‘n Oor wat Hoor

by admin on February 5, 2010

ore1

‘n Ruk gelede het my regteroor toegeslaan. Ek het vermoed dat my oor vol was is. Wilma, my vrou, herinner my ook gereeld dat ek sukkel om te hoor. Ek het wel gevoel dat my dowe oor dalk vir my ‘n gawe kan wees aangesien Lucca, wat nou 17 maande is, ons ongeveer 7 keer ‘n aand wakker maak!

Verlede Saterdag het ek in Bettiesbaai saam met ‘n vriend gaan duik . Na die eerste paar meter onder water het ek geweldige pyn in die oor gekry. Die was het teen die oordrom gedruk – en veroorsaak dat die oordrom nie kon vibreer nie. Ek het te laat in Stellenbosch gekom om by ‘n doktor uit te kom, en was ook te laat vir die noodapteek. Gelukkig is my buurman ‘n apteker en het vir my sterk pynstillers gegee. Vir ‘n tyd  kon ek nie behoorlik hoor nie. My ore het getuit – kompleet asof daar ‘n wind in my kop waai. Dit het gevoel of ek êrens in ‘n lugleegte vasgedruk word. Sondag was een van die langste dae – veral die aand se preek by InVia!  Dit het gevoel asof ek myself twee keer hoor! Maandag was gelukkig ‘n goeie dag dit was soos ‘n wedergeboorte! ‘n Vriendin en mede-ouderling het die oor behandel en die oor uitspuit. Binne ‘n paar minute is die geluide en pyn weg en ek kon my gehoor herwin.

Ek kon nie anders as om hierdie storie ‘n paar keer te vertaal na my eie lewe nie. Ek sukkel met geraasbesoedeling en ‘n onvermoeë om die regte dinge te hoor – en veral om by God te hoor. Ek hoor met inspanning en onsekerheid. Wat ook beteken dat ek sukkel om die regte leiding te kan gee. Wat my wel troos is die feit dat my onvermoeë om nie te kan hoor nie – nie beteken dat ek nie kan hoor nie of dat daar nie stemme buite is nie. Ten minste is daar iets wat kan hoor! Hierdie “iets” wat kan hoor het Augustinus as ‘n “leegte” in ‘n mens beskryf wat net God kan vul. Die “leegte” self dui nie op God se afwesigheid nie – maar eerder op sy teenwoordigheid.  Jode noem dit die vlam van God. Buddiste noem dit die groot self of godgegewe natuur. Die Kwakers noem dit die innerlike lig of leraar. Humaniste noem dit identiteit of integriteit. Thomas Merton het dit van die ware self genoem. Paulus noem dit beeld van God (Imago Dei).

Dit is nie belangrik WAT ons dit noem is nie  – dit is belangrik DAT ons dit noem. Dit sal seker altyd ‘n misterie bly. Johannes vertel ‘n verhaal wat ons help om hierdie misterie beter te verstaan. Dit is soos die wind wat waai – jy kan sy geluid hoor maar weet nie van waar dit kom of waarheen dit gaan nie (Joh 3:3). Jesus leer Nikodemus dat hy wedergebore moet word. Wedergeboorte beteken letterlik “van bo gebore”. Jesus eis nie dwangmatige gehoorsaamheid nie – soos die meeste moralistiese bekerings waar ons bloot verligting van ons skuld beleef nie – hy wys hom ‘n ander wêreld waar God praat.

Die verhaal oor wedergeboorte gaan nie oor ‘n kortpad hemel toe nie – maar eerder oor die langpad aarde toe waar ons aardsheid in God nuut gemaak word. Ons word wedergebore om die dinge te sien wat na God wys “…it is not possible to see what I am pointing to…” (Joh 3:3, Msg). Die vleeswording was nie God se poging om hom meer God te maak nie – maar eerder om mens te word. So is dit ook dan seker ons taak om nie die aardsheid van ons hemels te maak nie, maar eerder om die hemelsheid (Imago Dei) aards te maak. Met ander woorde, om te ontdek wat God reeds gegee het of teenwoordig is. Dit is presies die les wat Jesus aan Nikodemus wil leer. “As ek julle die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as ek julle die hemelse vertel? “ Joh 3:12

Daarom begin geestelike begeleiding by die gewone lewe. Dit begin nie met godsdienstige oortuigings of morele pligpleging nie. Elke mens moet weet wie hulle is en dat ‘n grote God reeds in hulle lewe waai. Dis die goeie nuus of evangelie! Die skepping is immers voor die sondeval! Die vibrasies van die wind word vinnig weer gevoel wanneer die was van prestasies, oortuigings, geslag, of ras of een of ander sosiale konstruksie  nie meer ons identiteit bepaal nie – maar God.

Die oor wat  kan luister kan die gebed van Jesus “…in die hemel so ook op die aarde…” sien.

En dis mooi…

Leave a Comment