by admin on March 5, 2010
Wilma het onlangs veertig geword. Dit is gewoonlik ‘n waterskeidings jaar. Hierdie tyd staan bekend as “halftyd”, menopouse, middeljarige krisis of bloot net ‘n ontkenning van die dood. Pa’s en ma’s weer jonk – kleur hare en koop gewoonlik ‘n rooi sportmotor en begin passievol te gym.
Alhoewel Wilma nog jonk en energiek voorkom het ek wel vermoed dat daar middeljarige-halftyd-aanslag op haar brose psige plaasvind nadat sy my gevra het of ons haar verjaarsdag in ‘n karavaan kan vier! Wilma probeer al jare om my tot die karavaan-specie te bekeer. Sy het as kind elke jaar in ‘n karavaan gaan vakansie hou. My sielkundige waarneming was toe – dat sy nostalgiese teruggryp na die verre verskiet van kind-wees omdat sy besef dat die lewenshorlosie stadig maar seker kosbare lewenssekondes aftik.
Ek is nie ‘n karavaanmens nie, inteendeel ek het nog net een keer in my lewe in ‘n karavaan vakansie gehou. Dit was die langste Desember in my lewe. Stormwinde en slaap is onversoenbaar. Ek beskik nie oor al die karvaan vaardighede nie maar kon wel help met die aanhoudende uitvee en afstof van die skade wat stormwinde veroorsaak. Vir die volgende paar dae skerts Carissa en Milan oor hulle nuwe karvaan-pa.

Ons het in Glentana by Dwarswegstrand bespreek en kon gelukkig my skoonouers wat onlangs na Tergniet verhuis het, se karavaan leen. Wilma was opgewonde soos ‘n jong dogterjie. Sy het gebrabbel en wonderlike stories van kindsbeen vertel.
Die oomblik van waarheid het aangebreek. Ons het ongeveer 14h00 die middag in bloedstollende hitte by Tergniet aangekom. Dit het omtrent ‘n uur geneem om alles te pak en die karavan te hak. My skoonma het vir ons beskuit gebak – maar ongelukkig dit toegedraai met een van die lappies wat uit die trek kom, wat nog vol mottegif was. Ek lewer geen kommentaar oor my skoonma se beskuit nie. Vir ‘n oomblik kalm daar so depressiewolkie in my gemoed. Sou die beskuit en hitte tekens van tye wees?
Dwarswegstrand is idillies mooi en ons staanplek is kilpgooi van die see af. Wilma het aangedring dat ons ook al die tente van die karavaan moes opslaan aangesien dit wonderlike speelplek vir Lucca sou wees. Geen maklike taak nie – veral as jy niks weet van tente en penne nie. My skoonpa is dierbaar en help met die opslaan, anders sou ek seker nou nog daar gewees het! Wilma se kinderskoling kom ook handig te pas en sy verduidelik vir my baie mooi wat hier aangaan. Om ‘n tentpen in klipharde grond in te slaan vra ook ‘n sekere vaardigheid wat ek nie het nie. ‘n Karavaan moet ook waterpas staan sodat die yskas kan werk – dit het ek eers 6 ure later ontdek. Ons buurman kom stel homself voor en bied sy hulp aan indien ons enige iets nodig het (hy kon seker duidelik sien dat moontlik hulp gaan nodig hê!).

Die nagrus was wonderlik – dit klink asof die see oor jou spoel. Net na vyf skrik ek wakker met ‘n stortreën. Dit is die mooiste geluid wat ek nog gehoor het. Saam met die reën dink ek aan die duisende gebede wat die afgelope tyd vir die ergste droogte in 100 jaar gebid is. Ek staan op en gaan skuif die skottelgoedmandjie regoor ‘n straaltjie water wat van die tent afloop.
Eweskielik word die karavaan die mooiste plek wat daar is. Ek voel naby aan die natuur – kompleet asof die reën eerste op my val. Die reuk neem my terug na my kinderdae waar ek in die reën visgevang het. Ek word weer kind. Ek word hartseer en verlang na vergete dae wat ek nou weer onthou en iets vertel van wie ek is en waar ek vandaan kom. Lucca word wakker. Nou val daar ‘n sagte motreën. Ons gaan loop op die strand in die sagte reën. Lucca sing en praat babataal uit volle bors. Nog mense loop in die reën – almal is bly en huppel soos kalwers in die eerste somerreën.
Die aand vier ons Wilma se geboorte jaar. Ons sit by spierwit gedekte tafels met ons voete in moederaarde terwyl elkeen sy eie sushi maak en die wonderlikste wyne drink. Ons saamwees is heilig – oomblikke wat vir ewig kan aanhou. Die son dwing almal tot swye. Die betowerende rooi en goud kleure laat die see vir ‘n oomblik praat.

Ek beny iets van Wilma. Nou verstaan ek haar liefde vir karavane. Ek besef dat my negatiewe ervaringe ook my kinders kan weerhou van die mooiste gawes waarin ons kan deel. Sy leef met die grooste skat wat enige ouer mee kan lewe: Herinneringe.

Dit is ook die grootste gawe wat ons aan kinders kan gee.
Partykeer deur karavane.
by admin on February 5, 2010

‘n Ruk gelede het my regteroor toegeslaan. Ek het vermoed dat my oor vol was is. Wilma, my vrou, herinner my ook gereeld dat ek sukkel om te hoor. Ek het wel gevoel dat my dowe oor dalk vir my ‘n gawe kan wees aangesien Lucca, wat nou 17 maande is, ons ongeveer 7 keer ‘n aand wakker maak!
Verlede Saterdag het ek in Bettiesbaai saam met ‘n vriend gaan duik . Na die eerste paar meter onder water het ek geweldige pyn in die oor gekry. Die was het teen die oordrom gedruk – en veroorsaak dat die oordrom nie kon vibreer nie. Ek het te laat in Stellenbosch gekom om by ‘n doktor uit te kom, en was ook te laat vir die noodapteek. Gelukkig is my buurman ‘n apteker en het vir my sterk pynstillers gegee. Vir ‘n tyd kon ek nie behoorlik hoor nie. My ore het getuit – kompleet asof daar ‘n wind in my kop waai. Dit het gevoel of ek êrens in ‘n lugleegte vasgedruk word. Sondag was een van die langste dae – veral die aand se preek by InVia! Dit het gevoel asof ek myself twee keer hoor! Maandag was gelukkig ‘n goeie dag dit was soos ‘n wedergeboorte! ‘n Vriendin en mede-ouderling het die oor behandel en die oor uitspuit. Binne ‘n paar minute is die geluide en pyn weg en ek kon my gehoor herwin.
Ek kon nie anders as om hierdie storie ‘n paar keer te vertaal na my eie lewe nie. Ek sukkel met geraasbesoedeling en ‘n onvermoeë om die regte dinge te hoor – en veral om by God te hoor. Ek hoor met inspanning en onsekerheid. Wat ook beteken dat ek sukkel om die regte leiding te kan gee. Wat my wel troos is die feit dat my onvermoeë om nie te kan hoor nie – nie beteken dat ek nie kan hoor nie of dat daar nie stemme buite is nie. Ten minste is daar iets wat kan hoor! Hierdie “iets” wat kan hoor het Augustinus as ‘n “leegte” in ‘n mens beskryf wat net God kan vul. Die “leegte” self dui nie op God se afwesigheid nie – maar eerder op sy teenwoordigheid. Jode noem dit die vlam van God. Buddiste noem dit die groot self of godgegewe natuur. Die Kwakers noem dit die innerlike lig of leraar. Humaniste noem dit identiteit of integriteit. Thomas Merton het dit van die ware self genoem. Paulus noem dit beeld van God (Imago Dei).
Dit is nie belangrik WAT ons dit noem is nie – dit is belangrik DAT ons dit noem. Dit sal seker altyd ‘n misterie bly. Johannes vertel ‘n verhaal wat ons help om hierdie misterie beter te verstaan. Dit is soos die wind wat waai – jy kan sy geluid hoor maar weet nie van waar dit kom of waarheen dit gaan nie (Joh 3:3). Jesus leer Nikodemus dat hy wedergebore moet word. Wedergeboorte beteken letterlik “van bo gebore”. Jesus eis nie dwangmatige gehoorsaamheid nie – soos die meeste moralistiese bekerings waar ons bloot verligting van ons skuld beleef nie – hy wys hom ‘n ander wêreld waar God praat.
Die verhaal oor wedergeboorte gaan nie oor ‘n kortpad hemel toe nie – maar eerder oor die langpad aarde toe waar ons aardsheid in God nuut gemaak word. Ons word wedergebore om die dinge te sien wat na God wys “…it is not possible to see what I am pointing to…” (Joh 3:3, Msg). Die vleeswording was nie God se poging om hom meer God te maak nie – maar eerder om mens te word. So is dit ook dan seker ons taak om nie die aardsheid van ons hemels te maak nie, maar eerder om die hemelsheid (Imago Dei) aards te maak. Met ander woorde, om te ontdek wat God reeds gegee het of teenwoordig is. Dit is presies die les wat Jesus aan Nikodemus wil leer. “As ek julle die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as ek julle die hemelse vertel? “ Joh 3:12
Daarom begin geestelike begeleiding by die gewone lewe. Dit begin nie met godsdienstige oortuigings of morele pligpleging nie. Elke mens moet weet wie hulle is en dat ‘n grote God reeds in hulle lewe waai. Dis die goeie nuus of evangelie! Die skepping is immers voor die sondeval! Die vibrasies van die wind word vinnig weer gevoel wanneer die was van prestasies, oortuigings, geslag, of ras of een of ander sosiale konstruksie nie meer ons identiteit bepaal nie – maar God.
Die oor wat kan luister kan die gebed van Jesus “…in die hemel so ook op die aarde…” sien.
En dis mooi…
by admin on January 8, 2010
Veilige plekke kan baie gevaarlik wees. ‘n Klomp seevaarders en bemaningslede het dit op ‘n dag naby Kreta te duurste geleer. Hulle het in ‘n veilige hawe te lank gebly. Die hawe is Mooi Hawens genoem. Die hawe was beeldskoon en beskut teen die wind. Die winter het seevaart baie gevaarlik gemaak en daarom kon skepe nie te lank in Mooi Hawens vertoef nie. Daarom het Paulus hulle gewaarsku. Tog het hierdie mense teen Paulus se waarskuwing dit gedoen omdat hulle vas geglo het in die stuurman en die eienaar van die skip. Die gevolge was katastrofies. Die lang kuier in Mooi Hawens het byna hulle toekoms gekos. Hierdie storie lees ons in Hand 27: 1- 44.
Ons almal hoop en strewe na veilige plekke vir ons kinders omdat dit gemoedsrus oor die toekoms gee. Die probleem is net dat die toekoms al hoe meer onvoorspelbaar word en toenemend kom ons agter dat veilige plekke nie meer so veilig is nie. Daar is baie goed wat ek geleer is wat ek doodeenvoudig nie meer kan glo nie.
Die gesegde: Van hero na zero is eie aan ons tydsgees. Dit is hoogs onwaarskynlik dat my kinders slegs een beroep in hierdie lewe gaan beoefen – dalk drie of vyf! Die sprong van ons ou plaastelefoon na Skype of Twitter wys op hoe groot die verandering is. Dis kwantum of kwantanium!
Veilige plekke word onveilig omdat:
• VERANDERING teen die spoed van lig gebeur. Daar word nie net meer van sekondes gepraat nie – maar van nanosekondes. Dit laat my dink aan die ou wat doktor toe gaan en in kennis gestel word dat hy nie meer lank gaan lewe nie. Toe vra hy die doktor: Hoe lank sal ek nog lewe? Die doktor antwoord toe: 10, 9, 8, 7….!
Die wêreld van BC en AC (before and after computers) lyk totaal anders. Kennis verdubbel elke 18 maande – daar is skrywers wat meen dat dit elke 6 maande gebeur. Daar is ‘n nuwe webblad elke twee sekondes, nuwe produk elke 30 sekondes. Die spoed van mikroprossesering verdubbel elke 18 maande en rekenaar pryse halveer weer in dieselfde tyd. Elektronika het ‘n leeftyd van twee maande. Wat vandag nuut en innoverend is, is reeds môre verouder.
• CHAOS word die nagevolg van hierdie kwantumsprong. Verandering is kompleks. Dit is so vinnig daar is nie tyd vir refleksie nie. Die see of water is seker die beste metafoor vir chaos. Die lesers van hierdie verhaal in Hand sou seker gedink het aan Gen 1 met die aarde wat woes en leeg was, of Noag die eerste seevaarder en die uitwissing van die wêreld met water.
• ONSEKERHEID word deel van ons besluitneming. Verandering en chaos dwing ons om besluite temaak. Daar is net te veel om oor te besluit. Dit is etiese vrae wat ons menswees ten diepste raak. Stamselle, genetiese manupilering, mikro skywe om my geheue te vergroot, klonering en chemiese- en kuberoorloë is van die enkele vraagstukke waarmee ons gekonfronteer word. Die wêreldekonomie word binne ‘n paar sekondes in 2009 afgeskakel. Alles word heroorweeg en bevraagteken. Daar word gereken dat die grootste waarde skuif in 50 jaar paasgevind het. Die vraag is net: Na watter waardes word ons geskuif?
Ons word almal genoop tot agente van verandering. Soos Paulus moet ons soos profete waarsku en soos leraars leer en verduidelik. Die lewe ‘n reis is en nie ‘n bestemming nie. Verandering is deel van hierdie reis. Verandering is deel van ons skeppingsdoel. God het die aarde en die mens geskape met die woorde: Dit is goed. Die woord goed beteken: Potensiaal. Gedagtes, woorde, drome, dade is swanger met potensiaal wat nooit die kan nooit dieselfde bly nie.
Storms is soms veiliger as Mooi Hawens. God word ook in die stilte en storms ontmoet. Op ‘n manier leer choas ons ook iets van orde. Chaos leer ons dat daar goed buite ons is wat groter as ons is. In elke vorm van chaos is daar ‘n vorm van orde. Water kan verander in ys, sneeu en druppels maar dit bly dieselfde ding : water.
Die nuwe wêreld gaan oor keuses en om dit vinnig te maak. Tom Peters reken dat die leierskapsmotto in die oudae was: Mik…Gereed…Vuur…! terwyl dit vandag is: Vuur…Vuur….Vuur…! Keuses gaan nie meer soseer oor wat reg en verkeerd is nie, maar eerder oor wat die beste is. Dit gaan nie meer soseer oor wat ons kinders moet doen nie, maar eerder oor wie hulle moet wees. Die enigste sin wat ons in die wêreld ontdek, is die sin in onsself – en dit is om nie soseer aan te pas by al die veranderings om ons nie, maar eerder om verander te word sodat die aanpassings vanselfsprekend sal wees.
by admin on January 8, 2010
Vir ’n duisend wat kan dink kan net een sien.
- John Rushkin -
Kersfees nooi ons uit om te kyk. Herders in ‘n ope veld het gaan kyk. Wyse manne uit die Ooste het gaan kyk. Profete, engele en gelowiges het gaan soek en kyk na Jesus wat lig genoem sou word. Almal kon nie sien nie. Die lig was nie soos die helder Betlehemstêr nie – maar eerder weggesteek in ‘n vuil krip tussen randfigure. ‘n Menigte kon hom nie raaksien nie.
Dan was daar die persone wat gaan kyk het, en kon sien. Maria en Josef kon sien. Sagaria en Elisabet kon sien. Simeon kon die baba Jesus optel en sê: …nou het my eie oë Hom gesien (Luk 2:30). En vir hulle wat kon kyk en sien het die lewe ‘n nuwe ervaring en betekenis geword. Engele en mense moes daaroor sing. Daarom begin die storie van Maria, Sagaria en Elisabet en Simeon en Anna met ‘n lofsang.
Wat my fasineer van die verhaal is die feit dat die sien niks te make het met goeie preke, of wonderwerke, of openbarings nie. Selfs die baba Jesus is genoeg om jou lewe te verander. Jy hoef net te kyk. Jy hoef nie oorreed te word deur nuwe bewyse nie. Jy hoef nie nuwe informasie te kry nie. Nog minder hoef jy skuldig te voel oor jou sondes sodat jy gered kan word. Jy hoef nie betower te word deur nuwe wonderwerke of die aanspraak op ‘n beter moraliteit nie.
Jy hoef net te kyk.
En daarom is die belangrikste vraag met Kersfees: Wat sien jy?
Vandag is daar mense wat jare blind was wat weer kan sien. Gevorderde tegnologie maak dit vandag moontlik dat sekere mense wat blind is, weer kan sien. Sekere steurnisse in die oog kan deur laserbehandeling verwyder word sodat sig of beter visie moontlik is. Daar word tans baie navorsing gedoen oor mense wat weer hulle sig herwin en veral die aanpassings wat hulle moet maak om weer in die samelewing normaal te funksioneer. Ek het onlangs ‘n storie gelees van iemand wat vir die eerste keer na 53 jaar weer kon sien. Hy wou eerder weer blind wees. Die probleem is dat daar geen verwysingsraamwerk van ervaring en betekenis is om dit wat hulle sien te kan interpreteer nie. Dan kies die persoon om eerder nie te sien nie en intellektueel blind te wees.
Jesus het die metafoor van blindheid gebruik om mense aan God se wêreld voor te stel. Die probleem is nie om te sien nie – maar eerder wat jy sien. Daarom bring ‘n verkeerde kyk en sien ook verkeerde vrae. Dink maar die vrae oor Jesus: Is Hy nie van Beelsebul nie? Is Hy Elia? Is Hy nie die seun van ‘n timmerman nie? Is Hy nie die broer van Jakobus nie? Hierdie vrae kom uit ‘n verkeerde kyk na Jesus. Wat ons kan leer uit die vrae is dat die manier hoe ons na Jesus kyk deur ons eie sosiale konstruksies bepaal word. Sosiale identiteit speel ‘n deurslaggewend rol in ons geloof.
Natanael is ‘n klassieke voorbeeld. Hy word genooi na Jesus maar is nie positief nie. Sy beswaar is: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? (Joh 1:47). Sy werklikheid word subjektief bepaal. Elkeen van ons het diep gepersonaliseerde persepsies van die werklikheid. Jesus breek hierdie persepsies deurdat hy Natanael bewus maak dat dit nie hulle eerste ontmoetting is nie. Jesus het hom reeds onder die vyeboom gesien. Om te sien is nie soseer ons soek en vind van God nie, maar eerder God se soek en vind van ons. Om deur God gesien te word laat ons sien!
Om in hierdie wêreld te kan oorleef is nie maklik nie. Dit is soms vir my moeilik om te glo dat Kersfees ‘n goeie tyding vir almal kan wees. Die nood en gebrokenheid is net te groot. Dit is makliker om eerder te kies om nie te sien nie. Tog weerklink die hoop in Nuwe Testamentiese briewe wat geskywe is aan mense wat in die diaspora moes veg vir oorlewing: 49 keer word gelowiges uitgenooi met die twee woorde: Kom Kyk!
Dit was ook Fillipus se antwoord op Natanael se probleem met Jesus: Kom kyk (Joh1:47). Dit som Kersfees op. Dit is die goeie nuus vir elke nuwe jaar. Dit is die twee woorde wat die hemel laat sing.
Mag jy God sien!
Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar!
by admin on December 15, 2009
Die dood van Chris Louw het Suid-Afrika geruk. Die meeste van ons wil hê dat helde anders moet sterf. Hy sterf met ‘n vraagteken en nie met ‘n uitroepteken nie. Sonder antwoorde en die hoop waarvoor hy geveg het – met ‘n hoofstuk wat nie klaar geskryf is nie. In Chris se laaste sms aan Beeld oor ’n “storie vir julle, enkelkolom op bl.3”– word daar bespiegel of sy dood groot of mindere nuus sou wees.
Die nuus is groot – en dalk baie groter as wat selfs Chris dit kon antisipeer. Die kommentaar oor sy lewe wissel van opregte waardering tot politieke uitbuiting en selfverheerliking. Ek het geen twyfel nie dat Boetman-woorde ook hard sou val indien Chris kans gehad het om sy dood self te kon verdedig. Hy ken van jakkals en lam wat saam lê.
Die nuus is groot omdat Chris iets in elkeen van ons verpersoonlik: ‘n lewe wat baie harder is as ons terapeutiese voorgee en resepmatighede. Elke mens kom op ‘n plek in sy lewe waar hy met Chris se laaste woorde gekonfronteer word: “Ek kán nie meer nie.” Ons weet hoe om van pyn weg te hardloop of dit bloot net te ontken. Ons het genoeg speelgoed en medisyne om die pyn te verdoof. Soms is selfs die dinge wat heilsaam lyk juis ook deel van hierdie gevaarlike medisyne en speelgoed. Persoonlike sukses, persoonlike geluk en persoonlike saligheid belowe ‘n sorgvrye pad na die hemel. Dit is die wellus en vloek wat baie godsdienskamers dryf om die leuen te verkoop van ‘n lewe wat nie hard is nie. En gryp ons almal nie soms na hierdie utopistiese leuen nie? Die nuus is ook groot omdat Chris het die sondebok geword wat baie Suid Afrikaners se skuld dra. Daarom word hy bemin. Ek is trots op mense soos Chris Louw, Beyers Naude, Max du Preez, Helen Suzman, Dawid Bosch, Van Zyl Slabbert en baie ander wat bereid was om ook profeet te word en deur hulle eie nie geëer te word nie, maar om te staan vir dit wat reg en regverdig is. Om die pyn van ander te voel en te spreek namens hulle wat geen stem het nie. Dit word stories van hoop wat kan help dat ons skuld kan genees. Hierdie tipe projeksies is inspirerend en word stories wat die nuwe generasies ‘n toekoms gee.
Dan is hy ook sondebok in ‘n negatiewe sin. Waarheid wat nie in die gesig gestaar kan word nie, ken net een uitweg: Kry ‘n sondebok wat die straf moet dra. Amerika het die sondebok van die Taliban geword en die Taliban die sondebok van die Amerika. Iemand moet die oorsaak van die probleme (ook my probleme) wees. Die negatiwiteit in my eie gemoed is nou minder bedreigend. So raak Amerika, of die Taliban of Jode, gays, swart of witmense, of kommuniste, die gevaarlike manier hoe ek die ware oorsaak van my eie krisisse vermy, die middel tot ‘n doel: ‘n Plek waar my negatiwiteit kan rus. Ongelukkig verpersoonlik Chris dit ook. Die projeksie van verkrampte Afrikaners soos Piet Rudolf van die Boerevolk met sy resensies oor Chris, is die toonbeeld van selfverwaandheid waar hulle haat en vrees kan rus. Chris se dood bring ook ‘n baie ou debat terug op die tafel: Hoe moet Christene dink oor selfmoord? Die oordrewe selfversekering en onsimpatieke veroordeling wat jy soms in Christelike kringe hoor, maak die debat self onchristelik. Ek onthou hoe ek oor selfmoord in die kerk geleer is. Dit was die sonde teen die Heilige Gees wat nie kon vergewe word nie. So ‘n oortuiging is vernietigend vir jou geloof, veral as jyself vriende of familielede op so manier deur die dood afstaan. Dit word ‘n kanker wat jou siel wegvreet. Christene kon deur die eeue ook nie uit een mond oor selfmoord praat nie. Ons weet dat vroegste kerkvaders soos Augustinus en Aquinas dit as sonde veroordeel het terwyl Justinus gedurende die Bisantynse tydperk dit nie veroordeel het nie. Die eerste Christene het ook probeer om selfmoord binne hulle Joodse erfenis te interpreteer. Daarby sou hulle ook hulle geloof binne Jesus probeer verwoord het. Die lewe was heilig vir enige Jood en daarom kon jy nie jou eie lewe neem nie. Tog was daar uitsonderings waar Jode selfmoord gepleeg het. Dink maar aan die massa-selfmoord by Masada en ander plekke waar Jode hulle eie lewe geneem het. Die gebed “Wanneer die mes teen jou keel is” is gebid wanneer daar selfmoord gepleeg is. Selfmoord is met ander woorde gekontekstualiseer. Dit is ook nie vreemd dat daar in alle godsdienstige denkrigtings verskeie regverdigings vir selfmoord is nie.
Jy hoef nie ‘n Christen te wees of die regte Bybelverse te hê om ‘n oortuiging te hê dat dit verkeerd is nie. Die vernietigende effek wat dit in ons kinders en ander geliefdes het praat van die vloek van so ‘n daad. Die sonde van selfmoord is egter nie groter of iets anders as al ons ander sondes nie. Selfmoord is ‘n daad van selfsug – deel van dieselfde genetika wat daagliks binne my woel wanneer ek menige sondes van selfsug pleeg. Indien die debat gaan oor die graad van selfsug kan ons seker een of ander regverdiging kry vir ons dade. Ek wonder soms of ons eie selfsug nie die selfsug in selfmoord veroordeel nie. Miskien moet die debat eerder gaan oor die self, en minder oor die moord. Ongelukkig word die hoofstroom debat binne die kerk bepaal deur ‘n hemel-en-hel-teologie. Die enigste vraag wat dan beantwoord moet word is of die persoon wat selfmoord gepleeg het in die hemel of in die hel is. Iets wat jy nie in die Ou Testament kry nie. Die verkeerde vrae lei noodwendig tot die verkeerde antwoorde. So ‘n debat is wreed want dit stel nie belang in die mens se konteks en sy eie self en storie wat baie meer kompleks is as ons vinnige etiketering en Bybelse beswerings.
Daarom radikaliseer Jesus moord as iets baie meer as net die oortreding van ‘n gebod. Sy maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake ontbloot ‘n wêreld van morele meerderwaardigheid waarin eksterne voorskriftelikhede God gevange hou in ‘n krampagtige veroordeling en beterweterigheid. Die maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake relativeer sonde binne ‘n morele verstaan. Sonde het nie graderingsverskille nie. Nog minder ‘n simplistiese oorsaak dinamika soos wat daar vir Chris se dood opgedis word. Daar is byvoorbeeld nie ‘n verskil is tussen ‘n AK47 waarmee ek selfmoord pleeg en ‘n mes en vurk waarmee ek my letterlik dood eet nie. “En sit ‘n mes voor jou keel as jy ‘n goeie eetlus het!” (Spr 23:2). Deur jou broer Raka te noem beland jy in die beskuldigingsbank. Jesus praat ook van owerspel in die kop, haat as moordwapen, en koppel vrees en angs aan die diepste resesse van die siel. Johannes maan ook dat wie sy broer haat ‘n moordenaar is (1 Joh 3:15). Lê intellektuele of emosionele moord nie dalk nader aan fisiese moord as wat ons dink nie. Hoeveel van selfmoord is soms nie eerder moord nie? Wat is meer bedrieglik as ons eie harte? Indien ons sukkel om onsself te verstaan – hoe ironiese dat ons presies weet wat in ander mense aangaan en hulle motiewe kan peil?
Enige mens wat hierdie woorde ernstig opneem sal gestil word deur sy eie donker wat aan die lewe klop. Antieke gelowiges het gepraat van die donker nag(te) van die siel. Dit is om God te vind te midde van die nag en nie ten spyte daarvan nie. Ons evangeliese tradisies wat ons van herlewingspredikers geërf het bied geen raamwerk en verstaan vir hierdie sielswerk wat so nodig is nie. Tradisies soos die kontemplatiewe tradisies het weer hierdie stryd deel gemaak van die Christelike reis. ‘n Reis wat ten volle kan identifiseer met Jesus se lewe wat ook eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie: “My God , my God…?” (Matt 27:46). Iemand wat hom doelbewus voorberei vir sy dood: “Niemand neem my lewe nie, maar ek lê dit self af…” (Joh 10:18).
Die Christelike boodskap is een van pyn waar God binne die donkerste nag ontmoet kan word. In daardie ontmoeting vind die opstanding plaas. Dit word hoop genoem. Hoop ken net een taal – dit is liefde. Chris kon nie hierdie opstanding in hierdie lewe vind nie – dalk soos baie ander wat vandag dalk nog leef, maar sonder enige hoop. Wat Chris wel nodig gehad het en nou nog verdien, is liefde.
Want dit gee God nou aan hom, en ons.
by admin on November 11, 2009
My kinders help my om God beter te verstaan. Die eerlike rou vrae en antwoorde is soms soos ‘n dolksteek – dan probeer ek luister. Hierdie stiltes bring gewoonlik ‘n nuwe hoorbare bewustheid van God.
Een so insident het gebeur toe my dogter, Carissa 3 jaar oud was. Die spesifieke dag was sy ondeund en pa moes hard praat. Ek het haar op die kombuistafel gesit, in die oë gekyk en gesê: Carissa jy maak pappa se hart seer. Sonder om te skroom antwoord sy: “Woon liewe Jesus dan nie in jou hartjie nie?” Vir haar is dit onmoontlik dat haar pappa enige pyn kan ervaar met Jesus in sy hartjie. Die vorige week het haar maatjie ook vir haar by die kleuterskool gesê dat dit seker baie op Jesus se kop moet sneeu nadat hulle roomys geëet het! Hoe Carissa dink oor die boodskap van Jesus is maar soos ons almal dit leer in die Sondagskool. ‘n Jesus wat my ook ‘n hero maak. Om een of ander rede wil ons dit glo. Ons wil glo dat Jesus ons immuun maak teen enige seer en teleurstellings (so terloops dit is ’n baie bekende lering wat Triomfantalisme genoem word).
Een van die moeilikste dinge van pa wees is om antwoorde te gee wanneer daar nie antwoorde is nie. En dit veral wanneer ons as gesin vir sake saam bid. Hoe verduidelik ek my egskeiding aan ‘n 10 jarige dogter wat kinderlik glo, bid en huil vir die herstel van haar pa en ma se huwelik? Hoe verduidelik ek spierdistrofie en die dreigende blindheid wat my kind in die gesig staar. Hoe verduidelik ek my werkloosheid of die 46% van ons land se bevolking wat onder die broodlyn leef? Ons gebede klink heel anders as die gebede van die 46% van ons land wat God moet vertrou om bo die broodlyn te leef. CS Lewis het tereg gesê dat elke hongersnood, ramp en sterfbed is ‘n versoek wat nie beantwoord is nie.
Ons kultuur het ‘n groot invloed hoe ons na gebed kyk. Alles is vandag kits en vinnig. Bigger is beter word sinoniem met God se seën. Superman-fantasieë vul ons gebede. Die Bybel word soos die Geelblydsye en vir elke vraag is daar ‘n antwoord. Ontmoet maar net Job se vriende dan hoor jy dat jy nie genoeg geloof het nie, sonde gedoen het of te veel gevrees het. Ek het geen twyfel dat baie ons gebede soms net te onbeduidend en ligsinnig is om te antwoord. Dink maar aan al die versoeke wat Jesus nie kon antwoord nie (Mat 17:4; Mat 16:22; Luk 9:54; Mat 20:20 -21). Hoe antwoord die Here al ons sport gebede? Floyd Patterson het gesê nadat hy wêreldtitel wen: “I just hit him and the Lord did the rest!” (Dit moet ook seker moeilik wees om teen ‘n ou en die Here te boks!) Ek brand om te weet wat bid die meeste rugbyspelers as hulle kniel op die veld voor die game. (As ek na Bakkies kyk – dan vra hy seker byvoorbaat om vergifnis!) Ons bid en getuig met oorgawe nadat ons wen maar bitter min as ons verloor. Dan word Carissa se vraag of Jesus in jou hartjie is seker baie relevant.
Ek het groot geword met hierdie woorde: “Gebed is om met God te praat”. Ongelukkig het hierdie praat wenslyssies en voorskriftelikhede geword. Gebed moet ons na een plek neem: “Om na God te luister”.
En dan veral te luister na:
• Mag. Daarom is gebed wonderlik maar ook gevaarlik. Indien die duiwel Jesus versoek word met mag sal ons seker ook daarmee versoek word. Wanneer word my gebede superstisie, manipulasie of suggestie? ’n Groter vraag moet wees wat wil ek doen met die gebed wat beantwoord word en hoe sal dit ander mense kan dien?
• Roeping. Gebed het alles te doen met my lewe. Dit is nie net woorde of versoeke wat ek na God toe bring nie maar my lewe. My roeping teenoor my vrou, man kinders, omgewing en orals waar ek leef word die konteks vir gebed (Spr 21:13, Gal 2:20 en Jak 1:27).
• Misterie. Ons bid met geloof en nie vaste sekerhede nie. Daarom vra Jesus nadat Hy oor gebed leer “sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”(Luk 18) Soms voel ons die verste van Jesus as Hy die naaste aan ons is. Soms is sy antwoord om nie te antwoord nie. Jesus se lewe eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 27:46)
by admin on October 20, 2009
Ek het vanoggend 5:30 ‘n sms gekry: Oom Preiss Carinus is nou net oorlede. Ek het gereed gemaak en na Oom Preiss se plaas, De Goede Hoop, net buite Stellenbosch gery. Hulle was besig om Oom Preiss in die ambulans te laai. Oom Preiss is in sy slaap dood. Die familie het vir ‘n paar uur rondom die bed saam met Oom Preiss gesit nadat hy gesterf het. Seker net soos in die oudae. Dood was iets natuurliks. Mense het rondom die lyk gehuil, gegroet en totsiens gesê.
Niemand weet waarvan Oom Preiss dood is nie. Hy het stil gegaan. Tannie Renè, sy vrou, het gesê dat dit is hoe hy wou gaan. Hy was 78 jaar oud. Ek het die Carinusse ontmoet in 1999. Daar was bitter min lidmate op die register en met min moeite kon ek maklik by lidmate uitkom. Ek het gehoor Oom Preiss is gerug. Die Carinusse is bekend op Stellenbosch en ook die wynbedryf. Oom Preiss is self ‘n wynboer. Dit was nie maklik binne die AGS nie. Oom Preiss het as kerkraadslid die Here probeer dien as wynboer. Op ‘n dag verskyn hy op die voorblad van die Distrikspos met ‘n glasie wyn in die hand. Oom Preiss bots toe met die ferme tug van die AGS. Hy het die onvergeeflike kerkraadslidsonde gepleeg: Hy het wyn gedrink. Hy is van sy amp onthef. Nadat ek die storie gehoor het wou ek baie graag Oom Preiss ontmoet het.
Dit was ‘n wintersmiddag met die mooie son en wolke wat oor die berge hang. Ek is ontvang met wyn en neute. Ek kon dit nie glo nie – na 10 jaar se bediening in Gauteng het niemand my nog wyn op huisbesoek aangebied nie. Dit 14h00 in die middag. Ek het soort van skuldig gevoel. Van wyn het ek nie veel geweet nie – behalwe dat ek geweet het: Hier op Stellenbosch gaan dit nog lekker raak… Ek onthou die sitkamer en plaashuis met die ongelooflike mooi berge. Die een kosyn na die badkamer is baie laag – die dag stamp ek my kop teen die kosyn. Ek kon nie onderskei of dit die wyn of kosyn is wat my kop laat draai het. Dit was ‘n lekker kuier. Jy weet wanneer jy met mense connect. Hulle aards en eg mens.
Vandag was hartseer. Dieselfde plaas. Met dieselfde betowerende berge. Die mooiste son en mis wat hang. Ek het weer my kop teen die kosyn gestamp – op ‘n kol het ek gedink nou is ek saam met Oom Preiss! Alles dieselfde maar niks dieselfde. Oom Preiss is dood. Dit maak die berge anders. Die son skyn ook met donker. Ek het Sondag vir ‘n paar minute met Oom Preiss na kerk gesels. Hy wou alles van Lucca weet. Hy het my verseker dat hy en Tannie Renè bid elke aan vir my en Wilma. Ons het gegroet net soos elke Sondag maar met een verskil: Dit is my laaste woorde met Oom Preiss…
Vandag is ek hartseer. Ek sal Oom Preiss mis.
Ek wonder die heeldag wou sou ek anders vir Oom Preiss gesê het as ek geweet het dat dit die laaste keer in my lewe is wat ek die voorreg het om iets vir hom iets te sê…
by admin on September 24, 2009
Een oggend was daar moeilikheid by die kerk. Gelukkig was ek vroeg daar. Jan, een van die oudste lidmate van die kerk, was betrokke in ‘n skermutseling met ‘n broer. Ons almal ken vir Jan. Hy is vredeliewend, verkoop elke dag sy heuning in die dorp en sal niemand skade aandoen nie. Ek het na die toneel gehardloop wat afgespeel het in die tuin van die AGS-kerkie in Crozierstraat. Daar aangekom, het Jan my ingelig dat Annelie, my sekretaresse, die kerk se horlosie gebreek het. Jan het Annelie gedreig. Die broer het net sy plig gedoen en Annelie probeer beskerm.
Jan het dié horlosie jare terug aan die kerk geskenk. Ek neem aan dat die horlosie wat agter in die kerk gehang het vir die prediker bedoel was – dat dié nie te lank (of te kort) geïnspireerd raak nie. Charismatiese mense ken nie altyd die verskil tussen inspirasie en perspirasie nie. Die geseëndheid van ‘n preek hang ook af van die lengte. Dit verskil van kerk tot kerk. Ek het die horlosie gaan afhaal en vermoed dat die battery pap is. Jan het bedaar. Die oggenddiens het goed verloop. Ek het Jan ‘n geleentheid huis toe gegee. Hy het die horlosie huis toe geneem en my verseker dat hy dit sal herstel. Ons het oor die belangrikheid van die horlosie in die kerk gepraat.
Ek het na die eerste jaar in Stellenbosch begin om studentedienste in die aand te hou. Jan het albei dienste bygewoon alhoewel ek dieselfde preek gepreek het. Almal het geweet as Jan daar was – hy het diep en kliphard gesug sodat almal omgekyk het. Tien teen een het die preke Jan verveel. Die aand het Jan ‘n ander horlosie kerk toe gebring. Dit het soos ‘n Boeddhistiese tempel gelyk en was pure plastiekgoud. Dit was ook baie groter as die vorige horlosie. Die horlosie kon ook nie mooi inpas waar die vorige een gehang het nie. My vrees was dat iemand hul kop teen die horlosie sou stamp. Met moeite het ek en Jan die horlosie opgehang. Ons was reg vir die diens.
Die diens het begin. Ons het lekker gesing. Aan die einde van die diens het ek begin met die appél. Ons is geleer op kweekskool dat die einde die belangrikste deel van diens is. Dit is waar die Heilige Gees (veral) moet werk. Daar word die net getrek. Dit is die verskil tussen lewe en dood. Dit was presies agtuur. My vraag aan die gehoor was: Na watter stem wil jy die graagste in jou lewe luister? Uit die plastiekgoud-horlosie kom daar toe ‘n koekoek-voëltjie uit. Die voëltjie lyk soos ‘n Nazi-Barbiepoppie wat op ‘n duikplank uitloop. Met ‘n hees, bewende batterypap-stemmetjie word daar getrou agt koekoe’s gelewer. Dit voel soos ‘n ewigheid…
Die studente draai stadig om, en loer na die aardige koekoek – eers doodse stilte – en daarna ‘n geskater. Ek weet nie wat om te sê nie – en weet ook dat wat ek ook al sê, gaan niks beter maak nie. Toe besluit ek om nie die seën uit te spreek nie. Met die woorde: Ek neem aan julle kies die stem waarna julle wil luister. Ok, cheers, mag die koekoek-vreugde nou ook met elkeen gaan…
Die preek is vergete. Tot vandag toe praat hulle van die Koekoek-diens. Die gewone lewe praat soms harder as die heilige oomblikke waarin ons so onwrikbaar glo.
Elke keer as ek koekoeke sien dink ek aan dié dag maar ook aan die preek en die stem waarna ek behoort te luister.
Ons het meer Koekoek-dienste nodig.
by admin on September 9, 2009
Lucca is tas-sensitief. Hy het onlangs een jaar oud geword.
http://www.youtube.com/watch?v=Kicq6e1NJIo
Hy raak net aan sekere voorwerpe waarmee sy brein kan identifiseer en die ander word verwerp. Tas-sensitiwiteit word vergelyk met iemand wat sy naels teen ‘n swartbord krap of wanneer iemand sy naels te kort afgesny het. Daarom ervaar Lucca soms pyn en angs met aanraking alhoewel enige ander kind dit as normaal sal beleef.
Nou die dag bak skoonma heerlike boerebeskuit. Die hoogtepunt is altyd wanneer dit uit die oond gehaal word. Dan vier ons teepartytjie en almal smul aan die beskuit. Lucca hou van sy kos – soos my skoonfamilie – eet alles, en nog meer. Ek het vir hom ‘n warm stuk beskuit afgebreek en gegee. Met ‘n mond wat water, het Lucca volsterk geweier om dit met sy hande te neem. Toe buk hy af en tel dit met sy mond op!
Lucca vermy sekere plekke en strukture. Sy wêreld is tans baie klein en hy weier om die onbekende naby aan hom toe te laat. Hy lewe defensief om homself te beskerm en sy aandag word baie vinnig afgelei. Die fisioterapeut het vir ons ‘n klomp oefeninge gegee om Lucca mee te help. Hy moet ‘n klein balletjie tussen ‘n klomp sade uithaal. Hy weier natuurlik volsterk om sy hand daarin sit. Hy moet ook buite op die gras kruip. Hy kruip letterlik met sy voete in die lug en met een hand op die gras. Elke aand word Lucca gekam met ‘n klein sagte borseltjie. Sy giggeltjies is aansteeklik – sy ou lyfie hoendervleis uit totdat die kiellie nie meer verdra kan word nie.
.
Deur hierdie eenvoudige oefeninge en ander, kan Lucca sy funksies verbeter en terug herwin. In die VSA staan die terapeutiese proses bekend as repatterning. Dit is uitgangspunt is eenvoudig: Die brein moet van voor af geleer en geprogrammeer word om sekere voorwerpe te ken en te identifseer.
Ek dink dat die Via van Jesus die beste as repatterning verstaan kan word. Ons moet geleer word om sensitief te word vir ‘n baie belangrike wêreld wat onnatuurlik vermy word. Dit is die wêreld waarvoor ons gemaak is en die wêreld waarin God woon. Hierdie is geen mistiese idee of een of ander geheime kennis oor God nie. Dit is om die God te ontdek wat ons elke dag voor oë vermy. Om die brein nuwe maniere te gee om die aarde wat vol heerlikheid is, te ontdek (Jes 6:3). Om terug te kom na die plek waar ons nog altyd was. Om te sien waarna ons nog altyd kyk.
Die woord bekering kom van die Griekse woord metanoia. Meta beteken bo en noia beteken denke. Ongelukkig dink ons aan het bekering as ‘n meganiese transaksie binne ‘n moralistiese verstaan. Die transaksie is eenvoudig: bely jou sonde, gee jou hart vir die Jesus en neem Hom as jou persoonlike Saligmaker aan en lees jou Bybel en bid elke dag. Dan bly daar net “sondbestuur” oor. Dallas Willard meen dat: “ The gospel of sin management produces Christian vampires who wants Jesus for his blood and nothing else”. Hierby bedoel hy bloot dat die lewe van Jesus voor Goeie Vrydag net so belangrik is as Goeie Vrydag self. Alles wat op die kruis gebeur is die somtotaal van Sy lewe. Indien bekering slegs ‘n transaksie of ‘n resep is dan het ons nie die kruis nodig nie. Ons lewe, eerder as ‘n paar morele voor- of afkeure, word ‘n belydenis. Jesus word nie net in hart genooi nie, maar ook na ons lewe en hy word nie net my persoonlike Saligmaker nie maar ook die Saligmaker van die wêreld. Redding is nie ‘n afgehandelde transaksie nie, maar eerder die aanhoudende transformasie wat binne ons plaasvind waar God ons denke skuif na die groter en bo-prentjie wat ons nodig het. Die korrekte vertaling van Hand 2:46 is: en die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat besig is om gered te word…Jesus het dit die koninkryk van God genoem. Dit is waar God die koning word en alles herstel op hierdie aarde.
Bekering gebeur nie net in ‘n kop nie – daarby bedoel ek informasie– maar ook met ‘n hart. Metanoia gaan ook oor die dinge wat ons voel, beleef en sien. Dit is veel eerder ‘n bewustheid as informasie wat gegee word. Dit is baie eerder vrae as antwoorde wat gegee word. Dit gaan ook nie net oor vrae per sé nie, maar die regte vrae. Die vrae het te doen met die storie van my lewe en hoe dit inpas by die groter storie wat God deur die eeue in die geskiedenis skryf. Daarom vertel Jesus gewone stories oor saad, voëls, bome, familietwis en die allerdaagse lewe waarin ons God ook kan ontmoet. Hy probeer om God ook buite die tempel aan mense te verduidelik. Hy kan God ook in die lelies en mossies wys. Indien ek God nie in my hele lewe kan ontdek nie sal ek Hom moet beperk tot die kerk of die tempel soos in Jesus se tyd. My geestelikheid sal tas-sensitief en selektief wees.
Metanoia genees ons van tas-sensitiwiteit. Dit laat ons op nuwe maniere ons eie lewe en die wêreld voel en waardeer. Waar die meeste spiritualiteite ons wêreldvreemd maak, maak metanoia ons eerder meer mens. Ek kan Lucca dwing om aan sekere voorwerpe te raak – maar daardeur ook sy lewe vernietig. Sy denke moet eers verander oor die voorwerpe wat ons bang maak. Enige godsdiens sonder ‘n ware metanoia is arm en kan alleen deur die enjinkamers van moralisme gedryf word.
Hierdie is die Via wat elke volgeling van Jesus moet loop. Soms na plekke wat nou te pynigend lyk.
Maar wat nodig is.
En goed.
by admin on August 27, 2009
‘n Ruk gelede het ons Stellenbosch Gemeente se 10-jarige bestaan gevier. Ek het in 1999 my eerste diens in Stellenbosch gehou. Ek en Milan was alreeds vroeg daar. Carissa het op daardie stadium by vriende van my, Herman en Corlia, in Johannesburg gebly. By die deur het ‘n man ons gegroet. Ek het aangeneem dit is die koster. Ek het myself en Milan voorgestel. Hy het gesê sy naam is Jan Meintjies. Jan het nie geweet dat ek die nuwe pastoor van die AGS van Stellenbosch is nie. Ek het gedink dit is vreemd, maar vreemder sy eerste vraag: Wil jy heuning hê? Woolworths vra R18 – ek vra R10. Dit was wierd. Ek het geantwoord: Nee, dankie ons het heuning.
Ek dink toe by myself dat die eerste ding wat hier sal moet verander is die koster se heuning…
Die AGS-kerkie het op die hoek van Andriga en Crozier straat, regoor die drama departement, gestaan. Beter ligging kan jy nie voor vra nie. Daar is glo in kringe gespot dat niemand weet waar die meeste drama plaasvind nie. Daar is ook gepraat van die kerk met die blou vensters en die pienk matte.
Die diens het begin. Daar was 39 mense. Ek het omtrent niemand geken nie behalwe vir Prof Rufus Gouws, ons hoofouderling. Die ken was ‘n gesels tydens ‘n half maratonwedloop wat ons saam gehardloop het – nie ‘n goeie verhoudingsboupoging as jy nog nooit so iets gedoen het nie… Dit was ook sy laaste diens vir nege maande. Hy is Duitsland toe om klas te gee. Jan het reg voor ons kom stelling inneem. Hy het tydens die sangdiens gedirigeer. Dit was vreemd. Die liedere was ou AGS- liedere. Tydens die lied, Druppeltjies maak ons dankbaar, het Milan aan my baadjie getrek, sy gesig getrek en binnemonds gelag. Ek het hom berispe.
Toe kom die preek. Ek het begin met ‘n grappie. Niemand het gelag nie. Elke predikant het ‘n paar wat altyd werk. Ek het weer een vertel. Niemand het gelag nie. Ek het ‘n migraine aanval op die kansel gekry. Die preek het soos ‘n ewigheid gevoel.
Na die diens het mense kom welkom sê. Jan het ook kom gesels. Die eerste ding wat Jan vir my gesê het is dat hy familie is van Pastoor Justus Du Plessis. Ek en Jan het geclick. Justus Du Plessis broer was die bekende, Dawid Du Plessis, en ook genoem: Mnr Pentecost onder Katolieke. Jan vertel my van sy slim familie. Pastoor Justus was van die Nuwe Orde in die AGS. Daar was ‘n groot bakleiery jare terug oor die Nuwe en Ou Orde. Die Ou Orde het geglo dat die teenwoordigheid van die Here word in desibel gemeet. Hoe meer luidrugtig hoe meer geseënd. Dit het ook aanleiding gegee tot ‘n kerkskeuring. Pastoor George Snyman was ook vurige voorstander van die Ou Orde. Hy het die groot verset suksesvol gelei en die PPK ( Pinkster Protestante Kerk) is toe uit die AGS afgestig. Ek het ook gehoor mense noem hulle die Pinkster Probleem Kinders.
Die gesprek bring memories…
Pastoor Justus het my in matriek aangemoedig om verder te leer. Die oorgrote meerderheid in die AGS het geglo dat geleerdheid staan in die pad van Heilige Gees. Jy moes ‘n keuse maak tussen geleerdheid en die Heilige Gees. Ek het soms skuldig gevoel, veral as die broers my gevra het wat gaan maak met die Grieks en Hebreeus wat ek bestudeer. Ek voel dankbaar dat ek na Pastoor Justus geluister het. Jan vertel my dat ek nou in ‘n slim dorp woon. In teologiese kringe sê hulle dat Stellenbosch se mense so slim is, dat hulle die wederkoms kan organize.
Jan sê vir my hy was die eerste bloubaba in Suid-Afrika en het nie genoeg suurstof by sy geboorte gekry nie. Daarom is hy gestremd. Jan vertel my hy het 14 katte en bly by sy ma. Hy waarsku my teen inkommers. Hy noem hulle f***n inkommers. Mense van Gauteng wat op Stellenbosch kom woon.
Ek verstaan nou die heuning van R10. Ek bewonder Jan se ma wat hom leer oorleef het vir die dag as sy nie meer daar is nie. Ek verstaan dat Jan tydens die sange dirigeer. Ek is bly daar is kerk vir Jan. Ek is bly hy mag heuning in die ingangsportaal verkoop.
Ek en Milan ry huis toe.
Die koster se heuning sal die laaste ding wees wat ek in die kerk sal verander.