Tussen Bybelverse

by admin on August 17, 2009

Op ‘n dag het my ouers vir my gesê dat die Bybel kinders leer om hulle ouers te eer en nie te bekeer nie. Dat was net na my bekering aan die einde van my skoolloopbaan. Ek het ‘n sterk roeping gevoel om mense te bekeer. Die beste plek om te begin is natuurlik jou familie – soos die Bybel ook leer.

Baie van ons ken die hype van ‘n CSV-bekering. Dan word alles so eenvoudig: die lewe is wit en swart. Het het die antwoorde – want Jesus is mos die antwoord. Dan staan jy net op die Woord. Roep al die beloftes in vervulling of soos iemand my geleer het: “Name it, claim it and frame it!”. Die pad na die hemel is beskore vir die eenvoudiges en vir hulle wat sy Woord onderhou en blindelings doen.

Vandag kry ek gereeld te doen met jongmense en veral studente in Stellenbosch wat deur hierdie fase van hulle lewe gaan. Noem dit maar die Icarus-reis van geloof. Icarus het na die son gevlieg – met vlerke van was. Jy het meer as ‘n noodlanding nodig as jy terugkom aarde toe…’n Wit-en-swart-Bybel-teologie waarborg hierdie val. Die Bybel is nie grys nie – dis onomwonde grys – en binne die grys sien ons die wit en swart.

Die Bybel moet ernstig opgeneem word – maar ook die God wat tussen die Bybelverse praat.

In Mark 10: 17-27 ontmoet ons die ryk jongman. Hy doen alles reg en tog alles verkeerd. In Mark 10: 46-48 ontmoet ons ‘n blinde man, Bartimeüs – hy doen alles verkeerd en tog alles reg. Dit is twee bekeringstories wat ons leer hoe om na God te luister en waaroor die ewige lewe gaan.

In die eerste storie ontmoet jy iemand met sjarme. Hy het mooi woorde en wil weet hoe om die ewige lewe te beërwe. Hy is ordentlik en noem Jesus ook “Goeie Meester”. Jesus noem dadelik dat Hy nie goed is nie, maar net een, naamlik: God. Jesus wys dadelik na iemand buite homself. Enige gesonde spiritualiteit sal dit ook doen. Meer as sy gehoorsaamheid aan die Bybel stel Jesus belang in sy motiewe en hoe hy omgaan met waarheid.

Jesus lys die tien gebooie en dan kondig die ryk jongman met selfvoldaanheid aan dat hy alles onderhou. Jesus, die meester orator, lys die tien gebooie, maar glip een gebod tussen die Bybelverse in wat nie daar hoort nie: “Jy mag niemand te kort doen nie”. Die ryk jongman hoor dit nie. Wou Jesus eintlik die gesprek hier begin het? Kan sy godsdienstigheid hom so verdoof dat hy Jesus nie kan hoor nie?

Jesus kyk na hom en dan sê Markus: “…hy het hom liefgekry…”. Jesus het nooit rykes veroordeel of skuldig laat voel oor hulle geld nie. Nog minder het hy offergawes van die rykes opgeneem om sy eie bediening te ondersteun. Jesus spreek nie sy geld aan nie – maar sy manier van kyk na die wêreld en na God. Hy kan God nie tussen die Bybelverse hoor nie. Hy luister selektief en keer terug na sy eie gemak. Hy verkies:

‘n Privaat-evangelie vir die individu.

‘n Kroon sonder ‘n kruis.

‘n Hemel sonder ‘n aarde.

Dan vertel Markus die storie van Bartimeüs. Alles gebeur anders as die storie van die ryk jongman. Bartimeüs is nie so hoflik soos die ryk jongman nie. Hy is onkonvensioneel. Hy skreeu. Hy ontwrig Jesus op sy weg. Hy word bestraf maar gooi net ‘n dowe oor. En dan, iets wat jy nie sal verwag nie – hy kry Jesus se volle aandag. Hy vra net twee keer vir genade – sonder ‘n wenslys of voorskriftelikheid. Hy gooi sy mantel af – sy ontvanklikheid en openheid raak Jesus. Jesus stuur Bartimeüs weg met die woorde: “ jou geloof het jou gered.” Geloof – nie sy gehoorsaamheid aan die wet of sy dogma oor die hemel nie – verander sy lewe. Bartimeüs se genesing beteken nie ‘n nuwe soort gemak of veiligheid nie. Hy gaan saam met Jesus na Jerusalem toe. Die plek waar Jesus moes opoffer en ly. Bartimeüs kies die kruis en die aarde.

Die Bybel is ten eerste ‘n boek wat handel oor ‘n verlossingsgeskiedenis waarbinne mense en die mensdom gered moet word. Die individu is nooit die eindverbruiker van die evangelie nie. Ware evangelisasie is nie net goeie nuus vir die individu nie – maar vir die ganse mensdom. Sou die ryk jongman te blind gewees het om die mense raak te sien wat hy te kort doen? Sou sy vat uit die wêreld ander mense veram? Of moes die hemel kompenseer vir die te kort aan liefde wat hy op hierdie brose aarde moes leef?

Miskien is die vraag: Hoe kom ek in die hemel? – die verkeerde vraag. Dalk: Hoe kom ONS in die hemel?

Die God tussen die Bybelverse sluit altyd die ander in.

Selfs jou ouers…

{ 3 comments… read them below or add one }

yvonne onderweegs August 17, 2009 at 4:13 pm

dankie theo vir hierdie!
ek was ook op die “charismatic high” en het ek my ouers kwalik geneem dat hulle nie “spiritual inheritance” vir my nalaat nie. hulle het bittermin invloed in my geestelik lewe gehad. maar op ‘n dag het die Here my kom tug, en my kom sê: EER JOU VADER EN MOEDER. ten spyte van hulle tekortkominge, eer hulle!!
in die afgelope 3 jaar ondersteun ek my ouers emosioneel en finansieel, met meer as wat ek in my eie mag kan dra. en ek het lank geglo dat God juis deur my onvoorwaardelike liefde en gee – sal deurbreek en my ouers se harte teenoor Hom sal oopbreek.
maar hulle hou aan om MY “goedheid” toe te skryf aan “goeie opvoeding & harde werk”, en elke keer wat ek die eer aan God gee, jak hulle dit af. ek glo vas ek moet serious opofferings maak , ’cause God so LOVED the world that He GAVE…en my ouers is die mense wie ek die liefste in die lewe het!
maar hoe kry ek my ouers om God in dit alles te sien?
“name it en claim it” werk verseker nie.
dit gaan mos nie hier oor my of hoe hulle my opgevoed het nie, die daily sacrifice wat ek maak is so veel groter as bloot ‘n gunsie wat ek hulle bewys. ultimately sal ek hulle voor die troon van God wil sien…maar is die gee van resources en emosionele stabiliteit genoeg om die Koningkryk te laat kom?
groete
yvonne

Lanie August 19, 2009 at 10:27 am

Ek was vir 4 jaar op stellenbosch gewees, en het baie ondervinding in church-hopping opgedoen oor die afgelope 5 jaar, veral
die eerste 6 mnde van 2009 toe ek kaap toe getrek het.
Die groot verskil tussen my soeke as 18 jarige skoolverlater(komende van ‘n wereld waar NG Kerk die enigste denominasie was)… en as ‘n 23 jarige wedergeborene…is dat ek ingestel is op die gees se leiding.
Volgens my verstaan van Jesus…was liefde een van die hoof temas wat hy gepreek het….maar tydens my “hopping” met my aankoms in Kaapstad, het ek orals waar ek gegaan het convicted gevoel… en alhoewel al die kerke vrees verwelkomend was..het ek steeds die gevoel gekry dat die “liefdes-kring” baie toe is. Aangesien ek op Stellenbosch in ‘n klein community kerk was, hou ek van ‘n community waar mense ingestel is op mekaar. En gevolglik het ek baie homegroup-based kerke gaan uitprobeer. Maar die binnekring van liefde…was toe.

Ek het Invia besoek, en net beleef dat dit is waar God my wil gebruik… en vir die eerste keer het ek nie convicted gevoel nie…
My droom vir Invia (die droom waarvan ek wil deel wees) is dat daar nooit ‘n binnekring sal wees nie…dat ons mekaar sal dien soos Jesus sy medemens gedien het…dat ons ingestel se wees op mense se behoeftes (die wat langs jou sit op ‘n sondag, en die man wat buite die kerk staan en bedel)…Ten minste dan kan ons se dat ons die waarheid van Jesus leef en nastreef!!!!

Mag Invia se deure nooit toe gaan nie…

Hans Matthysen October 5, 2009 at 7:57 pm

Net ‘n gedagte wat ek met julle wil deel, aangaande; eer jou Vader en Moeder. Ek dink, dat God is my Vader en die Gemeente is my moeder wanner dit by sake kom, rakende my siel.

Leave a Comment