My laaste woorde aan Oom Preiss

by admin on October 20, 2009

Ek het vanoggend 5:30 ‘n sms gekry: Oom Preiss Carinus is nou net oorlede. Ek het gereed gemaak en na Oom Preiss se plaas, De Goede Hoop, net buite Stellenbosch gery. Hulle was besig om Oom Preiss in die ambulans te laai. Oom Preiss is in sy slaap dood. Die familie het vir ‘n paar uur rondom die bed saam met Oom Preiss gesit nadat hy gesterf het. Seker net soos in die oudae. Dood was iets natuurliks. Mense het rondom die lyk gehuil, gegroet en totsiens gesê.

Niemand weet waarvan Oom Preiss dood is nie. Hy het stil gegaan. Tannie Renè, sy vrou, het gesê dat dit is hoe hy wou gaan. Hy was 78 jaar oud. Ek het die Carinusse ontmoet in 1999. Daar was bitter min lidmate op die register en met min moeite kon ek maklik by lidmate uitkom. Ek het gehoor Oom Preiss is gerug. Die Carinusse is bekend op Stellenbosch en ook die wynbedryf. Oom Preiss is self ‘n  wynboer. Dit was nie maklik binne die AGS nie. Oom Preiss het as kerkraadslid die Here probeer dien as wynboer. Op ‘n dag verskyn hy op die voorblad van die Distrikspos met ‘n glasie wyn in die hand. Oom Preiss bots toe met die ferme tug van die AGS. Hy het die onvergeeflike kerkraadslidsonde gepleeg: Hy het wyn gedrink. Hy is van sy amp onthef. Nadat ek die storie gehoor het wou ek baie graag Oom Preiss ontmoet het.

Dit was ‘n wintersmiddag met die mooie son en wolke wat oor die berge hang. Ek is ontvang met wyn en neute. Ek kon dit nie glo nie – na 10 jaar se bediening in Gauteng het niemand my nog wyn op huisbesoek aangebied nie. Dit 14h00 in die middag. Ek het soort van skuldig gevoel. Van wyn het ek nie veel geweet nie – behalwe dat ek geweet het: Hier op Stellenbosch gaan dit nog lekker raak… Ek onthou die sitkamer en plaashuis met die ongelooflike mooi berge. Die een kosyn na die badkamer is baie laag – die dag stamp ek my kop teen die kosyn. Ek kon nie onderskei of dit die wyn of kosyn is wat my kop laat draai het. Dit was ‘n  lekker kuier. Jy weet wanneer jy met mense connect. Hulle aards en eg mens.

Vandag was hartseer. Dieselfde plaas. Met dieselfde betowerende berge. Die mooiste son en mis wat hang. Ek het weer my kop teen die kosyn gestamp – op ‘n kol het ek gedink nou is ek saam met Oom Preiss! Alles dieselfde maar niks dieselfde. Oom Preiss is dood. Dit maak die berge anders. Die son skyn ook met donker. Ek het Sondag vir ‘n paar minute met Oom Preiss na kerk gesels. Hy wou alles van Lucca weet. Hy het my verseker dat hy en Tannie Renè bid elke aan vir my en Wilma. Ons het gegroet net soos elke Sondag maar met een verskil: Dit is my laaste woorde met Oom Preiss…

Vandag is ek hartseer. Ek sal Oom Preiss mis.

Ek wonder die heeldag wou sou ek anders vir Oom Preiss gesê het as ek geweet het dat dit die laaste keer in my lewe is wat ek die voorreg het om iets vir hom iets te sê…

{ 2 comments… read them below or add one }

Antoon October 23, 2009 at 11:25 am

Hoop dat ek en jy ook Oom Press se soul sal he.

Lou-Ann November 23, 2009 at 11:47 am

Wow, dis ‘n mooi verhaal. Ek’t al baie hieroor gewonder – die ding dat ‘n mens soms grootword met die idee dat die dood geweldig finaal is. In ons tastende wêreld word verlies dikwels as ‘n “minus” beskou. So ‘n jaar terug lees ek The Tibetan Book of Living and Dying vir ‘n tesis. En soos The Naked Now, was dit daardie mistieke blik op baie stoflike wêreld wat jou help om soms jou eie idees vir ‘n wyle opsy te skuif en ‘n ander manier van kyk aan te neem. Nie dat dit iemand by ‘n oop graf gaan laat dans van geluk nie…
Ek weet nie, het sommer hieraan gedink toe ek die storie van Oom Preiss lees

Leave a Comment