Vir ’n duisend wat kan dink kan net een sien.
- John Rushkin -
Kersfees nooi ons uit om te kyk. Herders in ‘n ope veld het gaan kyk. Wyse manne uit die Ooste het gaan kyk. Profete, engele en gelowiges het gaan soek en kyk na Jesus wat lig genoem sou word. Almal kon nie sien nie. Die lig was nie soos die helder Betlehemstêr nie – maar eerder weggesteek in ‘n vuil krip tussen randfigure. ‘n Menigte kon hom nie raaksien nie.
Dan was daar die persone wat gaan kyk het, en kon sien. Maria en Josef kon sien. Sagaria en Elisabet kon sien. Simeon kon die baba Jesus optel en sê: …nou het my eie oë Hom gesien (Luk 2:30). En vir hulle wat kon kyk en sien het die lewe ‘n nuwe ervaring en betekenis geword. Engele en mense moes daaroor sing. Daarom begin die storie van Maria, Sagaria en Elisabet en Simeon en Anna met ‘n lofsang.
Wat my fasineer van die verhaal is die feit dat die sien niks te make het met goeie preke, of wonderwerke, of openbarings nie. Selfs die baba Jesus is genoeg om jou lewe te verander. Jy hoef net te kyk. Jy hoef nie oorreed te word deur nuwe bewyse nie. Jy hoef nie nuwe informasie te kry nie. Nog minder hoef jy skuldig te voel oor jou sondes sodat jy gered kan word. Jy hoef nie betower te word deur nuwe wonderwerke of die aanspraak op ‘n beter moraliteit nie.
Jy hoef net te kyk.
En daarom is die belangrikste vraag met Kersfees: Wat sien jy?
Vandag is daar mense wat jare blind was wat weer kan sien. Gevorderde tegnologie maak dit vandag moontlik dat sekere mense wat blind is, weer kan sien. Sekere steurnisse in die oog kan deur laserbehandeling verwyder word sodat sig of beter visie moontlik is. Daar word tans baie navorsing gedoen oor mense wat weer hulle sig herwin en veral die aanpassings wat hulle moet maak om weer in die samelewing normaal te funksioneer. Ek het onlangs ‘n storie gelees van iemand wat vir die eerste keer na 53 jaar weer kon sien. Hy wou eerder weer blind wees. Die probleem is dat daar geen verwysingsraamwerk van ervaring en betekenis is om dit wat hulle sien te kan interpreteer nie. Dan kies die persoon om eerder nie te sien nie en intellektueel blind te wees.
Jesus het die metafoor van blindheid gebruik om mense aan God se wêreld voor te stel. Die probleem is nie om te sien nie – maar eerder wat jy sien. Daarom bring ‘n verkeerde kyk en sien ook verkeerde vrae. Dink maar die vrae oor Jesus: Is Hy nie van Beelsebul nie? Is Hy Elia? Is Hy nie die seun van ‘n timmerman nie? Is Hy nie die broer van Jakobus nie? Hierdie vrae kom uit ‘n verkeerde kyk na Jesus. Wat ons kan leer uit die vrae is dat die manier hoe ons na Jesus kyk deur ons eie sosiale konstruksies bepaal word. Sosiale identiteit speel ‘n deurslaggewend rol in ons geloof.
Natanael is ‘n klassieke voorbeeld. Hy word genooi na Jesus maar is nie positief nie. Sy beswaar is: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? (Joh 1:47). Sy werklikheid word subjektief bepaal. Elkeen van ons het diep gepersonaliseerde persepsies van die werklikheid. Jesus breek hierdie persepsies deurdat hy Natanael bewus maak dat dit nie hulle eerste ontmoetting is nie. Jesus het hom reeds onder die vyeboom gesien. Om te sien is nie soseer ons soek en vind van God nie, maar eerder God se soek en vind van ons. Om deur God gesien te word laat ons sien!
Om in hierdie wêreld te kan oorleef is nie maklik nie. Dit is soms vir my moeilik om te glo dat Kersfees ‘n goeie tyding vir almal kan wees. Die nood en gebrokenheid is net te groot. Dit is makliker om eerder te kies om nie te sien nie. Tog weerklink die hoop in Nuwe Testamentiese briewe wat geskywe is aan mense wat in die diaspora moes veg vir oorlewing: 49 keer word gelowiges uitgenooi met die twee woorde: Kom Kyk!
Dit was ook Fillipus se antwoord op Natanael se probleem met Jesus: Kom kyk (Joh1:47). Dit som Kersfees op. Dit is die goeie nuus vir elke nuwe jaar. Dit is die twee woorde wat die hemel laat sing.
Mag jy God sien!
Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar!
