Onbeantwoorde Gebed

by admin on November 11, 2009

My kinders help my om God beter te verstaan.  Die eerlike rou vrae en antwoorde  is soms soos ‘n dolksteek – dan probeer ek luister. Hierdie stiltes bring gewoonlik ‘n nuwe hoorbare bewustheid van God.

Een so insident het gebeur toe my dogter, Carissa 3 jaar oud was.  Die spesifieke dag was sy ondeund en pa moes hard praat.  Ek het haar op die kombuistafel gesit, in die oë gekyk en gesê:  Carissa jy maak pappa se hart seer.  Sonder om te skroom antwoord sy:  “Woon liewe Jesus dan nie in jou hartjie nie?”  Vir haar is dit onmoontlik dat haar pappa enige pyn kan ervaar met Jesus in sy hartjie.  Die vorige week het haar maatjie ook vir haar by die kleuterskool gesê dat dit seker baie op Jesus se kop moet sneeu nadat hulle roomys geëet het!  Hoe Carissa dink oor die boodskap van Jesus is maar soos ons almal dit leer in die Sondagskool. ‘n Jesus wat my ook ‘n hero maak. Om een of ander rede wil ons dit glo. Ons wil glo dat Jesus ons immuun maak teen enige seer en teleurstellings  (so terloops dit is ’n baie bekende lering wat Triomfantalisme genoem word).

Een van die moeilikste dinge van pa wees is om antwoorde te gee wanneer daar nie antwoorde is nie.  En dit veral wanneer ons as gesin vir sake saam bid.  Hoe verduidelik ek my egskeiding aan ‘n 10 jarige dogter wat kinderlik glo, bid en huil vir die herstel van haar pa en ma se huwelik?  Hoe verduidelik ek spierdistrofie en die dreigende blindheid wat my kind in die gesig staar.  Hoe verduidelik ek my werkloosheid of die 46% van ons land se bevolking wat onder die broodlyn leef?  Ons gebede klink heel anders as die gebede van die 46% van ons land wat God moet vertrou om bo die broodlyn te leef.  CS Lewis het tereg gesê dat elke hongersnood, ramp en sterfbed is ‘n versoek wat nie beantwoord is nie.

Ons kultuur het ‘n groot invloed hoe ons na gebed kyk.  Alles is vandag kits en vinnig.  Bigger is beter word sinoniem met God se seën.  Superman-fantasieë vul ons gebede.  Die Bybel word soos die Geelblydsye en vir elke vraag is daar ‘n antwoord.  Ontmoet maar net Job se vriende dan hoor jy dat jy nie genoeg geloof het nie, sonde gedoen het of te veel gevrees het.  Ek het geen twyfel dat baie ons gebede soms net te onbeduidend en ligsinnig is om te antwoord.  Dink maar aan al die versoeke wat Jesus nie kon antwoord nie (Mat 17:4; Mat 16:22; Luk 9:54; Mat 20:20 -21).  Hoe antwoord die Here al ons sport gebede?  Floyd Patterson het gesê nadat hy wêreldtitel wen:  “I just hit him and the Lord did the rest!” (Dit moet ook seker moeilik wees om teen ‘n ou en die Here te boks!)  Ek brand om te weet wat bid die meeste rugbyspelers as hulle kniel op die veld voor die game. (As ek na Bakkies kyk – dan vra hy seker byvoorbaat om vergifnis!) Ons bid en getuig met oorgawe nadat ons wen maar bitter min as ons verloor.  Dan word Carissa se vraag of Jesus in jou hartjie is seker baie relevant.

Ek het groot geword met hierdie woorde: “Gebed is om met God te praat”. Ongelukkig het hierdie praat wenslyssies en voorskriftelikhede geword. Gebed moet ons na een plek neem: “Om na God te luister”.

En dan veral te luister na:

•    Mag.  Daarom is gebed wonderlik maar ook gevaarlik.  Indien die duiwel Jesus versoek word met mag sal ons seker ook daarmee versoek word.  Wanneer word my gebede superstisie, manipulasie of suggestie?  ’n Groter vraag moet wees wat wil ek doen met die gebed wat beantwoord word en hoe sal dit ander mense kan dien?

•    Roeping.  Gebed het alles te doen met my lewe.  Dit is nie net woorde of versoeke wat ek na God toe bring nie maar my lewe.  My roeping teenoor my vrou, man kinders, omgewing en orals waar ek leef word die konteks vir gebed (Spr 21:13, Gal 2:20 en Jak 1:27).

•    Misterie.  Ons bid met geloof en nie vaste sekerhede nie.  Daarom vra Jesus nadat Hy oor gebed leer “sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”(Luk 18)  Soms voel ons die verste van Jesus as Hy die naaste aan ons is.  Soms is sy antwoord om nie te antwoord nie.  Jesus se lewe eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie:  Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 27:46)

Leave a Comment