Plasebo-liefde

by admin on March 26, 2010

Oorlede oom Ockert Brits het my geleer van plasebo. Oom Ockert was jare lank ‘n mediese doktor en ook ouderling in Mosaïek en Stellenbosch Gemeente. Hy het met beide sy voete plat op die aarde geleef. Nederig , hartlik en vol humor. Ek het my eerste rooiwyn in Stellenbosch saam met Oom Ockert gedrink.

Julie 1999 – ‘n goeie jaar.

Oom Ockert het geglo in die pil en die gos-pil. Daarom het hy ook vir al sy pasiënte gebid. Hy het altyd gespot dat die grootste gedeelte van sy praktyk bestaan uit tannies wat hul weeklikse plasebo-fix kom haal. Oom Ockert sou baie keer in ‘n ligte luim spot met plasebo-christene.

Placebo is ‘n substans wat gegee word sonder enige pharmaseutiese gevolge of voordele. ‘n Suiker pilletjie is voldoende vir die genesing. Die geloof is met ander woorde meer in die geloof oor die produk as die produk self. Die Latynse betekenis van plasebo is: “Ek sal behaag”.

Een van die mooi stories in die Bybel is die van Marta (Luk 10:38-42). Indien ek ‘n naam vir die storie kon gee sou ek dit plasebo-liefde genoem het. Die storie voel of dit glad nie pas nie want die vorige storie gaan oor die Barmhartige Samaritaan – een van doen – en nie jou lyf net Priester en Leviet hou nie. Hierdie storie is een van nie-doen – waar jou lyf soos Maria weer Priester en Leviet word.

Sy nooi Jesus na haar huis om te kom eet. Gasvryheid was in die midde Ooste nie net goeie maniere nie, maar deel van mense se geloofsgewoontes. Hulle het geglo dat jy God binne die vreemdeling ontmoet. Daarom herinner die Hebreërskrywer dat ons gasvryheid nie moet vergeet nie want sommige van ons het engele as gaste geherberg (Heb 13:1). Indien Jesus by jou kom eet kry jy sy dissiples saam met Hom. Vir Marta was dit nie te veel moeite nie.

Marta het een passie: Om Jesus te behaag.

Haar liefde en oorgawe aan Jesus bring geen transformasie nie. Haar liefde het slegs ‘n plasebo-effek op haar. Sy doen die liefde – maar ervaar dit nie. Selfs Jesus word nie deur haar liefde geraak nie. Dan gebeur iets vreemds. Sy projekteer hierdie leegheid en harde probeer op haar sussie Maria wat aan Jesus se voete sit met die woorde: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” vs 40. Marta leef in ‘n destruktiewe liefde met haar sussie. Sy wil beheer en voorskryf en oordeel. Dan word plasebo, nosebo. Nosebo beteken in Latyn: “Ek benadeel”. Kunsmatige liefde skakel altyd oor in donker liefde. Dan word godsdiens die donkerkant van al my projeksies. Nosebo-evangelisasie stel net belang in die fix – die vinnige en oppervlakkige pad uit – want jy hoef nie ‘n pad met mense te loop nie. Die wat iets weet van die navorsing wat oor nosebo gedoen is sal weet dat die fix gebeur – behalwe dat dit placebo bly… Dit is redding sonder redding.

Friederich Nietzche se definisie van geloof was om nie te wil weet wat regtig waar is nie. Dit is blinde geloof. Dalk wou Marta nie die oorsprong van haar probleem hoor nie – en dat haar diensbaarheid in die kombuis die veiligste plek was om van Jesus weg te kruip. Marta moes hoor dat liefde gaan oor om waarlik teenwoordig te wees. Dis die een ding wat ons nodig het om te kan lewe (vs 42). Marta is afwesig met ‘n verdeelde lewe. Fisies teenwoordig maar emosioneel en intellektueel afwesig.

Indien die strewe om te behaag my vertrekpunt van liefde is, is dit die verkeerde vertrekpunt. Indien die vertrekpunt is – ek is reeds behaag – maak dit ‘n nuwe wêreld moontlik! Dit was die woorde wat Jesus moes leer voordat sy bediening begin het: “…my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het…” Joh 3:12. Die enigste liefde wat ons kan gee is die liefde wat ons ontvang het. “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het…” 1 Joh 4:19.

Terug na Oom Ockert. Oom Ockert het op sy sterfbed geweier dat ek vir hom moet bid vir genesing – hy wou doodgaan. Hy het sy vrou, Tannie Joey – wat ‘n paar weke voor hom dood is – te veel gemis. Hy het alle medikasie geweier. Hy het ook in die hospitaal vir my gesê dat ek hom nie moet pla met besoeke nie, maar hy sal my self bel voordat hy doodgaan omdat hy my laaste wou groet.

Dit was ook so.

Saterdagaand lui my foon. Dit was Oom Ockert. Oom Ockert sê dankie vir mooi jare wat ons saam vir die Here kon leef. Ek het gehuil – en diep in my hart het ek gehoop en gewens dat ek ook eendag so kan doodgaan.

Sonder plasebo.

Leave a Comment