Theo-logie

by admin on March 24, 2009

Ek het gedink om my blog Theologie te noem. Ek het gedink om by my eerste liefde te begin — myself. Ek is nie anders as enige ander mens nie. Ek is selfgesentreerd. Dis my stryd en my angs. Ek probeer myself soos my naaste verruil vir my naaste soos myself. Ek sukkel daarmee.

Ek onthou Milan was ongeveer drie jaar oud toe hy in die moederskamer by die kerk ander kinders se speelgoed gryp en op hulle skreeu: “Myne! Myne! Myne!” Ek het hom nog nooit geleer om selfsugtig te wees nie. Ek het nog nooit gesê: “Mielies kom hier, dat pappie jou kan leer hoe ‘n mens selfsugtig kan word nie.” Hy is ‘n natural, soos sy pa. Pa is net slimmer en doen dit subtiel. Jy leer nie die goed nie. Ons word gebore daarmee. Dit is waarom ons wedergebore moet word. Wedergeboorte is nie ‘n resep of kortpad hemel toe soos wat die meeste evangelicals glo nie. Dit is die lang (smal) en moeilike pad van onselfsugtigheid.

Tog is daar ‘n gedeelte in my wat ook vas glo dat ek nie selfgesentreerd is nie. Ek is immers ’n teoloog. Is teologie die skuilplek waarbinne ek die angs van selfsug probeer ontvlug? Ek weet nie. Soms dink ek daaraan. Ek breek nie my kop daaroor nie. Ek wil glo God is groter as verkeerde redes. Ek weet dat God reguit slaan met ‘n krom stok — en soos ‘n oom vir my gesê het: “Hy slaan net soveel beter met ‘n reguit stok.” Point taken.

‘n Honger maag — nie die regte teologie nie — het die verlore seun by sy pa uitgebring. Belydenis was nie die voorvereiste vir sy bekering nie, maar eerder die gevolg daarvan. Dis ook my hoop en redding.

Leave a Comment