Wanneer ses mans nie genoeg is nie…

by admin on May 17, 2010


Lucca ons seun is nou 22 maande. Hy begin nou die tipiese man-ding doen. Hy het ontdek oorsaak en gevolg en die wonderlike gevoel van beheer en in beheer wees. Sy geliefde woorde is natuurlik: Myne en nee! Hy gooi al sy speelgoed van die trappe af en sy geliefkooste speletjie is om klippe in die swembad te gooi. Hy weet baie goed hy mag dit nie doen nie en geniet elke oomblik as ons kyk – hardloop dan vinnig, tel die klip op en slinger dit die swembad. Daarna gee hy vir homself ‘n dawerende applous. Terwyl ek hierdie artikel skryf gooi hy my skoonpa se glas wyn stukkend met ‘n klein rubber balletjie!

Saam met die nee’s kry hy soms ook ‘n tik (en by Wilma tik-tikkie) op die vingers. Dit is soms die enigste insig wat Lucca kan kry in dinge wat hy nie mag doen nie en wat ook gevaarlik is. Alhoewel hy dit nou nooit sal kan verstaan nie, is die pyn wat hy soms moet ervaar ‘n teken van ons liefde vir hom. Daar is ‘n liefde wat jou moet seermaak om te verstaan dat dit ware liefde is!

Ek lees nou die dag dat kerkvaders geglo het dat daar twee dinge in die lewe is wat jou lewe transformeer: Liefde en pyn. In hierdie skool van denke is liefde en pyn nie geskei nie. Dit is soos ‘n muntstuk, die kruiskant van liefde is met ander woorde ook pyn. God se liefde sien ons die beste in die pyn van ‘n houtkruis. Ware liefde het altyd ‘n wond. Die haat wat ek moontlik kan ontwikkel wanneer iemand my verhouding verniettig het, dui natuurlik ook op die liefde wat ek vir die persoon het wat ek verloor het. Dan is haat met ander woorde ook liefde – net in sy donkerste vorm.

Dit is moeilik om so stelling te verstaan binne ons Westerse denke wat liefde en haat dualisties skei en liefde eerder wil idealiseer. Ons verban en besweer pyn en wil eerder na Jesus kyk as gelukbringer en nie as die een wat self sonde geword het en ook gely het nie. Geestelike materialisme is ‘n oer-oue mantra in baie kerke wat immuniteit teen pyn belowe.

In Joh 4 leer Jesus sy dissipels iets oor liefde en pyn.  Hy ontmoet ‘n Samaritaanse vrou. Haar lewe is een van seerliefde. Jesus doen weer die ongewone en breek al die kulturele en godsdienstige stereotipes en phobies. Hy praat eerstens met haar by ‘n put. Putte was die sosiale bymekaarkom plekke – soos ‘n piazza in Italië, of gewilde koffiewinkels. Rabbi’s sou nooit daar kuier nie. Tweedens praat hy met ‘n vrou, wat ook  binne Rabbynse tradisie ongeoorloof was. Derdens, is dit iemand wat in poligamie betrokke is wat ten sterkte veroordeel was en vierdens is sy ‘n Samaritaan wat beteken dat Jesus ook onrein sou wees.

Wat sou Jesus in hierdie vrou sien wat godsdienste mense nie in haar kon sien nie? Waarom begin Jesus ‘n gesprek sonder enige vermanings of veroordelings of berispings nie?  Want ware liefde loop na pyn toe. Jesus doen dit wat enige ware liefde voorveronderstel: Om te ken en geken te word. Hy skep ‘n veilige spasie van onvoorwaardelike liefde waar die vrou kan ontdek wie Hy is (vs 19) en waar sy ook kan ontdek wie sy werklik is (vs 17).

Seer veroorsaak dat ons altyd iets moet wys wie ons nie werlik is nie. Die vrou kruip weg agter haar identiteit (vs 9), begin met vergelykings (vs 12), word oneerlik alhoewel sy die waarheid praat (vs 18), en kruip weg agter haar godsdienstige oortuigings (vs 21).Haar soeke na intimiteit en ware liefde wat sy nie in ses mans kon kry nie, ontdek sy in iemand wat waarlik liefhet. Ek probeer myself ook net indink hoe sistemiese sondes (wat aan jou gedoen is) soos rassehaat, seksisme en morele meerderwaardigheid haar indentiteit en selfliefde moes verniettig het.

Elke mens leef met seerliefde. Ons wonde laat ons harder na liefde soek buite die kaders van voorwaardelike liefdes. Hierdie verwonding veroorsaak soms dat ons in donker of seerliefdes na ware liefde soek. Die verhaal van die Samaritaanse vrou is ook ons storie waar kulturele konstruksies en stereotipes soms ons pyn eksploïteer en liefde onmoontlik maak. Die enigste oplossing wat ons dan het vir donker of seerliefdes is ‘n oppervlakkige moralisme of godsdienstige bestrawwings. Vir Jesus is prekerigheid of beterweterigheid nie die antwoord vir haar soeke in ses mans nie, maar ‘n veilige spasie van onvoorwaardelike aanvaarding en begrip van waar sy tans in haar lewe soek. Jesus maak haar wegkruip plek veilig sodat haar wegkruip – net soos in die paradys – ook God se vind kan word.

Dan weet ek eers dat ses mans genoeg is…

Leave a Comment