Jan se Koekoek–horlosie

by admin on September 24, 2009

Een oggend was daar moeilikheid by die kerk. Gelukkig was ek vroeg daar. Jan, een van die oudste lidmate van die kerk, was betrokke in ‘n skermutseling met ‘n broer. Ons almal ken vir Jan. Hy is vredeliewend, verkoop elke dag sy heuning in die dorp en sal niemand skade aandoen nie. Ek het na die toneel gehardloop wat afgespeel het in die tuin van die AGS-kerkie in Crozierstraat. Daar aangekom, het Jan my ingelig dat Annelie, my sekretaresse, die kerk se horlosie gebreek het. Jan het Annelie gedreig. Die broer het net sy plig gedoen en Annelie probeer beskerm.

Jan het dié horlosie jare terug aan die kerk geskenk. Ek neem aan dat die horlosie wat agter in die kerk gehang het vir die prediker bedoel was – dat dié nie te lank (of te kort) geïnspireerd raak nie. Charismatiese mense ken nie altyd die verskil tussen inspirasie en perspirasie nie. Die geseëndheid van ‘n preek hang ook af van die lengte. Dit verskil van kerk tot kerk. Ek het die horlosie gaan afhaal en vermoed dat die battery pap is. Jan het bedaar. Die oggenddiens het goed verloop. Ek het Jan ‘n geleentheid huis toe gegee. Hy het die horlosie huis toe geneem en my verseker dat hy dit sal herstel. Ons het oor die belangrikheid van die horlosie in die kerk gepraat.

Ek het na die eerste jaar in Stellenbosch begin om studentedienste in die aand te hou. Jan het albei dienste bygewoon alhoewel ek dieselfde preek gepreek het. Almal het geweet as Jan daar was – hy het diep en kliphard gesug sodat almal omgekyk het. Tien teen een het die preke Jan verveel. Die aand het Jan ‘n ander horlosie kerk toe gebring. Dit het soos ‘n Boeddhistiese tempel gelyk en was pure plastiekgoud. Dit was ook baie groter as die vorige horlosie. Die horlosie kon ook nie mooi inpas waar die vorige een gehang het nie. My vrees was dat iemand hul kop teen die horlosie sou stamp. Met moeite het ek en Jan die horlosie opgehang. Ons was reg vir die diens.

Die diens het begin. Ons het lekker gesing. Aan die einde van die diens het ek begin met die appél. Ons is geleer op kweekskool dat die einde die belangrikste deel van diens is. Dit is waar die Heilige Gees (veral) moet werk. Daar word die net getrek. Dit is die verskil tussen lewe en dood. Dit was presies agtuur. My vraag aan die gehoor was: Na watter stem wil jy die graagste in jou lewe luister? Uit die plastiekgoud-horlosie kom daar toe ‘n koekoek-voëltjie uit. Die voëltjie lyk soos ‘n Nazi-Barbiepoppie wat op ‘n duikplank uitloop. Met ‘n hees, bewende batterypap-stemmetjie word daar getrou agt koekoe’s gelewer. Dit voel soos ‘n ewigheid…

Die studente draai stadig om, en loer na die aardige koekoek – eers doodse stilte – en daarna ‘n geskater. Ek weet nie wat om te sê nie – en weet ook dat wat ek ook al sê, gaan niks beter maak nie. Toe besluit ek om nie die seën uit te spreek nie. Met die woorde: Ek neem aan julle kies die stem waarna julle wil luister. Ok, cheers, mag die koekoek-vreugde nou ook met elkeen gaan…

Die preek is vergete. Tot vandag toe praat hulle van die Koekoek-diens. Die gewone lewe praat soms harder as die heilige oomblikke waarin ons so onwrikbaar glo.

Elke keer as ek koekoeke sien dink ek aan dié dag maar ook aan die preek en die stem waarna ek behoort te luister.

Ons het meer Koekoek-dienste nodig.

Leave a Comment