‘n Ruk gelede het ons Stellenbosch Gemeente se 10-jarige bestaan gevier. Ek het in 1999 my eerste diens in Stellenbosch gehou. Ek en Milan was alreeds vroeg daar. Carissa het op daardie stadium by vriende van my, Herman en Corlia, in Johannesburg gebly. By die deur het ‘n man ons gegroet. Ek het aangeneem dit is die koster. Ek het myself en Milan voorgestel. Hy het gesê sy naam is Jan Meintjies. Jan het nie geweet dat ek die nuwe pastoor van die AGS van Stellenbosch is nie. Ek het gedink dit is vreemd, maar vreemder sy eerste vraag: Wil jy heuning hê? Woolworths vra R18 – ek vra R10. Dit was wierd. Ek het geantwoord: Nee, dankie ons het heuning.
Ek dink toe by myself dat die eerste ding wat hier sal moet verander is die koster se heuning…
Die AGS-kerkie het op die hoek van Andriga en Crozier straat, regoor die drama departement, gestaan. Beter ligging kan jy nie voor vra nie. Daar is glo in kringe gespot dat niemand weet waar die meeste drama plaasvind nie. Daar is ook gepraat van die kerk met die blou vensters en die pienk matte.
Die diens het begin. Daar was 39 mense. Ek het omtrent niemand geken nie behalwe vir Prof Rufus Gouws, ons hoofouderling. Die ken was ‘n gesels tydens ‘n half maratonwedloop wat ons saam gehardloop het – nie ‘n goeie verhoudingsboupoging as jy nog nooit so iets gedoen het nie… Dit was ook sy laaste diens vir nege maande. Hy is Duitsland toe om klas te gee. Jan het reg voor ons kom stelling inneem. Hy het tydens die sangdiens gedirigeer. Dit was vreemd. Die liedere was ou AGS- liedere. Tydens die lied, Druppeltjies maak ons dankbaar, het Milan aan my baadjie getrek, sy gesig getrek en binnemonds gelag. Ek het hom berispe.
Toe kom die preek. Ek het begin met ‘n grappie. Niemand het gelag nie. Elke predikant het ‘n paar wat altyd werk. Ek het weer een vertel. Niemand het gelag nie. Ek het ‘n migraine aanval op die kansel gekry. Die preek het soos ‘n ewigheid gevoel.
Na die diens het mense kom welkom sê. Jan het ook kom gesels. Die eerste ding wat Jan vir my gesê het is dat hy familie is van Pastoor Justus Du Plessis. Ek en Jan het geclick. Justus Du Plessis broer was die bekende, Dawid Du Plessis, en ook genoem: Mnr Pentecost onder Katolieke. Jan vertel my van sy slim familie. Pastoor Justus was van die Nuwe Orde in die AGS. Daar was ‘n groot bakleiery jare terug oor die Nuwe en Ou Orde. Die Ou Orde het geglo dat die teenwoordigheid van die Here word in desibel gemeet. Hoe meer luidrugtig hoe meer geseënd. Dit het ook aanleiding gegee tot ‘n kerkskeuring. Pastoor George Snyman was ook vurige voorstander van die Ou Orde. Hy het die groot verset suksesvol gelei en die PPK ( Pinkster Protestante Kerk) is toe uit die AGS afgestig. Ek het ook gehoor mense noem hulle die Pinkster Probleem Kinders.
Die gesprek bring memories…
Pastoor Justus het my in matriek aangemoedig om verder te leer. Die oorgrote meerderheid in die AGS het geglo dat geleerdheid staan in die pad van Heilige Gees. Jy moes ‘n keuse maak tussen geleerdheid en die Heilige Gees. Ek het soms skuldig gevoel, veral as die broers my gevra het wat gaan maak met die Grieks en Hebreeus wat ek bestudeer. Ek voel dankbaar dat ek na Pastoor Justus geluister het. Jan vertel my dat ek nou in ‘n slim dorp woon. In teologiese kringe sê hulle dat Stellenbosch se mense so slim is, dat hulle die wederkoms kan organize.
Jan sê vir my hy was die eerste bloubaba in Suid-Afrika en het nie genoeg suurstof by sy geboorte gekry nie. Daarom is hy gestremd. Jan vertel my hy het 14 katte en bly by sy ma. Hy waarsku my teen inkommers. Hy noem hulle f***n inkommers. Mense van Gauteng wat op Stellenbosch kom woon.
Ek verstaan nou die heuning van R10. Ek bewonder Jan se ma wat hom leer oorleef het vir die dag as sy nie meer daar is nie. Ek verstaan dat Jan tydens die sange dirigeer. Ek is bly daar is kerk vir Jan. Ek is bly hy mag heuning in die ingangsportaal verkoop.
Ek en Milan ry huis toe.
Die koster se heuning sal die laaste ding wees wat ek in die kerk sal verander.
