – en binne die grys sien ons die wit en swart.
Die Bybel moet ernstig opgeneem word – maar ook die God wat tussen die Bybelverse praat.
In Mark 10: 17-27 ontmoet ons die ryk jongman. Hy doen alles reg en tog alles verkeerd. In Mark 10: 46-48 ontmoet ons ‘n blinde man, Bartimeüs – hy doen alles verkeerd en tog alles reg. Dit is twee bekeringstories wat ons leer hoe om na God te luister en waaroor die ewige lewe gaan.
In die eerste storie ontmoet jy iemand met sjarme. Hy het mooi woorde en wil weet hoe om die ewige lewe te beërwe. Hy is ordentlik en noem Jesus ook “Goeie Meester”. Jesus noem dadelik dat Hy nie goed is nie, maar net een, naamlik: God. Jesus wys dadelik na iemand buite homself. Enige gesonde spiritualiteit sal dit ook doen. Meer as sy gehoorsaamheid aan die Bybel stel Jesus belang in sy motiewe en hoe hy omgaan met waarheid.
Jesus lys die tien gebooie en dan kondig die ryk jongman met selfvoldaanheid aan dat hy alles onderhou. Jesus, die meester orator, lys die tien gebooie, maar glip een gebod tussen die Bybelverse in wat nie daar hoort nie: “Jy mag niemand te kort doen nie”. Die ryk jongman hoor dit nie. Wou Jesus eintlik die gesprek hier begin het? Kan sy godsdienstigheid hom so verdoof dat hy Jesus nie kan hoor nie?
Jesus kyk na hom en dan sê Markus: “…hy het hom liefgekry…”. Jesus het nooit rykes veroordeel of skuldig laat voel oor hulle geld nie. Nog minder het hy offergawes van die rykes opgeneem om sy eie bediening te ondersteun. Jesus spreek nie sy geld aan nie – maar sy manier van kyk na die wêreld en na God. Hy kan God nie tussen die Bybelverse hoor nie. Hy luister selektief en keer terug na sy eie gemak. Hy verkies:
‘n Privaat-evangelie vir die individu.
‘n Kroon sonder ‘n kruis.
‘n Hemel sonder ‘n aarde.
Dan vertel Markus die storie van Bartimeüs. Alles gebeur anders as die storie van die ryk jongman. Bartimeüs is nie so hoflik soos die ryk jongman nie. Hy is onkonvensioneel. Hy skreeu. Hy ontwrig Jesus op sy weg. Hy word bestraf maar gooi net ‘n dowe oor. En dan, iets wat jy nie sal verwag nie – hy kry Jesus se volle aandag. Hy vra net twee keer vir genade – sonder ‘n wenslys of voorskriftelikheid. Hy gooi sy mantel af – sy ontvanklikheid en openheid raak Jesus. Jesus stuur Bartimeüs weg met die woorde: “ jou geloof het jou gered.” Geloof – nie sy gehoorsaamheid aan die wet of sy dogma oor die hemel nie – verander sy lewe. Bartimeüs se genesing beteken nie ‘n nuwe soort gemak of veiligheid nie. Hy gaan saam met Jesus na Jerusalem toe. Die plek waar Jesus moes opoffer en ly. Bartimeüs kies die kruis en die aarde.
Die Bybel is ten eerste ‘n boek wat handel oor ‘n verlossingsgeskiedenis waarbinne mense en die mensdom gered moet word. Die individu is nooit die eindverbruiker van die evangelie nie. Ware evangelisasie is nie net goeie nuus vir die individu nie – maar vir die ganse mensdom. Sou die ryk jongman te blind gewees het om die mense raak te sien wat hy te kort doen? Sou sy vat uit die wêreld ander mense veram? Of moes die hemel kompenseer vir die te kort aan liefde wat hy op hierdie brose aarde moes leef?
Miskien is die vraag: Hoe kom ek in die hemel? – die verkeerde vraag. Dalk: Hoe kom ONS in die hemel?
Die God tussen die Bybelverse sluit altyd die ander in.
Selfs jou ouers…
by admin on August 1, 2009
Vandag is hartseer.
Shriley is oorlede.
Sy was 48 jaar oud – dit maak dit soveel erger. Ek weet self nie hoekom eis ek ‘n lang lewe by God nie – en hoekom ek opstandig word as die Here toelaat dat iemand se lewe geneem word nie. Ek hou nie van begrafnishou nie – dis soms plastiek. Ek onthou die opmerking van ‘n vrou oor haar man se begrafnis: Ek wens ek het die man geken waarvan hulle daar gepraat het…
Ek staan en kyk na al die mense by die huis in Vlaeberg wat langs die Vlaeberg tennisklub staan. Dit is nou ‘n kerkie. Die gemeente kon skuif uit die klaskamer van die verlate plaasskool nadat die boere van Vlaeberg ingewillig het dat Johannes die huis langs die tennisklub by hulle kon huur. Die huis kan omtrent 120 mense akkomodeer. Daar is minstes 500 mense by die begrafnis. Mense kom met busse, tax’is en elke moontlike geleentheid. Mense groet mekaar, druk mekaar en huil. Binne speel daar musiek en die gemeente sing passievol.
Die diens begin 9h00.
Hulde word aan Shirley gebring. Pastoor Williams vertel hoe Johannes en Shirley hom onder die invloed van dwelms by sy huis in Woescter kom haal het. Hy moes by hulle bly – en was baie bang vir sedepreke. Hy het nie sedepreke gekry nie maar liefde. Vandag is hy ook in die bediening. Ek hoor hoe pastoor Matroos en sy vrou vertel dat haar kinders van Shirley se melk kon drink – geld was skaars. Toe die kind die tiettie begin byt het hulle geweet die kind is nou groot genoeg. Ek hoor jou kinders is my kinders. Hulle vertel dat die tye wat daar nie kos was nie kon hulle vir Shirley en Johannes bel – die hoofdis was altyd kool met hoedermagies. Die gehoor skater van die lag – hulle ken van kool en hoendermagies. Dit was die maerjare. Pastoor Jenny Arendse vertel hoe Shirley reguit kan praat – roede met liefde was een ding. Pastoor Smith vertel dat hy kom van die country en wou nie in Johannes se huis in gaan nie – want hulle is grênd mense – net om die nederigste mense ooit te ontmoet. Pastoor Meyers se ontmoeting met Johannes en Shriley het hom na die bediening geroep. Hy vertel dat Shirley altyd lag – Sy is brights. Shirley het altyd gelag – hulle het van haar gesê… Suster jy’s op bright – dim djou lights man!! Dan sing die De Koker susters. Johannes en sy dogter Daylene bring hulde aan die wonderlikste vrou en ma in hulle lewe. Dan begin Johannes spontaan sing sonder begeleiding – die laaste lied wat hy en Shirley laas in die motor saam gesing het: “Everyday with Jesus is sweeter than the day before…”
Terwyl hy sing vloei die trane oor die wange van die gemeente. Dan begin almal saam te sing.
Ek moet preek. Ek voel die knop in my keel. Ek is geraak deur die begrafnisredes wat nie vae veralgemenings of cliché’s is nie, maar woorde wat net vriende vir mekaar kan sê – dis diep, persoonlik en intiem. Shirley het gevra vir ‘n ware Pinkster begrafnis. Ek moet my lyf Pinkster hou – ek ken van – die AGS en ander Charismatiese kerke het my goed geleer. Vir ‘n oomblik vergeet ek waar ek is en leef en voel saam met die mense wat saam met my preek met amen’s en hallelujah’s.
Na die preek kom groet die gemeente oulaas vir Shriley. Die kis word oopgemaak. Mense kom bring vir oulaas ‘n huldeblyk. Hierdie keer met ‘n soen, of ‘n streel oor Skriley se wange. Daylene en Melinda vertel my dat hulle self die lyk gewas het. Dis baie vreemd vir my – ek dink aan hoe anders Witmense met die dood omgaan. Dit is onnatuurlik en hospitale en tegnologie hanteer die dood vir die wat dit kan bekostig.
By die onthaal maak Johannes se broers musiek. Dis jazz, country en gospel op sy beste. Mense sing en lag. Spontaan neem verskillende persone die mikrofoon en sing met oorgawe. Stories Shirley word vertel – mooi stories. Ek en Wilma gesels met Johannes, Daylene en die jongste dogter, Melinda. Ons praat oor die pad wat voorlê. Daylene het werk in Dubai en haar dogtertjie, Shirlene het by Shriley en Johannes gebly. Ons wonder wie kan Shirlene se nuwe ouma word. Melinda swot B.Sc. en hoop om vir medies gekeur te word. Geld is skaars – hulle sal God moet vertrou vir ‘n wonderwerk.
Om 15h40 het ek en Wilma huistoe gegaan. Ek voel hartseer maar ook lig. Hartseer oor die enorme verlies en die pad wat Johannes, Daylene en Melinda en klein Shirlene moet loop. Lig omdat ek iets in die dood sien wat lewe is. ‘n Lewe wat kom met sielsgenote en reisgenote wat die begrafniskaartjies stuur nie maar wat self daar teenwoordig is. Dit is nie stories wat iemand ‘n celebrity probeer maak nie – dis ‘n celebrity wat klaar die stories kom leef het.
Shirley is weg – maar diep teenwoordig in hulle wat agterbly. Ek dink aan die woorde: Die beste dinge in die lewe – is nie dinge nie.
Die vrou van wie daar gepraat is het almal geken.
by admin on July 31, 2009


Ek het Johannes en Shirley die eerste keer ontmoet in 2002 nadat hulle ‘n diens by Stellenbosch Gemeente bygewoon het. Hy het homself voorgestel as: Johannes Johannes. Saam met hom het twee vreemde siele gestaan. Hulle verbande en scars het verdag gelyk – hulle gesigte, soos die wat jy in movies kry. Johannes skroom nie om hulle voor te stel as gangsters nie. Hy het hulle kerk toe gebring want hulle het die Here nodig, sê Johannes. Johannes was self ‘n gangster – hy ken die lewe. Hy vertel my dat die lifespan van gangster maar kort is. Vandag gee Johannes en Shirley hulle lewe om gangsters en plaaswerkers te help. Johannes en Shirley bedien nou ‘n klein community buite Stellenbosch op Vlaeberg.

Ek wou by Johannes en Shirley weet hoekom hulle na ons gemeente toe kom. Ek het nog altyd gevoel dat Stellenbosch Gemeente te stil en verkramp is vir Bruinmense se passievolle godsdiensbelewing. Ek vra hom toe waarom hy nie na ‘n spesifieke Charismatiese kerk op Stellenbosch toe wou gaan nie, aangesien hulle dalk nader aan die spiritualiteitsbelewenis is aan Johannes se gemeente. Johannes antwoord: Nee my broe – d’jy sien sommer dadelik wie die ketaar slat. Ek vra: Hoe? Johannes: Jirre die man (hy verwys na die leier) se hemp is te blink, nie wit nie, dis spierwit! Ek verseker hom ek gaan nie weer withemde dra nie! Hy vertel my van sy soeke. Hy vertel my dat hy moeg is om mense bang te maak met die hel. Moeg om sonde te gebruik om mense se menswaardigheid te verniettig. Hy sê dat die theology van evacuation is al wat hy geken het. Hy is moeg om mense ‘n pie in the sky te belowe en niks verander in hulle lewens nie, behalwe dat hulle godsdienstig word…
Ek het een Sondag by Johannes gaan preek. Hulle het in ‘n klaskamer van ou verlate plaasskool bymekaar gekom. Die diens het 10h00 begin – en 12h00 nadat ek amper klaar was, het daar ‘n groep gangsters ingestap. Ek verstom my aan die verskeidenheid van mense: Plaaswerkers, huisvroue, werkloses, gansters, kinders en besigheidsmanne.
Johannes en Shirley verstaan iets van wat ek met my lewe begeer. Om inklusief, soos Jesus, Fariseërs en tollenaars, priesters en prostitute, gangsters en hoog heiliges om dieselfde tafel te laat sit.
by admin on July 14, 2009
Die 52 weke in Julie is die langste maand van die jaar. Daar kom sulke maande en dan voel dit of die winter nie kan ophou nie.
Winter stroop ons van alles wat ons bedek – alles word teruggegee aan die aarde – jy is dan naak en moet jouself face. Daar is winters wat nie net deur murg en been sny nie maar ook deur harte. Brose en tere harte word dan gesien. Wanneer ons nie meer kan toemaak nie, is wanneer God vir ons begin oopmaak. Teresa van Avila het geglo een dag van selfkennis is beter ‘n duisend dae in gebed. Meister Eckhardt het ook geglo dat kennis van God voorveronderstel selfkennis. In die jaar wat verby is het ek en Wilma baie oor onsself geleer. Ons het nie noodwendig die korrekte greep op of die volledige verstaan van lyding en geloof gekry nie – maar voel eerder meer bewus van God se greep op wie óns is en behoort te wees.
Antieke gelowiges het geglo dat die winter ons voorberei vir wedergeboortes. Geboortes vind plaas wanneer ons kan sien wie ons werklik is – dit is die gawe wat winter aan ons gee. Dit maak ons gereed vir nuwe ‘n seisoen.
Dan kom die lente…
Vandag is vir ons die mooiste lentedag – ons vier Lucca se verjaarsdag – met klem op party! Purity, ballonne, koek, kerse en foto’s gee ‘n nuwe betekenis aan die gewone in ons huis. Die familie het laer getrek. Daar is nie plek vir almal in ons huis nie en ‘n paar slaap op die vloer. Koos slaap op die harde leerbank – sy snork het hom ‘n gereelde banneling. Milan en Ivan speel Playstation tot 3h00 in die oggendure! Lucca is op ‘n high en mis sy nodige slapies.
Lucca is op almal se lippe. Hy moet dink hy is ‘n celebrity! Ek en Wilma het seker 10 keer al genoem dat ons so bly is dat dit nie die 3 Julie 2008 is nie. Ons kan nie anders as om kort-kort onsself te herinner aan die angs van ‘n jaar terug nie. Alhoewel Lucca elke week fisioterapie moet kry, gereelde inspuitings en ons tans besig is met die voorbereiding vir sy laaste operasie, sien ons die tekens van hoop en lewe.
As ek dink aan die lente se tekens van hoop dan sal ek graag vir Lucca die volgende wil leer.
Lente sê:
• Die beste manier van leef is plat op die aarde. Die woord humaan kom van die woord humus. Dit is die woord wat vir kompos gebruik word. Hoe nader ons aan die aarde leef hoe nader kom ons aan menswees en geestelikheid. Ek hou baie van die Message- vertaling van 1 Kor 15:48: The first man was made out of the earth, and people since then are earthy. Modder op die gesig is vir elke mens beskore. Die begin van die lente is nat en modderig. Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra. Dit is waar die woord humility vandaan kom. Ons vernederings of nederig-word maak ons waarlik mens. Tekens van hoop beteken nie dat ons volmaak is of word nie, maar eerder dat ons nader kom aan die plek waar die regte dinge ons lewe kan oorneem.
• Klein is baie groot. Die begin van lente is nie groot nie. Klein lote skiet uit die grond – soms niksseggende knoppies wat begin bot. Ongelukkig is ons makro-bedwelm. Ons glo dat die meerderheid altyd reg is en dat sukses aan getalle, geboue en geld gemeet word. Het ons Saggaría 4:10 vergeet? Waarom kon die wyses van die dag Jesus nie binne ‘n vuil stal of op ‘n donkie raaksien nie? Dalk soek ons vandag nog steeds hoop op verkeerde plekke.
• Die aarde bied ons vensters op die hemel. Lente is die tyd om skoonheid te geniet en jouself daarin te verloor. Dostoyevsky het geglo skoonheid kan die wêreld red. Ek glo dit ook. Wat is dit in Paulus wat in ‘n tronk mense aanmoedig om hulle in God bly te maak en om aan alles te dink wat eerdaar en mooi is? (Fil 4:8) Waarom is dit so maklik om die lelik te sien en so moeilik om die mooi te sien? Vader Schememann van die Russiese Ortodokse kerk reken dat die definisie van ‘n Christen is om God orals te sien. Selfs in eenvoudige dinge en dit wat reg voor jou is. Skoonheid gaan nie oor die kommunikasie van boodskappe nie (soos wat baie mense van kuns glo nie) – dit gaan eerder oor kontemplasie, om na te dink en ontvanklik te word vir nuwe verassings en te sien wat jy nog nooit gesien het nie. Dan sien ons die mooi in ons aardsheid en neem kennis van die vergete poësie in die strate.
Lucca is ‘n jaar oud.
Dis weer 3 Julie – sonder 52 weke.
Hierdie keer 2009.
Dit was ‘n goeie jaar.
Die afgelope week het ons ge-fees. Lucca het een jaar oud geword. Die familie het laer getrek. Al wat leef en beef het kom kuier. Ons huis se deurposte was deurgetrap. Lucca het al die aandag geniet. Dit was pret om van die waardigste vaders en moeders te sien inkarneer in baba’s met brabbeltaal. Lucca moet dink hulle is weird… Die geskenke verstaan hy nog minder. Aan die einde van die dag het elektriesekoord nog steeds die meeste aftrek gekry.
Dit is onmoontlik om in woorde te beskryf wat die afgelope jaar met my en Wilma gebeur het. Sondag het Wilma buite die kerk gesit en gehuil met Lucca wat in haar arms slaap – maar hierdie keer was dit trane wat dankie sê. Vir my en Wilma is dit tyd om dankie te sê.
Sondagaand het ek weer foto’s gekyk en gelees wat ek oor Lucca geskryf het. Ek het hierdie paar woorde gegriffel net na Lucca se geboorte:
Vandag is een van die mooiste wintersdae in die Kaap. Die reën sak in sagte, aanhoudende vlae neer op die lowergroen landskappe. Donkergrys wolke hou die belofte in van meer reën. Ek sit in Panorama hospitaal waar Wilma, my vrou, rustig langs my slaap terwyl ek kyk na die mooiste reënboog wat oor Tafelberg hang. ‘n Linkerbreinmens tel en ontleed gewoonlik die kleure in die reënboog terwyl ons wat regterbreinmense is se hartsnare op misterieuse maniere deur die reënboog bespeel word. Vandag se lied is brose blues met hope dankbaarheid. Ek voel glad nie soos ‘n “mighty man” nie. Die trane lê maar naby en ‘n knop in die keel herinner my aan die dinge wat groter is as die lewe. Ek en Wilma het vandag ‘n seun ryker geword. Om presies te wees, Lucca is nou 4 ure oud en lê in ICU. Ek wens ek en Wilma kon daar by hom wees. Hy is op 31 weke gebore en weeg slegs 1.1 kg. Die rede vir sy vroeë koms is dat daar komplikasies was tydens die swangerskap. Ons het reeds op 20 weke besef dat Lucca se lewe bedreig word deur ‘n afwesige bloedvloei en dat ons ons moes voorberei vir die moontlike risiko’s van ‘n premature baba.
Mense het uit alle oorde ondersteun en gebid en ons kon voel dat God ons in tye van onsekerheid dra. Omdat ek en Wilma beide as predikate gewoonlik aan die gee-kant van die lewe staan, was dit wonderlik om aan die ontvang-kant ons gemeente se liefde, omgee, drukkies en wyshede te staan. Ek het nog nooit gedink dat pastorale sorg my hoofgawe is nie en gewoonlik sien ek daarna op, maar hierdie tye het my dankbaar gemaak vir mense wat daardie gawe het en dit reg uitleef. Meer as ooit weet ek dat die kleinste drukkie of sms soms die geloofsreuse in ons wakker maak. Ek wil dit ook meer doen.
Die afgelope tyd was vol donkergrys dae waarvan die meeste nie reënboë gehad het nie. Die skoppelmaai van onsekerheid en elke keer se verwagte finale doodsvonnis as ek en Wilma na die Fetale Eenheid in Kaapstad moes gaan, het soms te erg geraak. Ek onthou die tye toe Wilma vir my gesê het sy is te bang om te glo want wat sal gebeur as sy probeer glo en ons verloor die kind. Ons het al soveel keer saam met gemeentelede gehuil, vertrou en geglo – sonder enige gebebsverhoring. Ek en Wilma is teologies wêrelde weg van ‘n fundamentalistiese godsdiens wat teer op wensdenkery of wat die mag van suggestie verwar met geloof. Hierdie winde het ook gereeld na ons toe gewaai. Ek het ook opnuut besef dat sommige mense nie die gawe van pastorale sorg ontvang het nie en beter sal doen as voorbidders. Clichés soos “glo net” of “jy moet sterk staan, die gemeente hou jou dop” maak dit nie beter nie. In sulke tye wil ek juis nie sterk wees nie. Is vertroue dan nie om ons swakheid te besef nie, en te hoor “kom na My toe…”? Op ‘n dag het drie verskillende vrouens vir Wilma Hebreërs 11 gegee as ‘n bevestiging dat geloof ons kind sal red. Beide van ons weet dat Hebreërs 11 die stories vertel van geloofshelde wat nie die beloftes gekry het nie. Ons het gewonder wat die Here vir ons oor geloof wil sê.
Toe die dokter vir my sê dat daar seker baie mense is wat vir ons bid wou ek weet, glo hy dit regtig of sê hy dit net omdat dit die regte ding is wat ‘n dokter vir ‘n dominee behoort te sê. Ek woel met die dokter se stelling in my gedagtes – glo ons dat die Here veroorloof is om te swig voor die druk van baie gebede, terwyl minder gebede se bedingingsmag beduidend kleiner is? Ten minste kon ek en die dokter lekker oor God praat. ‘n Ligter oomblik was toe Toys, ons sekretaresse, gevoel het dat die Here vir haar Maleagi 6 gegee het om vir ons te gee. Dit het eers vreemd geklink en later het ek besef dat daar nie ‘n Maleagi 6 in die Bybel is nie! Toys was eerste by die hospitaal en ons het in die reën ‘n lekker koppie koffie gedrink en saam gelag oor die verlore hoofstuk wat iemand nog gaan ontdek!
Ek kon later net vir ‘n paar minute by Lucca gaan staan. Ek het my vinger teen sy handjie gedruk en gebid:
Here, ek het nie woorde nie behalwe, dankie. Baie dankie.
Skryf asb vandag met u reënboogkleure in Lucca se hart dat hy eendag die kleur in die donkergrys reën van die lewe kan sien soos wat ons dit in hierdie moeilike tyd kan sien.
En help my om ‘n pa te wees wat alles leef waaroor ek probeer preek.
Amen.
by admin on June 29, 2009
Wat is dit in kerke wat jou verbied om ‘n kleingroep by te woon indien jy nie ‘n lidmaat van die spesifieke kerk is nie? Wat is dit in kerke wat aan leiers die mag gee om hulle lidmate se lewensmaats vir hulle te kies? Wat is dit in kerke wat dit regkry dat hulle lidmate ander verkleineer en demoniseer?
Christaholics.
Dit is waar toewyding aan God ‘n verslawing word.
Professor Archibald Hart noem dwelmhandel in die kerk the quest for religious ecstasy and euphoria. Die brein bly nog steeds die grootste vervaardiger van verdowingsmiddels. Dit is waar ek my weeklikse fix of shot kry. Godsdiens gee net die regte mix. Godsdiensverslawing lyk net soos die ware Jakob. Toegewyd en vroom. Jy sal hom ook nie sommer kan teegaan nie – hy kom in bybelpakkies. Hy verwar God met godsdiens.
Verslawende geloof word gebore wanneer geloof misbruik word om ware emosies en die angs van ons bestaan te omseil. ‘n Obsessie ontwikkkel om te major in die minors. Goethe het gemeen die wêreldgeskiedenis een hooftema het: Die konflik tussen geloof en ongeloof. Paulus sou tuis voel in so opmerking want sy via was ook tussen hierdie bakens. Hy weet van oorvloed en gebrek. Van gesondheid en doring in die vlees. Van lag en huil. Van sukses en mislukkings. Dit was ook nie anders in Jesus se lewe nie. Jesus ken God se nabyheid, maar ook sy baie vêr aan ‘n kruis (Matt 27:46).
Die onvermoë om ongeloof en misterie deel van spiritualiteit te maak, veroorsaak dat daar ‘n obsessie met geloof en sekerheid ontstaan. Ons raak verslaaf aan geloof as ‘n manier om van ongeloof ontslae te raak. Daarom kan Christaholics nie sonder spesiale aansprake leef nie (omdat dit Heilige Gees-geïnspireerd is word enige meningsverskil gesien as ‘n aanval op God). Die boek Toxic Faith deur Stephen Arterburn & Jack Felton (Oliver-Nelson, 1991) is ‘n uitstekende stuk werk oor hierdie onderwerp.
Labeling is the name of the game.
In dwelmnetwerke is daar altyd die baas waaraan jy moet rapporteer – ook nie anders in godsdiens nie. Die woord submission word niks anders as ‘n sado-masochistiese verhouding waarbinne die sadis (een wat seermaak) en die masochis (een wat seergemaak wil word) mekaar binne hierdie simbiotiese verhouding verslaaf. So sal daar altyd Mugabe’s wees waar volgelinge hulle blinde lojaliteit sweer.
Enige dwelmnetwerk het ook sy gebied. Daarom is ons-versus-julle-paradigma so brilante strategie. Jy is in – of uit. Jy is vir – of teen my. Jou identiteit word bepaal deur wie jy nie is nie – daarom floreer heresy-hunting.
Christaholics kan net met geslote kommunikasie leef. Van bo na onder en van binne na buite. Verslaafdes gee nie om vir die wat buite is nie – dit gaan primêr oor wat binne is en hoe goed hulle voel.
Skole in die omgewing van Bonteheuwel het verlede week ’n week lange bewusmakingsveldtog op die internasionale dag teen dwelmmisbruik en onwettige dwelmhandel gehou.
Die kerk het so week nodig.