Die Weg van die Blog 2

by admin on April 21, 2009

Skryf kom maklik vir party mense – soos vir my vriend Koos – vir ander, soos ek, kom dit moeilik. Ek was goed in Grieks, Hebreeus en Arabies en kon die goed cum – maar Afrikaans en Engels kom droewig. Ek skryf artikels vir tydskrifte maar hulle is so gaaf om dit oor te skryf. Soms hou ek ook nie van die veranderinge nie – dit klink net te vroom. Vir my kom dit nie net moeilik nie – maar ook stadig. Dis hoekom ek nog nooit ‘n blog wou begin het nie.

My hoofouderling, professor Rufus Gouws, maak my ook senuweeagtig. Hy is redakteur van die HAT en ‘n wêreld gesogte leksikograaf. Hy het ‘n magtige CV. Hy boer oorsee en hulle praat glo oor woordeboek maak. Ek het sy professorale intrede bygewoon en het nie ‘n idee gehad waaroor dit gaan nie. Ek kon nie eers die titel van sy preek die aand uitspreek nie. Hy doen ook die afkondigings in die kerk. Na die oggenddiens wil mense die bandjies van die afkondigings koop en nie my preke nie. Ek sidder as hy my blog besoek. Ek wil nie hê dat my spelfoute en grammatika tussen Rufus en die hemel moet kom nie. Ek het nou nog ‘n hoofouderling omdat ons tans besig is om ‘n gemeente in Kaapstad (InVia) te ontwikkel. Haar naam is Marike Groenewald – en skaars 25 jaar oud. Sy lei jong politici op om toesprake te maak en reg te kan skryf. Sy mix ook soms haar taal en kan kombuistaal met sjarme praat – ek voel minder senuweeagtig.

Soms kom woorde vinnig en soms kom dit stadig. Ek ken al te goed die stadige tye met preekmaak. Die spanning is verbysterend. Dan wil ek bedank en ‘n werk gaan soek (by die viswaters). Gelukkig is daar nie deadlines met blogging by Stellenbosch Gemeente en InVia nie. Dit sal my help. Ek hoop regtig dat die woorde sal kom binne die tyd wat ek moet skeduleer. Ek hoop dit kan eerlik wees. Iemand het êrens gesê het: Die grootste sonde is om woorde te hê wat mooier is as jou lewe.

As dit die weg van die blog is sal dit nie maklik wees nie.

{ 1 comment… read it below or add one }

Du Quesne du Plessis April 22, 2009 at 1:01 pm

Jou woorde spreek my aan – big time! Dis tog al wat saak maak. En die mens. En sy dade.

DQ

Leave a Comment