Veilige plekke wat gevaarlik is.

by admin on January 8, 2010

Veilige plekke kan baie gevaarlik wees. ‘n Klomp seevaarders en bemaningslede het dit op ‘n dag naby Kreta te duurste geleer. Hulle het in ‘n veilige hawe te lank gebly. Die hawe is Mooi Hawens genoem. Die hawe was beeldskoon en beskut teen die wind. Die winter het seevaart baie gevaarlik gemaak en daarom kon skepe nie te lank in Mooi Hawens vertoef nie. Daarom het Paulus hulle gewaarsku. Tog het hierdie mense teen Paulus se waarskuwing dit gedoen omdat hulle vas geglo het in die stuurman en die eienaar van die skip. Die gevolge was katastrofies. Die lang kuier in Mooi Hawens het byna hulle toekoms gekos. Hierdie storie lees ons in Hand 27: 1- 44.

Ons almal hoop en strewe na veilige plekke vir ons kinders omdat dit gemoedsrus oor die toekoms gee. Die probleem is net dat die toekoms al hoe meer onvoorspelbaar word en toenemend kom ons agter dat veilige plekke nie meer so veilig is nie. Daar is baie goed wat ek geleer is wat ek  doodeenvoudig nie meer kan glo nie.

Die gesegde: Van hero na zero is eie aan ons tydsgees. Dit is hoogs onwaarskynlik dat my kinders slegs een beroep in hierdie lewe gaan beoefen – dalk drie of vyf! Die sprong van ons ou plaastelefoon na Skype of Twitter wys op hoe groot die verandering is. Dis kwantum of kwantanium!

Veilige plekke word onveilig omdat:

•    VERANDERING teen die spoed van lig gebeur. Daar word nie net meer van sekondes  gepraat nie – maar van nanosekondes. Dit laat my dink aan die ou wat doktor toe gaan en in kennis gestel word dat hy nie meer lank gaan lewe nie.  Toe vra hy die doktor: Hoe lank sal ek nog lewe?  Die doktor antwoord toe:  10, 9, 8, 7….!

Die wêreld van BC en AC (before and after computers) lyk totaal anders.  Kennis verdubbel elke 18 maande – daar is skrywers wat meen dat dit elke 6 maande gebeur. Daar is ‘n nuwe webblad elke twee sekondes, nuwe produk elke 30 sekondes.  Die spoed van mikroprossesering verdubbel elke 18 maande en rekenaar pryse halveer weer in dieselfde tyd.  Elektronika het ‘n leeftyd van twee maande.  Wat vandag nuut en innoverend is, is reeds môre verouder.

•    CHAOS word die nagevolg van hierdie kwantumsprong.  Verandering is kompleks.  Dit is so vinnig daar is nie tyd vir refleksie nie. Die see of water is seker die beste metafoor vir chaos. Die lesers van hierdie verhaal in Hand sou seker gedink het aan Gen 1 met die aarde wat woes en leeg was, of Noag die eerste seevaarder en die uitwissing van die wêreld met water.

•    ONSEKERHEID word deel van ons besluitneming.  Verandering en chaos dwing ons om besluite temaak.  Daar is net te veel om oor te besluit.  Dit is etiese vrae wat ons menswees ten diepste raak. Stamselle, genetiese manupilering, mikro skywe om my geheue te vergroot, klonering en chemiese- en kuberoorloë is van die enkele vraagstukke waarmee ons gekonfronteer word. Die wêreldekonomie word binne ‘n paar sekondes in 2009 afgeskakel. Alles word heroorweeg en bevraagteken. Daar word gereken dat die grootste waarde skuif in 50 jaar paasgevind het. Die vraag is net: Na watter waardes word ons geskuif?

Ons word almal genoop tot agente van verandering. Soos Paulus moet ons soos profete waarsku en soos leraars leer en verduidelik. Die lewe ‘n reis is en nie ‘n bestemming nie. Verandering is deel van hierdie reis. Verandering is deel van ons skeppingsdoel. God het die aarde en die mens geskape met die woorde: Dit is goed. Die woord goed beteken: Potensiaal.  Gedagtes, woorde, drome, dade is swanger met potensiaal wat nooit die kan nooit dieselfde bly nie.

Storms is soms veiliger as Mooi Hawens. God word ook in die stilte en storms ontmoet. Op ‘n manier leer choas ons ook iets van orde. Chaos leer ons dat daar goed buite ons is wat groter as ons is.  In elke vorm van chaos is daar ‘n vorm van orde.  Water kan verander in ys, sneeu en druppels maar dit bly dieselfde ding : water.

Die nuwe wêreld gaan oor keuses en om dit vinnig te maak. Tom Peters reken dat die leierskapsmotto in die oudae was: Mik…Gereed…Vuur…! terwyl dit vandag is: Vuur…Vuur….Vuur…! Keuses gaan nie meer soseer oor wat reg en verkeerd is nie, maar eerder oor wat die beste is. Dit gaan nie meer soseer oor wat ons kinders moet doen nie, maar eerder oor wie hulle moet wees. Die enigste sin wat ons in die wêreld ontdek, is die sin in onsself – en dit is om nie soseer aan te pas by al die veranderings om ons nie, maar eerder om verander te word sodat die aanpassings vanselfsprekend sal wees.

Leave a Comment