Aan die einde van 2008 het ‘n klomp vriende bymekaar gekom in Wandel Str. 9, Gardens om te gesels oor kerkwees. Twee goed was duidelik: Aan die een kant het almal ‘n passievolle geloof in mense — wat kerk genoem word — en dat mense met die regte drome, vir die regte redes in die regte tyd ‘n groot verskil kan maak in die wêreld waarbinne hulle leef. Aan die ander kant was daar ook ‘n diep besorgheid oor die kerk as institusie waar mense eerder geloof verloor. ‘n Droom is gebore om ‘n plek te word waar mense na woorde en beelde kan soek van wat dit beteken om kerk te wees. Hieruit is die naam InVia gebore. Dit beteken: Oppad wees.
Hierdie droom het ‘n klomp InVia–ers in woorde probeer sit. Dit het gelei tot die geboorte van InVia se manifesto. Die manifesto is nie ‘n statiese dokument of belydenisgeskrif wat in beton gegiet is nie. Dit is eerder ook ‘n stuk twyfel en begeerte om te streef na dit wat ons graag wil word. Soos wat die pad geloop word sal die manifesto duideliker en beter verwoord kan word.
Net soos wat die storie in die boek Handelinge nie oor die storie van die kerk gaan nie, maar eerder oor die storie van God, hoop ons dat InVia se storie ook die storie van God sal wees.
Oppad wees beteken om êrens heen te gaan.
Dalk soos Abraham wat trek sonder om te weet waarheen hy gaan.
Wat eerder met ‘n kompas as ‘n padkaart leef.
Waar die onbekende die beloftes van geloof en hoop word.
InVia Manifesto
In die WEG
Die pad kom deur alle eeue heen.
Hier dink ons diep na oor wie die mens is en waaroor die lewe gaan.
Hier vind ons sin.
Hier ontdek ons geloof en beleef ons dit waarna ons ten diepste soek.
Die soeke na hierdie pad en die afdwaal daarvandaan som die geskiedenis van die mensdom op. Weg van hierdie pad loop ander paaie, paaie waar die mens sy siel verloor met geld, goed en godsdiens. Dit is paaie van verwonding en verwronging.
InVia beteken om oppad te wees. Ons sien die wêreld deur ons eie gebrokenheid en daarom soek ons saam na die pad van harmonie met:
- Hom wat die pad ken en is,
- Mense vir wie die pad ‘n nuwe soort lewe kan bring,
- Die Aarde waarvoor daar nuwe hoop is wanneer mense hierdie pad loop.
Die pad sal altyd oppad wees, ‘n reis en nie ‘n bestemming nie.
‘n Eksodus eerder as ‘n aankoms.
Dit is bedoel vir soekers en nie setlaars nie.
Vir profete en nie net priesters of ‘n bevoorregte binnekring nie.
Op hierdie pad is die binnekring ook die buitekring, en elke einde ‘n nuwe begin. Erens het Iemand gekom en gesê dat Hy nie net die pad ken nie, maar dat Hy die pad is. InVia glo dat híérdie pad die duidelikste in Jesus gesien kan word.
In die WAARHEID
InVia loop ook die pad met die hart.
Intellek wat sy drakrag oorskat word afgodery.
Wanneer die ware meer waar gemaak word as wat dit is dan word die pad kamma-waarheid.
Drome, gesigte en gelykenisse wys ook die pad.
Die pad word nie net geïnterpreteer nie, maar word ook bemin omdat dit die beste manier is hoe lewens getransformeer word. Die pad deur die hart erken die misterie wat in elke mens opgesluit is waarbinne die mens sy eie unieke goddelike samestelling kan uitleef. Dit gaan nie soseer oor die mens wat ken nie, maar eerder om geken te word deur Iemand. Net soos wat ‘n baba deur sy moeder vasgehou word en nie sy moeder regtig kan verstaan nie, maar wel ervaar dat hy deur sy moeder geken word. Selfkennis word nie net aangeleer nie. Dit is soms ook die afleer van alles wat buite my unieke goddelike samestelling is.
Ons verstaan van God is iets anders as wie God werklik is. InVia wil daarom ook in ons verstaan van God erken dat ons maar nog op pad is. Ons aanbid nie ons eie idee van God nie, maar die God wat ons idees gee. Meister Eckhart kon dit so bid: “God rid me of God”. Hoe ek glo is met ander woorde net so belangrik as wat ek glo. Die hart, nie net die verstand nie, moet die taal van die geloof leer ken. Daarom wil InVia die pad van toewyding loop met die strewe om ‘n greep te kry op eendersyds die misterie van die onvoorspelbare, vrye paaie van die gees en andersyds die voorspelbare ritmes van orde, rite en dissipline. InVia volg beide duidelike, vaste, eeue-oue spore en fluisterende winde met herkoms en bestemming waarvan niemand weet nie.
InVia strewe om die toekoms met die verlede te omhels. Dit beteken dat vergete paaie weer geloop moet word. In die gisters lê die mêres. Om te leer uit die skatte van die verlede en te hoop op die skatte van die toekoms.
In die LEWE
Ware transformasie vind plaas wanneer ons doen wat ons glo.
InVia loop stroom–op na die lewe.
InVia wil deel met die realiteit en tragiek van ballingskap, opsoek na ‘n tuiste in ‘n wêreld in die skadu van die post-Christendom. Net soos wat Salomo se Jerusalem die sondes van Babilon vooruitgeloop het, is InVia oortuig dat godsdiens ook die instrument van dieselfde verdrukking kan word. Soos wat Salomo se ryk geval het, is ‘n godsdiens wat deurdrenk is met die 3G’s van Geld, Geboue en Getalle, gedoem tot uiteindelike slawerny. Heersers word maar weer slawe. Eens onderdruktes bou weer empires. InVia soek na ‘n Jerusalem wat nie Babilon sal word nie. Waar bevrydes nie weer slawe sal word nie. Waar mense nie in die naam van hulle god verval in die vergrype van mag, voorspoed, verbruikerisme en individualisering nie. InVia loop stroom–op — altyd weg van die empire — Babilon.
InVia loop die pad van liefde, vrede en regverdigheid.
Die pad is inklusief.
Dit is nie net saam met mense nie maar ook vir mense.
Ons wil leef vir die verlossing van mense en besef dat mense nie net slagoffers van individuele sonde is nie, maar ook van sistemiese sondes. Daarom wil ons ons beywer dat verlossing ook sal uitkring na die korporatiewe sisteme en instansies van ons tyd. InVia kan daarom nie die pad loop van stilswyende eindverbruiker nie, maar wil ‘n stem wees in ‘n wêreld waar uitbuiting en uitsluiting talle buite die dampkring van bevoorregting laat. Liefde en vrede is ‘n illusie as daar nie regverdigheid is nie.
InVia loop die pad op die aarde. Die aarde moet weer rus anders sal ons kinders nie hier kan woon nie. Die wêreld is ons woning — anders as Totius gedig het. Om hier te woon is ons pad nie net hemelwaarts maar ook terug aarde toe. Christenwees is menswees en mens is aardling . Daarom sal InVia lig loop op die aarde minder verbruik opsoek na eenvoud waar God se skepping weer kan verkondig.
InVia loop stadiger.
Tyd wat geheilig is kom nie in spoedpakkies nie en jaag nie krampagtig na meer nie.
Die kortpad is die langpad en die langpad is die kortpad. Kitskos, kits–antwoorde en kitsgodsdiens is die vloek van die eeu. Binne lang etes, lang gesprekke en lang kuiers word tyd geheilig en ewig.
