In die angs van my reg wees en eg wees, wil ek oor God praat. Dis my passie. Hoe ouer ek word hoe meer begeer ek om God beter te leer ken. Teologie (Theos – God en logos – woord) beteken om oor God te praat. Teologie is woorde wat na God soek, die woorde is nie God nie. Teologie is om die minste verkeerd oor God te praat. Dit bevry my van ‘n verkeerde vertrekpunt waar ek namens God praat of praat vanuit die ware waarheid. God praat namens my – en dit is deur gebrokenheid. Dit bly God se woord, maar in mensetaal. Ek weet ek kan God nie altyd verstaan nie – maar ek kan Hom beleef, ek weet ook ek kan God nie altyd beleef nie, maar soms verstaan.
Ek sukkel met hermeneutiek – ek weet nie hoe lyk dit in ‘n nuwe wêreld nie. Ek hoor cutting edge teoloë praat van Semiotiek as die beste manier om die Bybel te verklaar. Die reëls wat ek wel in teologie geleer is, is om die Bybel as wetenskaplike handboek te gebruik waar dogma klinies gedissekteer word tot absolutes. Die werk nie meer vir my nie. Ek wil nie meer net met die Bybel werk nie – maar wil hê dat die Bybel met my moet werk. Ek wil nie net Bybel lees nie maar wil hê dat die Bybel my moet lees. Die teks van my lewe is ook die plek waar ek moet hoor. Die konteks waarbinne ek lewe is ook die plek waar ek moet hoor.
Waar my-teks met God-se-teks binne kon-teks ontmoet, glo ek dat ons nadenke oor God kan doen. So wil ek die Here probeer hoor: Sy skryf met woorde, my lewe wat die ink kan voel, in die hier en nou waar ek lewe. Ek begeer so teologie. Dis die goed waaroor ek wil skryf en preek.
Kerk. Mense. Kinders. Familie. Politiek. Haat. Sukkel. Humor. Twyfel. Wellus. Geloof. Liefde. Vrees. Skynheiligheid. Seks. Flieks. Vriende. Reise. Nederlae. En nog meer…
Here vergewe my wanneer ek Theo-logie, teologie noem…

{ 1 comment… read it below or add one }
In ‘n kerkkultuur waar absolutes aan die orde van die dag is, is dit bevrydend om te hoor dat my gebrokenheid/onsekerheid ‘n egte kommunikasiekanaal kan word. Die woorde is inderdaad nie God nie. My absolute, oorgelewerde prentjie van God is nie God nie.
Maar hoe kommunikeer ‘n mens hierdie “egtheid in gebrokenheid” aan dié wat nie gereed is om dit te hoor nie? Of is dit bloot ‘n kwessie van “leef dit” en “maak jou los van dit wat agter is”?
Die hoop beskaam nie …