Tannie Skimper is een van die getrouste lidmate in Stellenbosch Gemeente. Sy is een van die meer Charismatiese lidmate in die gemeente.
Ek is ook ‘n Charismaat (maar voldoen nie aan die vereistes wat jou regtig Charismaties maak nie). Ek is soms bang vir Charismatiese Christene. Ek moes as skoolseun uit die NGK nadat ek die onvergeeflike sonde gepleeg het – die doop. Dit was net te vroeg vir Standerton in 1979. Toe beland ek in die AGS. My vriende het dit die Apolofiese Gestoof Sending van Suid-Afrika genoem. Dit was die skande van die dag. Ek het gemaklik gevoel met die idee omdat Jesus glo ook in die minderheid was.
Ek ken die volle spektrum van die AGS, Word of Faith, Rhema, Onafhanklik, Toronto Blessing, Second Blessing en noem maar Pinkster en Charismatiese strominge op — ek was daar. Ek het die mooi en lelik gesien. Aan die begin is dit te waar om goed te wees en later is dit te goed om waar te wees.
Maak dit sin?
Charismatiese mense hoor die Here direk, praat in tale en hou van dans en om reg te wees (ek weet ek veralgemeen — dis meer my persoonlike ervaring). Hulle glo in fundamentalisme en kan jou met ‘n glimlag hel toe stuur. Hulle kan die duiwel bind, bestraf, ontbind en bevry. Hulle sing kontemporêre liedjies — in Standerton waar ek op skool was, was dit die beste van die Briels — en verkies hoofsaaklik Hillsong van Australië as geïnspireerd.
Hoekom hou ek niks van die Aussies nie? Hulle kan nie verloor nie. Die worship-liedjies is ook so. Ek kan die meeste liedjies toe-oë sing want alles rym — na raise kom praise…
Dalk is die Aussie-ding my agterstand met hierdie tipe worship. Hulle laat my ook baie aan hippies dink. Hulle is happy, arty en positief.
Daarom hou ek ook van hulle…
