Die dood van Chris Louw het Suid-Afrika geruk. Die meeste van ons wil hê dat helde anders moet sterf. Hy sterf met ‘n vraagteken en nie met ‘n uitroepteken nie. Sonder antwoorde en die hoop waarvoor hy geveg het – met ‘n hoofstuk wat nie klaar geskryf is nie. In Chris se laaste sms aan Beeld oor ’n “storie vir julle, enkelkolom op bl.3”– word daar bespiegel of sy dood groot of mindere nuus sou wees.
Die nuus is groot – en dalk baie groter as wat selfs Chris dit kon antisipeer. Die kommentaar oor sy lewe wissel van opregte waardering tot politieke uitbuiting en selfverheerliking. Ek het geen twyfel nie dat Boetman-woorde ook hard sou val indien Chris kans gehad het om sy dood self te kon verdedig. Hy ken van jakkals en lam wat saam lê.
Die nuus is groot omdat Chris iets in elkeen van ons verpersoonlik: ‘n lewe wat baie harder is as ons terapeutiese voorgee en resepmatighede. Elke mens kom op ‘n plek in sy lewe waar hy met Chris se laaste woorde gekonfronteer word: “Ek kán nie meer nie.” Ons weet hoe om van pyn weg te hardloop of dit bloot net te ontken. Ons het genoeg speelgoed en medisyne om die pyn te verdoof. Soms is selfs die dinge wat heilsaam lyk juis ook deel van hierdie gevaarlike medisyne en speelgoed. Persoonlike sukses, persoonlike geluk en persoonlike saligheid belowe ‘n sorgvrye pad na die hemel. Dit is die wellus en vloek wat baie godsdienskamers dryf om die leuen te verkoop van ‘n lewe wat nie hard is nie. En gryp ons almal nie soms na hierdie utopistiese leuen nie? Die nuus is ook groot omdat Chris het die sondebok geword wat baie Suid Afrikaners se skuld dra. Daarom word hy bemin. Ek is trots op mense soos Chris Louw, Beyers Naude, Max du Preez, Helen Suzman, Dawid Bosch, Van Zyl Slabbert en baie ander wat bereid was om ook profeet te word en deur hulle eie nie geëer te word nie, maar om te staan vir dit wat reg en regverdig is. Om die pyn van ander te voel en te spreek namens hulle wat geen stem het nie. Dit word stories van hoop wat kan help dat ons skuld kan genees. Hierdie tipe projeksies is inspirerend en word stories wat die nuwe generasies ‘n toekoms gee.
Dan is hy ook sondebok in ‘n negatiewe sin. Waarheid wat nie in die gesig gestaar kan word nie, ken net een uitweg: Kry ‘n sondebok wat die straf moet dra. Amerika het die sondebok van die Taliban geword en die Taliban die sondebok van die Amerika. Iemand moet die oorsaak van die probleme (ook my probleme) wees. Die negatiwiteit in my eie gemoed is nou minder bedreigend. So raak Amerika, of die Taliban of Jode, gays, swart of witmense, of kommuniste, die gevaarlike manier hoe ek die ware oorsaak van my eie krisisse vermy, die middel tot ‘n doel: ‘n Plek waar my negatiwiteit kan rus. Ongelukkig verpersoonlik Chris dit ook. Die projeksie van verkrampte Afrikaners soos Piet Rudolf van die Boerevolk met sy resensies oor Chris, is die toonbeeld van selfverwaandheid waar hulle haat en vrees kan rus. Chris se dood bring ook ‘n baie ou debat terug op die tafel: Hoe moet Christene dink oor selfmoord? Die oordrewe selfversekering en onsimpatieke veroordeling wat jy soms in Christelike kringe hoor, maak die debat self onchristelik. Ek onthou hoe ek oor selfmoord in die kerk geleer is. Dit was die sonde teen die Heilige Gees wat nie kon vergewe word nie. So ‘n oortuiging is vernietigend vir jou geloof, veral as jyself vriende of familielede op so manier deur die dood afstaan. Dit word ‘n kanker wat jou siel wegvreet. Christene kon deur die eeue ook nie uit een mond oor selfmoord praat nie. Ons weet dat vroegste kerkvaders soos Augustinus en Aquinas dit as sonde veroordeel het terwyl Justinus gedurende die Bisantynse tydperk dit nie veroordeel het nie. Die eerste Christene het ook probeer om selfmoord binne hulle Joodse erfenis te interpreteer. Daarby sou hulle ook hulle geloof binne Jesus probeer verwoord het. Die lewe was heilig vir enige Jood en daarom kon jy nie jou eie lewe neem nie. Tog was daar uitsonderings waar Jode selfmoord gepleeg het. Dink maar aan die massa-selfmoord by Masada en ander plekke waar Jode hulle eie lewe geneem het. Die gebed “Wanneer die mes teen jou keel is” is gebid wanneer daar selfmoord gepleeg is. Selfmoord is met ander woorde gekontekstualiseer. Dit is ook nie vreemd dat daar in alle godsdienstige denkrigtings verskeie regverdigings vir selfmoord is nie.
Jy hoef nie ‘n Christen te wees of die regte Bybelverse te hê om ‘n oortuiging te hê dat dit verkeerd is nie. Die vernietigende effek wat dit in ons kinders en ander geliefdes het praat van die vloek van so ‘n daad. Die sonde van selfmoord is egter nie groter of iets anders as al ons ander sondes nie. Selfmoord is ‘n daad van selfsug – deel van dieselfde genetika wat daagliks binne my woel wanneer ek menige sondes van selfsug pleeg. Indien die debat gaan oor die graad van selfsug kan ons seker een of ander regverdiging kry vir ons dade. Ek wonder soms of ons eie selfsug nie die selfsug in selfmoord veroordeel nie. Miskien moet die debat eerder gaan oor die self, en minder oor die moord. Ongelukkig word die hoofstroom debat binne die kerk bepaal deur ‘n hemel-en-hel-teologie. Die enigste vraag wat dan beantwoord moet word is of die persoon wat selfmoord gepleeg het in die hemel of in die hel is. Iets wat jy nie in die Ou Testament kry nie. Die verkeerde vrae lei noodwendig tot die verkeerde antwoorde. So ‘n debat is wreed want dit stel nie belang in die mens se konteks en sy eie self en storie wat baie meer kompleks is as ons vinnige etiketering en Bybelse beswerings.
Daarom radikaliseer Jesus moord as iets baie meer as net die oortreding van ‘n gebod. Sy maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake ontbloot ‘n wêreld van morele meerderwaardigheid waarin eksterne voorskriftelikhede God gevange hou in ‘n krampagtige veroordeling en beterweterigheid. Die maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake relativeer sonde binne ‘n morele verstaan. Sonde het nie graderingsverskille nie. Nog minder ‘n simplistiese oorsaak dinamika soos wat daar vir Chris se dood opgedis word. Daar is byvoorbeeld nie ‘n verskil is tussen ‘n AK47 waarmee ek selfmoord pleeg en ‘n mes en vurk waarmee ek my letterlik dood eet nie. “En sit ‘n mes voor jou keel as jy ‘n goeie eetlus het!” (Spr 23:2). Deur jou broer Raka te noem beland jy in die beskuldigingsbank. Jesus praat ook van owerspel in die kop, haat as moordwapen, en koppel vrees en angs aan die diepste resesse van die siel. Johannes maan ook dat wie sy broer haat ‘n moordenaar is (1 Joh 3:15). Lê intellektuele of emosionele moord nie dalk nader aan fisiese moord as wat ons dink nie. Hoeveel van selfmoord is soms nie eerder moord nie? Wat is meer bedrieglik as ons eie harte? Indien ons sukkel om onsself te verstaan – hoe ironiese dat ons presies weet wat in ander mense aangaan en hulle motiewe kan peil?
Enige mens wat hierdie woorde ernstig opneem sal gestil word deur sy eie donker wat aan die lewe klop. Antieke gelowiges het gepraat van die donker nag(te) van die siel. Dit is om God te vind te midde van die nag en nie ten spyte daarvan nie. Ons evangeliese tradisies wat ons van herlewingspredikers geërf het bied geen raamwerk en verstaan vir hierdie sielswerk wat so nodig is nie. Tradisies soos die kontemplatiewe tradisies het weer hierdie stryd deel gemaak van die Christelike reis. ‘n Reis wat ten volle kan identifiseer met Jesus se lewe wat ook eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie: “My God , my God…?” (Matt 27:46). Iemand wat hom doelbewus voorberei vir sy dood: “Niemand neem my lewe nie, maar ek lê dit self af…” (Joh 10:18).
Die Christelike boodskap is een van pyn waar God binne die donkerste nag ontmoet kan word. In daardie ontmoeting vind die opstanding plaas. Dit word hoop genoem. Hoop ken net een taal – dit is liefde. Chris kon nie hierdie opstanding in hierdie lewe vind nie – dalk soos baie ander wat vandag dalk nog leef, maar sonder enige hoop. Wat Chris wel nodig gehad het en nou nog verdien, is liefde.
Want dit gee God nou aan hom, en ons.
