“Die waarheid en niks minder as die volle waarheid nie”.
Dit is die woorde wat in elke hof gesê word. Wat ironies is, is dat albei partye wat mekaar dagvaar hulle beroep op waarheid. Kan waarheid twee kante hê? Dit het, vra enige tronkvoël – almal is onskuldig. Waarheid het twee kante en dis waarom daar regters is. At the end of the day, soos Naas sou sê, is dit waar waarheid beslis word. Die regter neem die besluit.
‘n Ruk gelede het ‘n meisie my goed laat verstaan dat daar net een kerk in Stellenbosch is wat die Bybel preek, en dit is $%#@!. Ek was teleurgestel omdat dit nie ons gemeente is nie. Op ‘n manier glo ek dat ons darem ook die Bybel in sy suiwerste Sola Scriptura (dit beteken net die Skrif alleen) nastreef. As ek eerlik dink oor wat ek glo en bely dan word ek bedreig deur mense wat van my verskil. Ek het ‘n arsenaal teksies wat ek kan vuur op my opponente. En ek weet, hulle het ook baie vir my. Dit het ek Saterdag weer gehoor by ‘n troue. Die klankman vertel my dat hy doen klank by ‘n sekere kerk in Stellenbosch en wil baie graag na ons toe kom, maar sy pastoor het hom ernstig vermaan van die diepe dwalinge waaraan hy blootgestel sal word. Ek het geen probleem met die vermaning nie. Ek het geen twyfel dat ek ook dwaal. Ek weet net nie altyd waar ek dwaal nie, en die feit dat ek Sola Scriptura bely maak my ook nie immuun teen dwaling nie.
Indien God werklik ontoeganklike lig bewoon (1 Tim 6:16), ondeurgrondelik en onnaspeurlik (Rom 11:33) en onuitspreeklik (2 Kor 12:4) is, raak dit riskant om God se plek te eis in die naam van Sola Scriptura. ‘n Beter vraag oor hierdie Skrifte moet seker wees: Waar moet ons die lig soek as dit ontoeganklik is? Waarom teologie probeer doen as God dan onuitspreeklik is?
Jode het die naam van God, YHWH, sonder klinkers geskryf omdat hulle bang was dat hulle ‘n fout sou maak. Daarom word die korrekte uitspraak ook onmoontlik. Ons word herinner dat die korrekte naam baie on-korrek is en op ‘n manier onmoontlik is om te sê. My soektog is binne misterie. In hierdie naam kry ek woorde waar God self die vokale word van dit wat jy probeer sê.
Die Hervorming is gebore uit die nagloed van die Verligting. Deel van die projek was om misterie te kon verklaar. Die kerk moes homself ook verwoord teen die wetenskap wat alles kon verklaar. In die naam van Sola Scriptura kon die kerk saam met die wetenskap God verstaanbaar en meer aantreklik maak. Met die Hervorming is die gesag van die institusie of kerk vervang met die gesag van die Bybel. Dit was ook die geboorte van ‘n ideologiese bloedbad en intellektuele afgodery wat die Christendom op gesnipper het in vyandige denominasionele bastions. Alles in die naam van Sola Scriptura.
Wanneer ek sê dit staan in die Bybel dan sê ek niks meer as my voorveronderstelling of aannames oor dit wat in die Bybel staan nie. My Sola Scriptura is nie God nie. Anders kan ek nooit afstand doen van enige standpunte oor God nie. Nog minder kan ek Sola Scriptura gebruik om God minder of meer te maak as wat Hy is. Ek sukkel ook met die stelling: Ek praat nou oor of van God. Ek praat eerder oor en van my verstaan van God. My verstaan van God is anders as wie God is. Die teologiese diskoers oorskry taal. Dit is ‘n taal wat in liefde uitgedruk word sonder om God deur die taal gevange te neem.
Daarom het Meister Eckhart gepraat van forsaking God for the sake of God. Of in Tillich se woorde: The God beyond God.
Ek hoop dat ek my heil in die Naam van sola scriptura kan vind. Dan sal die strewe om te interpreteer hopelik ondergeskik word aan die strewe om lief te hê.
Dit is oor liefde wat die Regter moet besluit.

{ 1 comment… read it below or add one }
NT Wright sê baie nadat hy gepraat het dat 1/3 van wat hy sopas gesê het is verkeerd , hy weet net nie watter derde nie.