AJ is ons se hoofouderling by InVia. Ek noem hom en die ander ouderlinge maar jongelinge omdat almal van hulle feitlik in hulle 20 tigs is. AJ is ‘n rugby-man, het die rugy-look, ‘n altleet van formaat en rig self die sport af. Van sokker weet hy nie veel nie – en vind dit moeilik om 90 minute – in sy woorde – na 1 punt te sit en kyk. ‘n Vuvuzela is ook nie sy geliefkooste instrument nie.
Toe nooi sy vriend hom na die wedstryd tussen Frankryk en Bafana Bafana. Hy land toe langs ‘n Xhosa-dame met ‘n vuvuzela. AJ is uit staanspoor van sy voete af geslaan. Die dag het begin met die volkslied wat die Xhosa-vrou in Afrikaans met volle oorgawe soos ‘n aanbiddingslied sing. Na die tweede doel van Bafana Bafana word hy omhels deur die wildvreemde Xhosa-vrou as haar eie, en doen die vuvuzela-druk! AJ kom terug as sokker-bekeerde, gewapen met sy eie vuvuzela en praat alreeds van die volgende sokkerwedstryde wat hy na die Wêreldbekertoernooi wil kyk.
Dit is seker die grootste wat van die Wêreldbekersokker in Suid Afrika onthou sal word: die vuvuzela. Van die vroegste tye is die vuvuzela deel van die Afrika kultuur. Daar is glo diep geestelike wortels waar die vuvuzela gebruik is om tye van geestelike intensiteit aan te kondig. 100 jaar gelede het die profeet Shembe dit in sy gemeente gebruik. Daarom is die woord “gees” baie beskrywend wanneer die vuvuzela ons roep om “gees te kom vang”. Durban Amazulu-sokkerklub speel sedert 1980 sokker met dreunende vuvuzelas wat van dierehorings en suikerriet stokke gemaak is. Kaiser Chiefs het hierdie tradisie vinnig oorgeneem. Baie Suid Afrikaners het eers met die Wêreldbekersokkertoernooi ontdek dat daar wel so iets soos ‘n vuvuzela is!
Vir party was die vuvuzela ‘n vloek. Voor die Wêreldbekertoernooi het reeds 50 000 mense op die webwerf www.banvuvuzela en 14 081 op die webwerf www.antivuvuzela.org beswaar aangeteken teen die blaas (ek hou van die Nederlands – getoeter) van die vuvuzela. In sommige Duitse stede is dit verbied en in ander stede word jy met R325 beboet. Klagtes het gewissel van oorskade tot die verniettiging van die bekende Europeuse samesang tydens die sokkerwedstryde.
Dan was daar die doemprofete wat gemaan het dat ons probleme gaan begin nadat die Wêreldbekersokkertoernooi verby is en die vuvuzelas nie meer geblaas word nie. Suid Afrika gaan sit met ‘n sokker–isibhabhalazi. Isibhabhalazi is die Zulu-woord vir babbelaas. Die kopseer na die plesier. Die vuvuzela-haka sal gestil word soos wat Diego Forlan van Uruguay met Bafana Bafana kon doen. Skuld en en onrealistiese verwagtings en werkloosheid sal die gees uit elke vuvuzela blus.
Vir ander was dit weer ‘n seën. Vir die slim mense in bemarking is die vuvuzela ‘n geniale meesterstuk. Beter “branding” kan daar nie wees nie. Iets eenvoudig van Afrika en uit Afrika. Jy sien hom, hoor hom en voel hom. Dan sorg hy vir eie publisiteit. Die vuvuzela het vinnig bekeerlinge gewerf. Vuvuzela-koors het nie net in Suid Afrika gebyt nie – maar ook in ander lande. In England is daar glo 65 000 vuvuzelas verkoop. Ironies en hartseer dat Chinese fabrieke wat tot 25 000 vuvuzela’s ‘n dag gemaak het, het muntgeslaan uit die ekonomiese geldkoffers van ‘n Wêreldbekersokker in Suid Afrika! In Europe en Suid Afrika kon iPhone spog met die vuvuzela as die gewildste aflaai-program.
Terug na AJ. Sy voorbehoude en skeptisisme oor sokker en vuvuzelas is iets van die verlede. Hy kon die gees vang. Hy kan nou met nuwe oë na sokker kyk. AJ moes eers sy wêreld los om iets te verstaan van die gees wat die vuvuzela het. Dit is miskien die hart van enige ware transformasie – om oor te loop na iemand anders se wêreld. Die Bybel noem dit inkarnasie – waar die God van die hemel ook bereid is om die paaie van stof en vlees te bewandel. Dit is die enigste transaksie wat ‘n kind kan verstaan. Waar pa’s nie preek teen dit wat na oorpluisies vra nie – maar saam dit kan beleef waaroor die oorpluisies gaan. Om die hemel en stof in ons lewe te eer. Om lig in die skadu’s te ontdek. Om soms ook as ouers genees te word van ons eie projeksies. Dit is dalk die grootste gawe wat kinders ook aan hulle ouers met raserige vuvuzelas kan gee.
Bloemfontein, ‘n Xhosa-vrou, en ‘n omhelsing het AJ besiel om die vuvuzela ook in die toekoms te blaas.
Dit is die mooiblaas want dan is die gees in die vuvuzela.
En die toekoms moet dit hoor…

