Lucca is tas-sensitief. Hy het onlangs een jaar oud geword.
http://www.youtube.com/watch?v=Kicq6e1NJIo
Hy raak net aan sekere voorwerpe waarmee sy brein kan identifiseer en die ander word verwerp. Tas-sensitiwiteit word vergelyk met iemand wat sy naels teen ‘n swartbord krap of wanneer iemand sy naels te kort afgesny het. Daarom ervaar Lucca soms pyn en angs met aanraking alhoewel enige ander kind dit as normaal sal beleef.
Nou die dag bak skoonma heerlike boerebeskuit. Die hoogtepunt is altyd wanneer dit uit die oond gehaal word. Dan vier ons teepartytjie en almal smul aan die beskuit. Lucca hou van sy kos – soos my skoonfamilie – eet alles, en nog meer. Ek het vir hom ‘n warm stuk beskuit afgebreek en gegee. Met ‘n mond wat water, het Lucca volsterk geweier om dit met sy hande te neem. Toe buk hy af en tel dit met sy mond op!
Lucca vermy sekere plekke en strukture. Sy wêreld is tans baie klein en hy weier om die onbekende naby aan hom toe te laat. Hy lewe defensief om homself te beskerm en sy aandag word baie vinnig afgelei. Die fisioterapeut het vir ons ‘n klomp oefeninge gegee om Lucca mee te help. Hy moet ‘n klein balletjie tussen ‘n klomp sade uithaal. Hy weier natuurlik volsterk om sy hand daarin sit. Hy moet ook buite op die gras kruip. Hy kruip letterlik met sy voete in die lug en met een hand op die gras. Elke aand word Lucca gekam met ‘n klein sagte borseltjie. Sy giggeltjies is aansteeklik – sy ou lyfie hoendervleis uit totdat die kiellie nie meer verdra kan word nie.
.
Deur hierdie eenvoudige oefeninge en ander, kan Lucca sy funksies verbeter en terug herwin. In die VSA staan die terapeutiese proses bekend as repatterning. Dit is uitgangspunt is eenvoudig: Die brein moet van voor af geleer en geprogrammeer word om sekere voorwerpe te ken en te identifseer.
Ek dink dat die Via van Jesus die beste as repatterning verstaan kan word. Ons moet geleer word om sensitief te word vir ‘n baie belangrike wêreld wat onnatuurlik vermy word. Dit is die wêreld waarvoor ons gemaak is en die wêreld waarin God woon. Hierdie is geen mistiese idee of een of ander geheime kennis oor God nie. Dit is om die God te ontdek wat ons elke dag voor oë vermy. Om die brein nuwe maniere te gee om die aarde wat vol heerlikheid is, te ontdek (Jes 6:3). Om terug te kom na die plek waar ons nog altyd was. Om te sien waarna ons nog altyd kyk.
Die woord bekering kom van die Griekse woord metanoia. Meta beteken bo en noia beteken denke. Ongelukkig dink ons aan het bekering as ‘n meganiese transaksie binne ‘n moralistiese verstaan. Die transaksie is eenvoudig: bely jou sonde, gee jou hart vir die Jesus en neem Hom as jou persoonlike Saligmaker aan en lees jou Bybel en bid elke dag. Dan bly daar net “sondbestuur” oor. Dallas Willard meen dat: “ The gospel of sin management produces Christian vampires who wants Jesus for his blood and nothing else”. Hierby bedoel hy bloot dat die lewe van Jesus voor Goeie Vrydag net so belangrik is as Goeie Vrydag self. Alles wat op die kruis gebeur is die somtotaal van Sy lewe. Indien bekering slegs ‘n transaksie of ‘n resep is dan het ons nie die kruis nodig nie. Ons lewe, eerder as ‘n paar morele voor- of afkeure, word ‘n belydenis. Jesus word nie net in hart genooi nie, maar ook na ons lewe en hy word nie net my persoonlike Saligmaker nie maar ook die Saligmaker van die wêreld. Redding is nie ‘n afgehandelde transaksie nie, maar eerder die aanhoudende transformasie wat binne ons plaasvind waar God ons denke skuif na die groter en bo-prentjie wat ons nodig het. Die korrekte vertaling van Hand 2:46 is: en die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat besig is om gered te word…Jesus het dit die koninkryk van God genoem. Dit is waar God die koning word en alles herstel op hierdie aarde.
Bekering gebeur nie net in ‘n kop nie – daarby bedoel ek informasie– maar ook met ‘n hart. Metanoia gaan ook oor die dinge wat ons voel, beleef en sien. Dit is veel eerder ‘n bewustheid as informasie wat gegee word. Dit is baie eerder vrae as antwoorde wat gegee word. Dit gaan ook nie net oor vrae per sé nie, maar die regte vrae. Die vrae het te doen met die storie van my lewe en hoe dit inpas by die groter storie wat God deur die eeue in die geskiedenis skryf. Daarom vertel Jesus gewone stories oor saad, voëls, bome, familietwis en die allerdaagse lewe waarin ons God ook kan ontmoet. Hy probeer om God ook buite die tempel aan mense te verduidelik. Hy kan God ook in die lelies en mossies wys. Indien ek God nie in my hele lewe kan ontdek nie sal ek Hom moet beperk tot die kerk of die tempel soos in Jesus se tyd. My geestelikheid sal tas-sensitief en selektief wees.
Metanoia genees ons van tas-sensitiwiteit. Dit laat ons op nuwe maniere ons eie lewe en die wêreld voel en waardeer. Waar die meeste spiritualiteite ons wêreldvreemd maak, maak metanoia ons eerder meer mens. Ek kan Lucca dwing om aan sekere voorwerpe te raak – maar daardeur ook sy lewe vernietig. Sy denke moet eers verander oor die voorwerpe wat ons bang maak. Enige godsdiens sonder ‘n ware metanoia is arm en kan alleen deur die enjinkamers van moralisme gedryf word.
Hierdie is die Via wat elke volgeling van Jesus moet loop. Soms na plekke wat nou te pynigend lyk.
Maar wat nodig is.
En goed.

{ 2 comments… read them below or add one }
Hello Theo
Ek het sopas die grootste gedeelte van julle webwerf deurgelees. Baie hartlik geluk met die suksesvolle kerkplanting. Ek is seker dat om ‘n kerk te plant een van die grootste “geloof-bouende” ervarings is waardeur enige mens kan gaan, en bid julle God se rykste sëen toe.
Ek wil graag net iets uitwys in jou teologie in die bogenoemde skrywe, oordat Redding ‘n “work in prgress” is. Ek is 100% seker dat die meeste mense hierdie konsep verkeerd verstaan omdat hulle nie weet wat met jou liggaam, siel en gees gebeur wanneer jy gered word nie. Ek wil jou graag nooi om ons artikel oor hierdie onderwerp te lees, kliek op die volgende skakel (lees dit asseblief eers voordat jy my brief verder lees):
http://www.newcovenantgrace.com/afrikaans/gees-siel-ligaam/
Indien ons nooit “heeltemal” gered is nie, verooraak dit by die kerk van God ‘n gebrek aan geloofsekerheid, en dit beteken dat ons redding afhang van hoe goed ons “perform”. Dit impliseer dat ons op ons eie vlak van gehoorsaamheid staatmaak vir ons saligheid, en nie vertrou in die krag van die bloed wat ons eens en vir altyd gereinig het nie (Heb 10:14).
Ja ons optrede is nooit 100% na wense nie, maar dit is slegs omdat ons verstand nog nie hernu is nie. Daar is NIKS fout of tekort in ons gees nie, omdat ons ‘n 100% geregtige wedergebore gees aan die binnekant het, wat geskep is in die beeld van Christus (Ef 4:24 & Kol 3:10). Ons gees het 1 gees geword met God se Gees (1 Cor 6:17 But he that is joined unto the Lord is one spirit).
Ek wil jou aanmoedig om graag enige vrae wat jy het oor hierdie onderwerp, veral oor geregtigheid en redding, aan ons te rig. As jy wil, kan jy inskryf om elke week ons gratis weeklikse Genade-boodskap direk in jou e-pos inboks te ontvang, sien die “kontak/skryf in” bladsy vir besonderhede.
Dis ons passie om die ligaam van Christus te sien groei in volwassenheid in, om die koninkryk van God te sien uitbrei en manifesteer in ons midde en om te groei in die belewenis-kennis (epignosos) van ons liefdevolle Vader.
In Genade
Andre van der Merwe
Andre dankie vir jou mooi wense. Ons hoop dat InVia ‘n Jesus-community kan word wat regtig ‘n verskil maak op die plekke waar God elkeen geplaas het.
Dankie ook vir jou besorgdheid oor twyfel. Ek dink ek verstaan wat jy bedoel by geloofsekerheid – tog dink ek dat dit ook baie verwarrend is – en dalk ‘n oksimoron wat geloof baie ontoeganklik maak vir hule wat eerlik daarna soek. Indien iemand sekerheid het, waarom soek ‘n mens dan nog geloof? Indien geloof gelyk is aan dogmatiese oortuigings of kennis dink ek ons maak God oorbodig. Kyk maar na die evil spinoff van sekerheid – verdeelheid, oorlog, beterweterigheid, hoogmoed, en die lys hou nie op nie. Is dit waarom daar 33 830 Christelike denominasies is wat hulle (byna) almal beroep op die waarheid?
Ek strewe meer na ‘n epistemologie soos wat ek in Jesus en Paulus sien waar die metafoor ‘n “beginners mind” is – soos die van ‘n kind – of ‘n God wat ook “ontoeganklik”, “onbeskryflik”, of “ondeurgrondelik” is. Ek probeer ook soek ook buite die kaders van die rede – of na die ervarings wat “die verstand ten bowe” gaan – of om ook die taal van die wil, emosies en hart te hoor.
Ek glo ons “bou” op geloof nie – en glo dat ons “val” daarin omdat ‘n gawe is wat God gee aan mense wat surrender verstaan.
Groete
Theo