
My ouma het ons TV die Eenooggod genoem. Sy het geglo die TV is groter as die lewe. Dominees en pastore het teen die Eenoogduiwel gepreek. Vandag weet ek waarom: TV’s kan praat. Mense luister en volg sy boodskap slaafs na.
Ek praat nie van die verskillende tale waarna jy op verskeie stasies kan luister nie. Ek praat van die taal waarna jy luister al hoor jy hom nie. Jy luister na hierdie taal wanneer hy praat in grimering, klere, voorkoms, musiek, beligting en effekte. Dit is die taal wat jou in sepie-sterre laat glo en hulle handtekeninge laat vra. Wat jou sekere klere, sjampoe en musiek laat koop. Wat jou laat glo dat Riaan Cruywagen skaars 50 jaar oud is (hy is my hero van graag 7!) en dat jou nuwe motor binnekort vervang moet word.
‘n Ruk gelede het ek en Wilma saam met ons vriend Kokkie en sy broer, Oom Oubie, in Mosambiek gaan kuier. Die instruksies na ons eindbestemming was as volg: “Ry na Maputo. Draai voor Maputo links na Xai-Xai. Ry van Xai-Xai na Chidenguele, en dan na Mandendere – dis so ongeveer 75km. By Mandendere, draai links by die twee groot Mangobome en ry op ‘n voetspoor-paadjie vir 20 km tot by ‘n boom met ‘n TV. Onder die boom staan ‘n TV, ‘n sambreel en ‘n sakkie. Draai links by die boom met die TV, volg dan die pad tot by die riviermonding. Ons plekkie is teen die mond – welkom by Bella Vida in wording!”
Ons het die instruksies noukeurig gevolg en by die TV onder die boom links gedraai. Die TV het my geïnteresseer. Ek kon nie wag om uit te vind waarom ‘n TV in die middel van nêrens onder die boom staan nie. Die mense wat daar bly vertel my toe die storie. Die TV is glo gesteel. Terwyl die dief met die TV, sambreel en die sak loop, praat die TV met die dief en sê: Waarheen neem jy my? Die dief skrik toe so groot en hardloop weg en los die TV net daar onder die boom. En so staan die TV onder die boom vir die laaste 7 maande. Die eienaar wil nie die TV terug hê nie omdat die TV kan praat en volgens hom getoor is. Die sambreel se storie is dat dit eendag na die kafee toe geloop het en gaan kyk het wie daar kom bier drink het.
Terug uit Mosambiek kuier ons en die kinders en kyk na die foto’s van die TV wat praat. Ons lag lekker oor die TV. Saam met die lekker lag dink ek aan my ouma se Eenooggod en ek wonder of die TV-dief in Mosambiek nie dalk iets gehoor het waarvoor ons doof is nie. Die TV praat. En eenvoudige bosbewoners hoor, terwyl geleerde rykes doof-onnosel is.
Ek hoor dat kinders meer as 4 ure ‘n dag TV kyk en dat pa’s hoogstens 15 minute ‘n dag hart tot hart met hulle kinders kommunikeer. Ek lees dat TV-persoonlikhede van die hoogs betaalde mense is. Ek sien hoe programme gemaak word oor hoe programme gemaak word. Dit is asof dit belangriker is om ‘n nuwe spesie op TV te vertoon as wat die ontdekking self is. Die TV definieer homself in terme van homself. TV gaan oor TV. Punt. My ouma was reg. ‘n Grootheid in homself. Eenooggod leef.
As pa wil ek veg dat tyd heilig in ons familie word. Indien ek my lewe weer kon leef, sal ek meer tyd met my kinders wil hê en minder tyd bestee aan pastorale krisisse en verpligtinge. Ek wil hê dat my familie soos Job ‘n verbond sluit met ons oë om na die regte dinge te kyk (Job 31:1 ). Of soos die Psalmis wat sy oë afwend van nietigheid (Psa 119:37). Die Message-vertaling beskryf nietigheid mooi: Divert my eyes from toys and trinkets, invigorate me on the pilgrim way.
Speelgoed kan nooit die plek van God neem nie en nog minder kan God speelgoed word. Ek wil my kinders leer om na Jesus te luister wat reken dat my oë ‘n lamp is wat my hele liggaam op ‘n nuwe koers kan bring (Mat 6:23). Die regte beelde kan ons die regte dinge laat hoor.
Ons het vir drie jaar sonder ‘n TV in Stellenbosch gebly. Ek het geswig onder die druk van Carissa en Milan en het oorgee aan die Eenooggod.
Nou wonder ek of ons luister as hy praat en weet wat hy regtig alles sê.
Die TV-dief kon dalk beter hoor…
Lees gerus Amusing Ourselves to Death van Neil Postman.
