Blogs is oor die algemeen selfgesentreerd. Hulle definieer hulself in terme van hulself. Praat namens hulself. Praat oor hulself, met hulself en tot hulself.
Dis ‘n mini–weergawe van TV. Hulle maak programme oor hoe programme gemaak word. TV–reekse word herhaal. Almal wil hulself op TV sien. TV–sterre is ook die hoogs–betaalde mense in die wêreld. Die beeldteks betower ons huidige samelewing. ‘n Grootheid in homself.
Die eerste versoeking? Jy sal soos God wees? Blogwaarheid is altyd reg. Blogvergifnis bestaan nie. Raad word gegee vir dié wat jy nie ken nie. Gesprekke is maklik — jy hoef dit nie te leef nie. Sorgvuldig word kommentaar en terugvoer gesensor vir ‘n ikoniese ego. Slim woorde maak buit op weerlose mense. Kuberkultusse word die trofees van brose ego’s.
Omdat ek iets oor God probeer sê maak nie my blog minder selfsugtig nie. Ek het geen twyfel dat ek ook die kuns bemeester het om nederig–, selfgesentreerd–godsdienstig te wees. Ek hou daarvan om die regte Bybel–interpretasies te hê. Ek word bedreig deur ander kerke wat ons lidmate vat. Gemeente–afrokkeling is ‘n ernstige oortreding — veral as dwaling die lokaas is. Daar lewe my ego met min genade.
Ek voel ook die angs om die rekeninge van die gemeente te betaal. Ons is nou 16 voltydse personeel. Hulle het families en glo hulle gee hulle lewe vir die regte saak. Ek weet ook nie altyd hoe hierdie druk op my inspeel om te glo en op wat ek glo nie. Ek weet ook nie altyd hoe my godsdienstigheid die challenges uitgooi wat die visies moet betaal nie. Jy kan alleen support kry as jy geloofwaardig is. Geloofwaardig is immers as jy reg is.
Wanneer is my reg wees, eg wees? Kan ek eg wees sonder om reg te wees? Ek ken van reg wees sonder om eg te wees…

{ 2 comments… read them below or add one }
Hallo boetie,
Dankie vir die broosheid. Genade vir ons selfsugtiges is miskien support ten spyte van onsself.
Sien uit na SOndag. Liefde.
Antoon
Awesome diens gisteraand. Kaapstad verwelkom julle met oop hande!
Baie dankie.