Tannie Skimper 2

by admin on April 29, 2009

Tannie Skimper het al ‘n paar keer gesê: So sê die Here. Ek is skepties maar gee haar eerder die voordeel van die twyfel. Ons het op 21 weke met Wilma se swangerskap baie slegte nuus gekry. Lucca, ons seun, het nie genoeg kos deur die plasenta gekry nie en daar was ‘n groot kans dat hy sou sterf. Die hele gemeente het gebid.

Tannie Skimper het aangebied dat ek en Wilma na Benny Hinn se DVD’s moet kom kyk. Die DVD’s (Benny of die Here – ek is nog onseker) het glo vir Francois wat in Mosambiek werk van malaria genees.

Benny Hinn is ‘n TV-evangelis en dra wit suits. Hy werk op my senuwees en ek hoop altyd dat my vriende wat nie glo nie hom tog net nie moet sien of hoor nie. Hy vlieg jets omdat hy baie mense moet red. Hy bly naby Ozzie Osborne in ’n rykmansbuurt. Hy is immers ’n koningskind met ‘n ryk pa, sal Benny jou vertel… Hy is scary.

Jy betaal vir jou wonderwerk en elke mens wat gee (gewoonlik binne die volgende paar minute) kan ook vinnig geseën word. Ek sukkel om in ‘n wonderwerk vir Lucca te glo as Benny dit moet doen. Ek het nie die DVD’s gekyk nie.

Lucca is gebore en ons moes aanhoudend bid vir wonderwerke. Foto’s van Lucca word elke week op die yskas in die kombuis van Stellenbosch Gemeente se kantoor geplak. Tannie Skimper kom bid ook elke dag vir die foto’s van Lucca op die yskas. Donderdag terwyl ek vinnig van Panorama Medi-Clinic by die kantoor ingeloer het was Tannie Skimper daar. Sy het gevra om saam met my, Louise en Toys te bid by die yskas. Ons het elkeen dankie gesê en weer gevra vir ‘n wonderwerk.

My hart is te klein in sulke tye en dan bring dit trane na my teologie. Tannie Skimper ken die pad na die hemel. Ek weet die Here luister na haar.

Eerlikheid het nie ‘n teologie nie. Jy hoef dit nie te soek nie – dit soek jou. Jy weet wanneer dit jou vind.

Ek sal Benny nog fly – ek luister na Tannie Skimper…

Leave a Comment