
AJ is ons se hoofouderling by InVia. Ek noem hom en die ander ouderlinge maar jongelinge omdat almal van hulle feitlik in hulle 20 tigs is. AJ is ‘n rugby-man, het die rugy-look, ‘n altleet van formaat en rig self die sport af. Van sokker weet hy nie veel nie – en vind dit moeilik om 90 minute – in sy woorde – na 1 punt te sit en kyk. ‘n Vuvuzela is ook nie sy geliefkooste instrument nie.
Toe nooi sy vriend hom na die wedstryd tussen Frankryk en Bafana Bafana. Hy land toe langs ‘n Xhosa-dame met ‘n vuvuzela. AJ is uit staanspoor van sy voete af geslaan. Die dag het begin met die volkslied wat die Xhosa-vrou in Afrikaans met volle oorgawe soos ‘n aanbiddingslied sing. Na die tweede doel van Bafana Bafana word hy omhels deur die wildvreemde Xhosa-vrou as haar eie, en doen die vuvuzela-druk! AJ kom terug as sokker-bekeerde, gewapen met sy eie vuvuzela en praat alreeds van die volgende sokkerwedstryde wat hy na die Wêreldbekertoernooi wil kyk.
Dit is seker die grootste wat van die Wêreldbekersokker in Suid Afrika onthou sal word: die vuvuzela. Van die vroegste tye is die vuvuzela deel van die Afrika kultuur. Daar is glo diep geestelike wortels waar die vuvuzela gebruik is om tye van geestelike intensiteit aan te kondig. 100 jaar gelede het die profeet Shembe dit in sy gemeente gebruik. Daarom is die woord “gees” baie beskrywend wanneer die vuvuzela ons roep om “gees te kom vang”. Durban Amazulu-sokkerklub speel sedert 1980 sokker met dreunende vuvuzelas wat van dierehorings en suikerriet stokke gemaak is. Kaiser Chiefs het hierdie tradisie vinnig oorgeneem. Baie Suid Afrikaners het eers met die Wêreldbekersokkertoernooi ontdek dat daar wel so iets soos ‘n vuvuzela is!
Vir party was die vuvuzela ‘n vloek. Voor die Wêreldbekertoernooi het reeds 50 000 mense op die webwerf www.banvuvuzela en 14 081 op die webwerf www.antivuvuzela.org beswaar aangeteken teen die blaas (ek hou van die Nederlands – getoeter) van die vuvuzela. In sommige Duitse stede is dit verbied en in ander stede word jy met R325 beboet. Klagtes het gewissel van oorskade tot die verniettiging van die bekende Europeuse samesang tydens die sokkerwedstryde.
Dan was daar die doemprofete wat gemaan het dat ons probleme gaan begin nadat die Wêreldbekersokkertoernooi verby is en die vuvuzelas nie meer geblaas word nie. Suid Afrika gaan sit met ‘n sokker–isibhabhalazi. Isibhabhalazi is die Zulu-woord vir babbelaas. Die kopseer na die plesier. Die vuvuzela-haka sal gestil word soos wat Diego Forlan van Uruguay met Bafana Bafana kon doen. Skuld en en onrealistiese verwagtings en werkloosheid sal die gees uit elke vuvuzela blus.
Vir ander was dit weer ‘n seën. Vir die slim mense in bemarking is die vuvuzela ‘n geniale meesterstuk. Beter “branding” kan daar nie wees nie. Iets eenvoudig van Afrika en uit Afrika. Jy sien hom, hoor hom en voel hom. Dan sorg hy vir eie publisiteit. Die vuvuzela het vinnig bekeerlinge gewerf. Vuvuzela-koors het nie net in Suid Afrika gebyt nie – maar ook in ander lande. In England is daar glo 65 000 vuvuzelas verkoop. Ironies en hartseer dat Chinese fabrieke wat tot 25 000 vuvuzela’s ‘n dag gemaak het, het muntgeslaan uit die ekonomiese geldkoffers van ‘n Wêreldbekersokker in Suid Afrika! In Europe en Suid Afrika kon iPhone spog met die vuvuzela as die gewildste aflaai-program.
Terug na AJ. Sy voorbehoude en skeptisisme oor sokker en vuvuzelas is iets van die verlede. Hy kon die gees vang. Hy kan nou met nuwe oë na sokker kyk. AJ moes eers sy wêreld los om iets te verstaan van die gees wat die vuvuzela het. Dit is miskien die hart van enige ware transformasie – om oor te loop na iemand anders se wêreld. Die Bybel noem dit inkarnasie – waar die God van die hemel ook bereid is om die paaie van stof en vlees te bewandel. Dit is die enigste transaksie wat ‘n kind kan verstaan. Waar pa’s nie preek teen dit wat na oorpluisies vra nie – maar saam dit kan beleef waaroor die oorpluisies gaan. Om die hemel en stof in ons lewe te eer. Om lig in die skadu’s te ontdek. Om soms ook as ouers genees te word van ons eie projeksies. Dit is dalk die grootste gawe wat kinders ook aan hulle ouers met raserige vuvuzelas kan gee.
Bloemfontein, ‘n Xhosa-vrou, en ‘n omhelsing het AJ besiel om die vuvuzela ook in die toekoms te blaas.
Dit is die mooiblaas want dan is die gees in die vuvuzela.
En die toekoms moet dit hoor…
by admin on June 29, 2010

My ouma het ons TV die Eenooggod genoem. Sy het geglo die TV is groter as die lewe. Dominees en pastore het teen die Eenoogduiwel gepreek. Vandag weet ek waarom: TV’s kan praat. Mense luister en volg sy boodskap slaafs na.
Ek praat nie van die verskillende tale waarna jy op verskeie stasies kan luister nie. Ek praat van die taal waarna jy luister al hoor jy hom nie. Jy luister na hierdie taal wanneer hy praat in grimering, klere, voorkoms, musiek, beligting en effekte. Dit is die taal wat jou in sepie-sterre laat glo en hulle handtekeninge laat vra. Wat jou sekere klere, sjampoe en musiek laat koop. Wat jou laat glo dat Riaan Cruywagen skaars 50 jaar oud is (hy is my hero van graag 7!) en dat jou nuwe motor binnekort vervang moet word.
‘n Ruk gelede het ek en Wilma saam met ons vriend Kokkie en sy broer, Oom Oubie, in Mosambiek gaan kuier. Die instruksies na ons eindbestemming was as volg: “Ry na Maputo. Draai voor Maputo links na Xai-Xai. Ry van Xai-Xai na Chidenguele, en dan na Mandendere – dis so ongeveer 75km. By Mandendere, draai links by die twee groot Mangobome en ry op ‘n voetspoor-paadjie vir 20 km tot by ‘n boom met ‘n TV. Onder die boom staan ‘n TV, ‘n sambreel en ‘n sakkie. Draai links by die boom met die TV, volg dan die pad tot by die riviermonding. Ons plekkie is teen die mond – welkom by Bella Vida in wording!”
Ons het die instruksies noukeurig gevolg en by die TV onder die boom links gedraai. Die TV het my geïnteresseer. Ek kon nie wag om uit te vind waarom ‘n TV in die middel van nêrens onder die boom staan nie. Die mense wat daar bly vertel my toe die storie. Die TV is glo gesteel. Terwyl die dief met die TV, sambreel en die sak loop, praat die TV met die dief en sê: Waarheen neem jy my? Die dief skrik toe so groot en hardloop weg en los die TV net daar onder die boom. En so staan die TV onder die boom vir die laaste 7 maande. Die eienaar wil nie die TV terug hê nie omdat die TV kan praat en volgens hom getoor is. Die sambreel se storie is dat dit eendag na die kafee toe geloop het en gaan kyk het wie daar kom bier drink het.
Terug uit Mosambiek kuier ons en die kinders en kyk na die foto’s van die TV wat praat. Ons lag lekker oor die TV. Saam met die lekker lag dink ek aan my ouma se Eenooggod en ek wonder of die TV-dief in Mosambiek nie dalk iets gehoor het waarvoor ons doof is nie. Die TV praat. En eenvoudige bosbewoners hoor, terwyl geleerde rykes doof-onnosel is.
Ek hoor dat kinders meer as 4 ure ‘n dag TV kyk en dat pa’s hoogstens 15 minute ‘n dag hart tot hart met hulle kinders kommunikeer. Ek lees dat TV-persoonlikhede van die hoogs betaalde mense is. Ek sien hoe programme gemaak word oor hoe programme gemaak word. Dit is asof dit belangriker is om ‘n nuwe spesie op TV te vertoon as wat die ontdekking self is. Die TV definieer homself in terme van homself. TV gaan oor TV. Punt. My ouma was reg. ‘n Grootheid in homself. Eenooggod leef.
As pa wil ek veg dat tyd heilig in ons familie word. Indien ek my lewe weer kon leef, sal ek meer tyd met my kinders wil hê en minder tyd bestee aan pastorale krisisse en verpligtinge. Ek wil hê dat my familie soos Job ‘n verbond sluit met ons oë om na die regte dinge te kyk (Job 31:1 ). Of soos die Psalmis wat sy oë afwend van nietigheid (Psa 119:37). Die Message-vertaling beskryf nietigheid mooi: Divert my eyes from toys and trinkets, invigorate me on the pilgrim way.
Speelgoed kan nooit die plek van God neem nie en nog minder kan God speelgoed word. Ek wil my kinders leer om na Jesus te luister wat reken dat my oë ‘n lamp is wat my hele liggaam op ‘n nuwe koers kan bring (Mat 6:23). Die regte beelde kan ons die regte dinge laat hoor.
Ons het vir drie jaar sonder ‘n TV in Stellenbosch gebly. Ek het geswig onder die druk van Carissa en Milan en het oorgee aan die Eenooggod.
Nou wonder ek of ons luister as hy praat en weet wat hy regtig alles sê.
Die TV-dief kon dalk beter hoor…
Lees gerus Amusing Ourselves to Death van Neil Postman.

Lucca ons seun is nou 22 maande. Hy begin nou die tipiese man-ding doen. Hy het ontdek oorsaak en gevolg en die wonderlike gevoel van beheer en in beheer wees. Sy geliefde woorde is natuurlik: Myne en nee! Hy gooi al sy speelgoed van die trappe af en sy geliefkooste speletjie is om klippe in die swembad te gooi. Hy weet baie goed hy mag dit nie doen nie en geniet elke oomblik as ons kyk – hardloop dan vinnig, tel die klip op en slinger dit die swembad. Daarna gee hy vir homself ‘n dawerende applous. Terwyl ek hierdie artikel skryf gooi hy my skoonpa se glas wyn stukkend met ‘n klein rubber balletjie!

Saam met die nee’s kry hy soms ook ‘n tik (en by Wilma tik-tikkie) op die vingers. Dit is soms die enigste insig wat Lucca kan kry in dinge wat hy nie mag doen nie en wat ook gevaarlik is. Alhoewel hy dit nou nooit sal kan verstaan nie, is die pyn wat hy soms moet ervaar ‘n teken van ons liefde vir hom. Daar is ‘n liefde wat jou moet seermaak om te verstaan dat dit ware liefde is!
Ek lees nou die dag dat kerkvaders geglo het dat daar twee dinge in die lewe is wat jou lewe transformeer: Liefde en pyn. In hierdie skool van denke is liefde en pyn nie geskei nie. Dit is soos ‘n muntstuk, die kruiskant van liefde is met ander woorde ook pyn. God se liefde sien ons die beste in die pyn van ‘n houtkruis. Ware liefde het altyd ‘n wond. Die haat wat ek moontlik kan ontwikkel wanneer iemand my verhouding verniettig het, dui natuurlik ook op die liefde wat ek vir die persoon het wat ek verloor het. Dan is haat met ander woorde ook liefde – net in sy donkerste vorm.
Dit is moeilik om so stelling te verstaan binne ons Westerse denke wat liefde en haat dualisties skei en liefde eerder wil idealiseer. Ons verban en besweer pyn en wil eerder na Jesus kyk as gelukbringer en nie as die een wat self sonde geword het en ook gely het nie. Geestelike materialisme is ‘n oer-oue mantra in baie kerke wat immuniteit teen pyn belowe.
In Joh 4 leer Jesus sy dissipels iets oor liefde en pyn. Hy ontmoet ‘n Samaritaanse vrou. Haar lewe is een van seerliefde. Jesus doen weer die ongewone en breek al die kulturele en godsdienstige stereotipes en phobies. Hy praat eerstens met haar by ‘n put. Putte was die sosiale bymekaarkom plekke – soos ‘n piazza in Italië, of gewilde koffiewinkels. Rabbi’s sou nooit daar kuier nie. Tweedens praat hy met ‘n vrou, wat ook binne Rabbynse tradisie ongeoorloof was. Derdens, is dit iemand wat in poligamie betrokke is wat ten sterkte veroordeel was en vierdens is sy ‘n Samaritaan wat beteken dat Jesus ook onrein sou wees.
Wat sou Jesus in hierdie vrou sien wat godsdienste mense nie in haar kon sien nie? Waarom begin Jesus ‘n gesprek sonder enige vermanings of veroordelings of berispings nie? Want ware liefde loop na pyn toe. Jesus doen dit wat enige ware liefde voorveronderstel: Om te ken en geken te word. Hy skep ‘n veilige spasie van onvoorwaardelike liefde waar die vrou kan ontdek wie Hy is (vs 19) en waar sy ook kan ontdek wie sy werklik is (vs 17).
Seer veroorsaak dat ons altyd iets moet wys wie ons nie werlik is nie. Die vrou kruip weg agter haar identiteit (vs 9), begin met vergelykings (vs 12), word oneerlik alhoewel sy die waarheid praat (vs 18), en kruip weg agter haar godsdienstige oortuigings (vs 21).Haar soeke na intimiteit en ware liefde wat sy nie in ses mans kon kry nie, ontdek sy in iemand wat waarlik liefhet. Ek probeer myself ook net indink hoe sistemiese sondes (wat aan jou gedoen is) soos rassehaat, seksisme en morele meerderwaardigheid haar indentiteit en selfliefde moes verniettig het.
Elke mens leef met seerliefde. Ons wonde laat ons harder na liefde soek buite die kaders van voorwaardelike liefdes. Hierdie verwonding veroorsaak soms dat ons in donker of seerliefdes na ware liefde soek. Die verhaal van die Samaritaanse vrou is ook ons storie waar kulturele konstruksies en stereotipes soms ons pyn eksploïteer en liefde onmoontlik maak. Die enigste oplossing wat ons dan het vir donker of seerliefdes is ‘n oppervlakkige moralisme of godsdienstige bestrawwings. Vir Jesus is prekerigheid of beterweterigheid nie die antwoord vir haar soeke in ses mans nie, maar ‘n veilige spasie van onvoorwaardelike aanvaarding en begrip van waar sy tans in haar lewe soek. Jesus maak haar wegkruip plek veilig sodat haar wegkruip – net soos in die paradys – ook God se vind kan word.
Dan weet ek eers dat ses mans genoeg is…
by admin on March 26, 2010

Oorlede oom Ockert Brits het my geleer van plasebo. Oom Ockert was jare lank ‘n mediese doktor en ook ouderling in Mosaïek en Stellenbosch Gemeente. Hy het met beide sy voete plat op die aarde geleef. Nederig , hartlik en vol humor. Ek het my eerste rooiwyn in Stellenbosch saam met Oom Ockert gedrink.
Julie 1999 – ‘n goeie jaar.
Oom Ockert het geglo in die pil en die gos-pil. Daarom het hy ook vir al sy pasiënte gebid. Hy het altyd gespot dat die grootste gedeelte van sy praktyk bestaan uit tannies wat hul weeklikse plasebo-fix kom haal. Oom Ockert sou baie keer in ‘n ligte luim spot met plasebo-christene.
Placebo is ‘n substans wat gegee word sonder enige pharmaseutiese gevolge of voordele. ‘n Suiker pilletjie is voldoende vir die genesing. Die geloof is met ander woorde meer in die geloof oor die produk as die produk self. Die Latynse betekenis van plasebo is: “Ek sal behaag”.
Een van die mooi stories in die Bybel is die van Marta (Luk 10:38-42). Indien ek ‘n naam vir die storie kon gee sou ek dit plasebo-liefde genoem het. Die storie voel of dit glad nie pas nie want die vorige storie gaan oor die Barmhartige Samaritaan – een van doen – en nie jou lyf net Priester en Leviet hou nie. Hierdie storie is een van nie-doen – waar jou lyf soos Maria weer Priester en Leviet word.
Sy nooi Jesus na haar huis om te kom eet. Gasvryheid was in die midde Ooste nie net goeie maniere nie, maar deel van mense se geloofsgewoontes. Hulle het geglo dat jy God binne die vreemdeling ontmoet. Daarom herinner die Hebreërskrywer dat ons gasvryheid nie moet vergeet nie want sommige van ons het engele as gaste geherberg (Heb 13:1). Indien Jesus by jou kom eet kry jy sy dissiples saam met Hom. Vir Marta was dit nie te veel moeite nie.
Marta het een passie: Om Jesus te behaag.
Haar liefde en oorgawe aan Jesus bring geen transformasie nie. Haar liefde het slegs ‘n plasebo-effek op haar. Sy doen die liefde – maar ervaar dit nie. Selfs Jesus word nie deur haar liefde geraak nie. Dan gebeur iets vreemds. Sy projekteer hierdie leegheid en harde probeer op haar sussie Maria wat aan Jesus se voete sit met die woorde: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” vs 40. Marta leef in ‘n destruktiewe liefde met haar sussie. Sy wil beheer en voorskryf en oordeel. Dan word plasebo, nosebo. Nosebo beteken in Latyn: “Ek benadeel”. Kunsmatige liefde skakel altyd oor in donker liefde. Dan word godsdiens die donkerkant van al my projeksies. Nosebo-evangelisasie stel net belang in die fix – die vinnige en oppervlakkige pad uit – want jy hoef nie ‘n pad met mense te loop nie. Die wat iets weet van die navorsing wat oor nosebo gedoen is sal weet dat die fix gebeur – behalwe dat dit placebo bly… Dit is redding sonder redding.
Friederich Nietzche se definisie van geloof was om nie te wil weet wat regtig waar is nie. Dit is blinde geloof. Dalk wou Marta nie die oorsprong van haar probleem hoor nie – en dat haar diensbaarheid in die kombuis die veiligste plek was om van Jesus weg te kruip. Marta moes hoor dat liefde gaan oor om waarlik teenwoordig te wees. Dis die een ding wat ons nodig het om te kan lewe (vs 42). Marta is afwesig met ‘n verdeelde lewe. Fisies teenwoordig maar emosioneel en intellektueel afwesig.
Indien die strewe om te behaag my vertrekpunt van liefde is, is dit die verkeerde vertrekpunt. Indien die vertrekpunt is – ek is reeds behaag – maak dit ‘n nuwe wêreld moontlik! Dit was die woorde wat Jesus moes leer voordat sy bediening begin het: “…my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het…” Joh 3:12. Die enigste liefde wat ons kan gee is die liefde wat ons ontvang het. “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het…” 1 Joh 4:19.
Terug na Oom Ockert. Oom Ockert het op sy sterfbed geweier dat ek vir hom moet bid vir genesing – hy wou doodgaan. Hy het sy vrou, Tannie Joey – wat ‘n paar weke voor hom dood is – te veel gemis. Hy het alle medikasie geweier. Hy het ook in die hospitaal vir my gesê dat ek hom nie moet pla met besoeke nie, maar hy sal my self bel voordat hy doodgaan omdat hy my laaste wou groet.
Dit was ook so.
Saterdagaand lui my foon. Dit was Oom Ockert. Oom Ockert sê dankie vir mooi jare wat ons saam vir die Here kon leef. Ek het gehuil – en diep in my hart het ek gehoop en gewens dat ek ook eendag so kan doodgaan.
Sonder plasebo.
by admin on March 5, 2010
Wilma het onlangs veertig geword. Dit is gewoonlik ‘n waterskeidings jaar. Hierdie tyd staan bekend as “halftyd”, menopouse, middeljarige krisis of bloot net ‘n ontkenning van die dood. Pa’s en ma’s weer jonk – kleur hare en koop gewoonlik ‘n rooi sportmotor en begin passievol te gym.
Alhoewel Wilma nog jonk en energiek voorkom het ek wel vermoed dat daar middeljarige-halftyd-aanslag op haar brose psige plaasvind nadat sy my gevra het of ons haar verjaarsdag in ‘n karavaan kan vier! Wilma probeer al jare om my tot die karavaan-specie te bekeer. Sy het as kind elke jaar in ‘n karavaan gaan vakansie hou. My sielkundige waarneming was toe – dat sy nostalgiese teruggryp na die verre verskiet van kind-wees omdat sy besef dat die lewenshorlosie stadig maar seker kosbare lewenssekondes aftik.
Ek is nie ‘n karavaanmens nie, inteendeel ek het nog net een keer in my lewe in ‘n karavaan vakansie gehou. Dit was die langste Desember in my lewe. Stormwinde en slaap is onversoenbaar. Ek beskik nie oor al die karvaan vaardighede nie maar kon wel help met die aanhoudende uitvee en afstof van die skade wat stormwinde veroorsaak. Vir die volgende paar dae skerts Carissa en Milan oor hulle nuwe karvaan-pa.

Ons het in Glentana by Dwarswegstrand bespreek en kon gelukkig my skoonouers wat onlangs na Tergniet verhuis het, se karavaan leen. Wilma was opgewonde soos ‘n jong dogterjie. Sy het gebrabbel en wonderlike stories van kindsbeen vertel.
Die oomblik van waarheid het aangebreek. Ons het ongeveer 14h00 die middag in bloedstollende hitte by Tergniet aangekom. Dit het omtrent ‘n uur geneem om alles te pak en die karavan te hak. My skoonma het vir ons beskuit gebak – maar ongelukkig dit toegedraai met een van die lappies wat uit die trek kom, wat nog vol mottegif was. Ek lewer geen kommentaar oor my skoonma se beskuit nie. Vir ‘n oomblik kalm daar so depressiewolkie in my gemoed. Sou die beskuit en hitte tekens van tye wees?
Dwarswegstrand is idillies mooi en ons staanplek is kilpgooi van die see af. Wilma het aangedring dat ons ook al die tente van die karavaan moes opslaan aangesien dit wonderlike speelplek vir Lucca sou wees. Geen maklike taak nie – veral as jy niks weet van tente en penne nie. My skoonpa is dierbaar en help met die opslaan, anders sou ek seker nou nog daar gewees het! Wilma se kinderskoling kom ook handig te pas en sy verduidelik vir my baie mooi wat hier aangaan. Om ‘n tentpen in klipharde grond in te slaan vra ook ‘n sekere vaardigheid wat ek nie het nie. ‘n Karavaan moet ook waterpas staan sodat die yskas kan werk – dit het ek eers 6 ure later ontdek. Ons buurman kom stel homself voor en bied sy hulp aan indien ons enige iets nodig het (hy kon seker duidelik sien dat moontlik hulp gaan nodig hê!).

Die nagrus was wonderlik – dit klink asof die see oor jou spoel. Net na vyf skrik ek wakker met ‘n stortreën. Dit is die mooiste geluid wat ek nog gehoor het. Saam met die reën dink ek aan die duisende gebede wat die afgelope tyd vir die ergste droogte in 100 jaar gebid is. Ek staan op en gaan skuif die skottelgoedmandjie regoor ‘n straaltjie water wat van die tent afloop.
Eweskielik word die karavaan die mooiste plek wat daar is. Ek voel naby aan die natuur – kompleet asof die reën eerste op my val. Die reuk neem my terug na my kinderdae waar ek in die reën visgevang het. Ek word weer kind. Ek word hartseer en verlang na vergete dae wat ek nou weer onthou en iets vertel van wie ek is en waar ek vandaan kom. Lucca word wakker. Nou val daar ‘n sagte motreën. Ons gaan loop op die strand in die sagte reën. Lucca sing en praat babataal uit volle bors. Nog mense loop in die reën – almal is bly en huppel soos kalwers in die eerste somerreën.
Die aand vier ons Wilma se geboorte jaar. Ons sit by spierwit gedekte tafels met ons voete in moederaarde terwyl elkeen sy eie sushi maak en die wonderlikste wyne drink. Ons saamwees is heilig – oomblikke wat vir ewig kan aanhou. Die son dwing almal tot swye. Die betowerende rooi en goud kleure laat die see vir ‘n oomblik praat.

Ek beny iets van Wilma. Nou verstaan ek haar liefde vir karavane. Ek besef dat my negatiewe ervaringe ook my kinders kan weerhou van die mooiste gawes waarin ons kan deel. Sy leef met die grooste skat wat enige ouer mee kan lewe: Herinneringe.

Dit is ook die grootste gawe wat ons aan kinders kan gee.
Partykeer deur karavane.
by admin on February 5, 2010

‘n Ruk gelede het my regteroor toegeslaan. Ek het vermoed dat my oor vol was is. Wilma, my vrou, herinner my ook gereeld dat ek sukkel om te hoor. Ek het wel gevoel dat my dowe oor dalk vir my ‘n gawe kan wees aangesien Lucca, wat nou 17 maande is, ons ongeveer 7 keer ‘n aand wakker maak!
Verlede Saterdag het ek in Bettiesbaai saam met ‘n vriend gaan duik . Na die eerste paar meter onder water het ek geweldige pyn in die oor gekry. Die was het teen die oordrom gedruk – en veroorsaak dat die oordrom nie kon vibreer nie. Ek het te laat in Stellenbosch gekom om by ‘n doktor uit te kom, en was ook te laat vir die noodapteek. Gelukkig is my buurman ‘n apteker en het vir my sterk pynstillers gegee. Vir ‘n tyd kon ek nie behoorlik hoor nie. My ore het getuit – kompleet asof daar ‘n wind in my kop waai. Dit het gevoel of ek êrens in ‘n lugleegte vasgedruk word. Sondag was een van die langste dae – veral die aand se preek by InVia! Dit het gevoel asof ek myself twee keer hoor! Maandag was gelukkig ‘n goeie dag dit was soos ‘n wedergeboorte! ‘n Vriendin en mede-ouderling het die oor behandel en die oor uitspuit. Binne ‘n paar minute is die geluide en pyn weg en ek kon my gehoor herwin.
Ek kon nie anders as om hierdie storie ‘n paar keer te vertaal na my eie lewe nie. Ek sukkel met geraasbesoedeling en ‘n onvermoeë om die regte dinge te hoor – en veral om by God te hoor. Ek hoor met inspanning en onsekerheid. Wat ook beteken dat ek sukkel om die regte leiding te kan gee. Wat my wel troos is die feit dat my onvermoeë om nie te kan hoor nie – nie beteken dat ek nie kan hoor nie of dat daar nie stemme buite is nie. Ten minste is daar iets wat kan hoor! Hierdie “iets” wat kan hoor het Augustinus as ‘n “leegte” in ‘n mens beskryf wat net God kan vul. Die “leegte” self dui nie op God se afwesigheid nie – maar eerder op sy teenwoordigheid. Jode noem dit die vlam van God. Buddiste noem dit die groot self of godgegewe natuur. Die Kwakers noem dit die innerlike lig of leraar. Humaniste noem dit identiteit of integriteit. Thomas Merton het dit van die ware self genoem. Paulus noem dit beeld van God (Imago Dei).
Dit is nie belangrik WAT ons dit noem is nie – dit is belangrik DAT ons dit noem. Dit sal seker altyd ‘n misterie bly. Johannes vertel ‘n verhaal wat ons help om hierdie misterie beter te verstaan. Dit is soos die wind wat waai – jy kan sy geluid hoor maar weet nie van waar dit kom of waarheen dit gaan nie (Joh 3:3). Jesus leer Nikodemus dat hy wedergebore moet word. Wedergeboorte beteken letterlik “van bo gebore”. Jesus eis nie dwangmatige gehoorsaamheid nie – soos die meeste moralistiese bekerings waar ons bloot verligting van ons skuld beleef nie – hy wys hom ‘n ander wêreld waar God praat.
Die verhaal oor wedergeboorte gaan nie oor ‘n kortpad hemel toe nie – maar eerder oor die langpad aarde toe waar ons aardsheid in God nuut gemaak word. Ons word wedergebore om die dinge te sien wat na God wys “…it is not possible to see what I am pointing to…” (Joh 3:3, Msg). Die vleeswording was nie God se poging om hom meer God te maak nie – maar eerder om mens te word. So is dit ook dan seker ons taak om nie die aardsheid van ons hemels te maak nie, maar eerder om die hemelsheid (Imago Dei) aards te maak. Met ander woorde, om te ontdek wat God reeds gegee het of teenwoordig is. Dit is presies die les wat Jesus aan Nikodemus wil leer. “As ek julle die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as ek julle die hemelse vertel? “ Joh 3:12
Daarom begin geestelike begeleiding by die gewone lewe. Dit begin nie met godsdienstige oortuigings of morele pligpleging nie. Elke mens moet weet wie hulle is en dat ‘n grote God reeds in hulle lewe waai. Dis die goeie nuus of evangelie! Die skepping is immers voor die sondeval! Die vibrasies van die wind word vinnig weer gevoel wanneer die was van prestasies, oortuigings, geslag, of ras of een of ander sosiale konstruksie nie meer ons identiteit bepaal nie – maar God.
Die oor wat kan luister kan die gebed van Jesus “…in die hemel so ook op die aarde…” sien.
En dis mooi…
by admin on January 8, 2010
Veilige plekke kan baie gevaarlik wees. ‘n Klomp seevaarders en bemaningslede het dit op ‘n dag naby Kreta te duurste geleer. Hulle het in ‘n veilige hawe te lank gebly. Die hawe is Mooi Hawens genoem. Die hawe was beeldskoon en beskut teen die wind. Die winter het seevaart baie gevaarlik gemaak en daarom kon skepe nie te lank in Mooi Hawens vertoef nie. Daarom het Paulus hulle gewaarsku. Tog het hierdie mense teen Paulus se waarskuwing dit gedoen omdat hulle vas geglo het in die stuurman en die eienaar van die skip. Die gevolge was katastrofies. Die lang kuier in Mooi Hawens het byna hulle toekoms gekos. Hierdie storie lees ons in Hand 27: 1- 44.
Ons almal hoop en strewe na veilige plekke vir ons kinders omdat dit gemoedsrus oor die toekoms gee. Die probleem is net dat die toekoms al hoe meer onvoorspelbaar word en toenemend kom ons agter dat veilige plekke nie meer so veilig is nie. Daar is baie goed wat ek geleer is wat ek doodeenvoudig nie meer kan glo nie.
Die gesegde: Van hero na zero is eie aan ons tydsgees. Dit is hoogs onwaarskynlik dat my kinders slegs een beroep in hierdie lewe gaan beoefen – dalk drie of vyf! Die sprong van ons ou plaastelefoon na Skype of Twitter wys op hoe groot die verandering is. Dis kwantum of kwantanium!
Veilige plekke word onveilig omdat:
• VERANDERING teen die spoed van lig gebeur. Daar word nie net meer van sekondes gepraat nie – maar van nanosekondes. Dit laat my dink aan die ou wat doktor toe gaan en in kennis gestel word dat hy nie meer lank gaan lewe nie. Toe vra hy die doktor: Hoe lank sal ek nog lewe? Die doktor antwoord toe: 10, 9, 8, 7….!
Die wêreld van BC en AC (before and after computers) lyk totaal anders. Kennis verdubbel elke 18 maande – daar is skrywers wat meen dat dit elke 6 maande gebeur. Daar is ‘n nuwe webblad elke twee sekondes, nuwe produk elke 30 sekondes. Die spoed van mikroprossesering verdubbel elke 18 maande en rekenaar pryse halveer weer in dieselfde tyd. Elektronika het ‘n leeftyd van twee maande. Wat vandag nuut en innoverend is, is reeds môre verouder.
• CHAOS word die nagevolg van hierdie kwantumsprong. Verandering is kompleks. Dit is so vinnig daar is nie tyd vir refleksie nie. Die see of water is seker die beste metafoor vir chaos. Die lesers van hierdie verhaal in Hand sou seker gedink het aan Gen 1 met die aarde wat woes en leeg was, of Noag die eerste seevaarder en die uitwissing van die wêreld met water.
• ONSEKERHEID word deel van ons besluitneming. Verandering en chaos dwing ons om besluite temaak. Daar is net te veel om oor te besluit. Dit is etiese vrae wat ons menswees ten diepste raak. Stamselle, genetiese manupilering, mikro skywe om my geheue te vergroot, klonering en chemiese- en kuberoorloë is van die enkele vraagstukke waarmee ons gekonfronteer word. Die wêreldekonomie word binne ‘n paar sekondes in 2009 afgeskakel. Alles word heroorweeg en bevraagteken. Daar word gereken dat die grootste waarde skuif in 50 jaar paasgevind het. Die vraag is net: Na watter waardes word ons geskuif?
Ons word almal genoop tot agente van verandering. Soos Paulus moet ons soos profete waarsku en soos leraars leer en verduidelik. Die lewe ‘n reis is en nie ‘n bestemming nie. Verandering is deel van hierdie reis. Verandering is deel van ons skeppingsdoel. God het die aarde en die mens geskape met die woorde: Dit is goed. Die woord goed beteken: Potensiaal. Gedagtes, woorde, drome, dade is swanger met potensiaal wat nooit die kan nooit dieselfde bly nie.
Storms is soms veiliger as Mooi Hawens. God word ook in die stilte en storms ontmoet. Op ‘n manier leer choas ons ook iets van orde. Chaos leer ons dat daar goed buite ons is wat groter as ons is. In elke vorm van chaos is daar ‘n vorm van orde. Water kan verander in ys, sneeu en druppels maar dit bly dieselfde ding : water.
Die nuwe wêreld gaan oor keuses en om dit vinnig te maak. Tom Peters reken dat die leierskapsmotto in die oudae was: Mik…Gereed…Vuur…! terwyl dit vandag is: Vuur…Vuur….Vuur…! Keuses gaan nie meer soseer oor wat reg en verkeerd is nie, maar eerder oor wat die beste is. Dit gaan nie meer soseer oor wat ons kinders moet doen nie, maar eerder oor wie hulle moet wees. Die enigste sin wat ons in die wêreld ontdek, is die sin in onsself – en dit is om nie soseer aan te pas by al die veranderings om ons nie, maar eerder om verander te word sodat die aanpassings vanselfsprekend sal wees.
by admin on January 8, 2010
Vir ’n duisend wat kan dink kan net een sien.
- John Rushkin -
Kersfees nooi ons uit om te kyk. Herders in ‘n ope veld het gaan kyk. Wyse manne uit die Ooste het gaan kyk. Profete, engele en gelowiges het gaan soek en kyk na Jesus wat lig genoem sou word. Almal kon nie sien nie. Die lig was nie soos die helder Betlehemstêr nie – maar eerder weggesteek in ‘n vuil krip tussen randfigure. ‘n Menigte kon hom nie raaksien nie.
Dan was daar die persone wat gaan kyk het, en kon sien. Maria en Josef kon sien. Sagaria en Elisabet kon sien. Simeon kon die baba Jesus optel en sê: …nou het my eie oë Hom gesien (Luk 2:30). En vir hulle wat kon kyk en sien het die lewe ‘n nuwe ervaring en betekenis geword. Engele en mense moes daaroor sing. Daarom begin die storie van Maria, Sagaria en Elisabet en Simeon en Anna met ‘n lofsang.
Wat my fasineer van die verhaal is die feit dat die sien niks te make het met goeie preke, of wonderwerke, of openbarings nie. Selfs die baba Jesus is genoeg om jou lewe te verander. Jy hoef net te kyk. Jy hoef nie oorreed te word deur nuwe bewyse nie. Jy hoef nie nuwe informasie te kry nie. Nog minder hoef jy skuldig te voel oor jou sondes sodat jy gered kan word. Jy hoef nie betower te word deur nuwe wonderwerke of die aanspraak op ‘n beter moraliteit nie.
Jy hoef net te kyk.
En daarom is die belangrikste vraag met Kersfees: Wat sien jy?
Vandag is daar mense wat jare blind was wat weer kan sien. Gevorderde tegnologie maak dit vandag moontlik dat sekere mense wat blind is, weer kan sien. Sekere steurnisse in die oog kan deur laserbehandeling verwyder word sodat sig of beter visie moontlik is. Daar word tans baie navorsing gedoen oor mense wat weer hulle sig herwin en veral die aanpassings wat hulle moet maak om weer in die samelewing normaal te funksioneer. Ek het onlangs ‘n storie gelees van iemand wat vir die eerste keer na 53 jaar weer kon sien. Hy wou eerder weer blind wees. Die probleem is dat daar geen verwysingsraamwerk van ervaring en betekenis is om dit wat hulle sien te kan interpreteer nie. Dan kies die persoon om eerder nie te sien nie en intellektueel blind te wees.
Jesus het die metafoor van blindheid gebruik om mense aan God se wêreld voor te stel. Die probleem is nie om te sien nie – maar eerder wat jy sien. Daarom bring ‘n verkeerde kyk en sien ook verkeerde vrae. Dink maar die vrae oor Jesus: Is Hy nie van Beelsebul nie? Is Hy Elia? Is Hy nie die seun van ‘n timmerman nie? Is Hy nie die broer van Jakobus nie? Hierdie vrae kom uit ‘n verkeerde kyk na Jesus. Wat ons kan leer uit die vrae is dat die manier hoe ons na Jesus kyk deur ons eie sosiale konstruksies bepaal word. Sosiale identiteit speel ‘n deurslaggewend rol in ons geloof.
Natanael is ‘n klassieke voorbeeld. Hy word genooi na Jesus maar is nie positief nie. Sy beswaar is: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? (Joh 1:47). Sy werklikheid word subjektief bepaal. Elkeen van ons het diep gepersonaliseerde persepsies van die werklikheid. Jesus breek hierdie persepsies deurdat hy Natanael bewus maak dat dit nie hulle eerste ontmoetting is nie. Jesus het hom reeds onder die vyeboom gesien. Om te sien is nie soseer ons soek en vind van God nie, maar eerder God se soek en vind van ons. Om deur God gesien te word laat ons sien!
Om in hierdie wêreld te kan oorleef is nie maklik nie. Dit is soms vir my moeilik om te glo dat Kersfees ‘n goeie tyding vir almal kan wees. Die nood en gebrokenheid is net te groot. Dit is makliker om eerder te kies om nie te sien nie. Tog weerklink die hoop in Nuwe Testamentiese briewe wat geskywe is aan mense wat in die diaspora moes veg vir oorlewing: 49 keer word gelowiges uitgenooi met die twee woorde: Kom Kyk!
Dit was ook Fillipus se antwoord op Natanael se probleem met Jesus: Kom kyk (Joh1:47). Dit som Kersfees op. Dit is die goeie nuus vir elke nuwe jaar. Dit is die twee woorde wat die hemel laat sing.
Mag jy God sien!
Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar!
by admin on December 15, 2009
Die dood van Chris Louw het Suid-Afrika geruk. Die meeste van ons wil hê dat helde anders moet sterf. Hy sterf met ‘n vraagteken en nie met ‘n uitroepteken nie. Sonder antwoorde en die hoop waarvoor hy geveg het – met ‘n hoofstuk wat nie klaar geskryf is nie. In Chris se laaste sms aan Beeld oor ’n “storie vir julle, enkelkolom op bl.3”– word daar bespiegel of sy dood groot of mindere nuus sou wees.
Die nuus is groot – en dalk baie groter as wat selfs Chris dit kon antisipeer. Die kommentaar oor sy lewe wissel van opregte waardering tot politieke uitbuiting en selfverheerliking. Ek het geen twyfel nie dat Boetman-woorde ook hard sou val indien Chris kans gehad het om sy dood self te kon verdedig. Hy ken van jakkals en lam wat saam lê.
Die nuus is groot omdat Chris iets in elkeen van ons verpersoonlik: ‘n lewe wat baie harder is as ons terapeutiese voorgee en resepmatighede. Elke mens kom op ‘n plek in sy lewe waar hy met Chris se laaste woorde gekonfronteer word: “Ek kán nie meer nie.” Ons weet hoe om van pyn weg te hardloop of dit bloot net te ontken. Ons het genoeg speelgoed en medisyne om die pyn te verdoof. Soms is selfs die dinge wat heilsaam lyk juis ook deel van hierdie gevaarlike medisyne en speelgoed. Persoonlike sukses, persoonlike geluk en persoonlike saligheid belowe ‘n sorgvrye pad na die hemel. Dit is die wellus en vloek wat baie godsdienskamers dryf om die leuen te verkoop van ‘n lewe wat nie hard is nie. En gryp ons almal nie soms na hierdie utopistiese leuen nie? Die nuus is ook groot omdat Chris het die sondebok geword wat baie Suid Afrikaners se skuld dra. Daarom word hy bemin. Ek is trots op mense soos Chris Louw, Beyers Naude, Max du Preez, Helen Suzman, Dawid Bosch, Van Zyl Slabbert en baie ander wat bereid was om ook profeet te word en deur hulle eie nie geëer te word nie, maar om te staan vir dit wat reg en regverdig is. Om die pyn van ander te voel en te spreek namens hulle wat geen stem het nie. Dit word stories van hoop wat kan help dat ons skuld kan genees. Hierdie tipe projeksies is inspirerend en word stories wat die nuwe generasies ‘n toekoms gee.
Dan is hy ook sondebok in ‘n negatiewe sin. Waarheid wat nie in die gesig gestaar kan word nie, ken net een uitweg: Kry ‘n sondebok wat die straf moet dra. Amerika het die sondebok van die Taliban geword en die Taliban die sondebok van die Amerika. Iemand moet die oorsaak van die probleme (ook my probleme) wees. Die negatiwiteit in my eie gemoed is nou minder bedreigend. So raak Amerika, of die Taliban of Jode, gays, swart of witmense, of kommuniste, die gevaarlike manier hoe ek die ware oorsaak van my eie krisisse vermy, die middel tot ‘n doel: ‘n Plek waar my negatiwiteit kan rus. Ongelukkig verpersoonlik Chris dit ook. Die projeksie van verkrampte Afrikaners soos Piet Rudolf van die Boerevolk met sy resensies oor Chris, is die toonbeeld van selfverwaandheid waar hulle haat en vrees kan rus. Chris se dood bring ook ‘n baie ou debat terug op die tafel: Hoe moet Christene dink oor selfmoord? Die oordrewe selfversekering en onsimpatieke veroordeling wat jy soms in Christelike kringe hoor, maak die debat self onchristelik. Ek onthou hoe ek oor selfmoord in die kerk geleer is. Dit was die sonde teen die Heilige Gees wat nie kon vergewe word nie. So ‘n oortuiging is vernietigend vir jou geloof, veral as jyself vriende of familielede op so manier deur die dood afstaan. Dit word ‘n kanker wat jou siel wegvreet. Christene kon deur die eeue ook nie uit een mond oor selfmoord praat nie. Ons weet dat vroegste kerkvaders soos Augustinus en Aquinas dit as sonde veroordeel het terwyl Justinus gedurende die Bisantynse tydperk dit nie veroordeel het nie. Die eerste Christene het ook probeer om selfmoord binne hulle Joodse erfenis te interpreteer. Daarby sou hulle ook hulle geloof binne Jesus probeer verwoord het. Die lewe was heilig vir enige Jood en daarom kon jy nie jou eie lewe neem nie. Tog was daar uitsonderings waar Jode selfmoord gepleeg het. Dink maar aan die massa-selfmoord by Masada en ander plekke waar Jode hulle eie lewe geneem het. Die gebed “Wanneer die mes teen jou keel is” is gebid wanneer daar selfmoord gepleeg is. Selfmoord is met ander woorde gekontekstualiseer. Dit is ook nie vreemd dat daar in alle godsdienstige denkrigtings verskeie regverdigings vir selfmoord is nie.
Jy hoef nie ‘n Christen te wees of die regte Bybelverse te hê om ‘n oortuiging te hê dat dit verkeerd is nie. Die vernietigende effek wat dit in ons kinders en ander geliefdes het praat van die vloek van so ‘n daad. Die sonde van selfmoord is egter nie groter of iets anders as al ons ander sondes nie. Selfmoord is ‘n daad van selfsug – deel van dieselfde genetika wat daagliks binne my woel wanneer ek menige sondes van selfsug pleeg. Indien die debat gaan oor die graad van selfsug kan ons seker een of ander regverdiging kry vir ons dade. Ek wonder soms of ons eie selfsug nie die selfsug in selfmoord veroordeel nie. Miskien moet die debat eerder gaan oor die self, en minder oor die moord. Ongelukkig word die hoofstroom debat binne die kerk bepaal deur ‘n hemel-en-hel-teologie. Die enigste vraag wat dan beantwoord moet word is of die persoon wat selfmoord gepleeg het in die hemel of in die hel is. Iets wat jy nie in die Ou Testament kry nie. Die verkeerde vrae lei noodwendig tot die verkeerde antwoorde. So ‘n debat is wreed want dit stel nie belang in die mens se konteks en sy eie self en storie wat baie meer kompleks is as ons vinnige etiketering en Bybelse beswerings.
Daarom radikaliseer Jesus moord as iets baie meer as net die oortreding van ‘n gebod. Sy maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake ontbloot ‘n wêreld van morele meerderwaardigheid waarin eksterne voorskriftelikhede God gevange hou in ‘n krampagtige veroordeling en beterweterigheid. Die maar-Ek-sê-vir-julle-uitsprake relativeer sonde binne ‘n morele verstaan. Sonde het nie graderingsverskille nie. Nog minder ‘n simplistiese oorsaak dinamika soos wat daar vir Chris se dood opgedis word. Daar is byvoorbeeld nie ‘n verskil is tussen ‘n AK47 waarmee ek selfmoord pleeg en ‘n mes en vurk waarmee ek my letterlik dood eet nie. “En sit ‘n mes voor jou keel as jy ‘n goeie eetlus het!” (Spr 23:2). Deur jou broer Raka te noem beland jy in die beskuldigingsbank. Jesus praat ook van owerspel in die kop, haat as moordwapen, en koppel vrees en angs aan die diepste resesse van die siel. Johannes maan ook dat wie sy broer haat ‘n moordenaar is (1 Joh 3:15). Lê intellektuele of emosionele moord nie dalk nader aan fisiese moord as wat ons dink nie. Hoeveel van selfmoord is soms nie eerder moord nie? Wat is meer bedrieglik as ons eie harte? Indien ons sukkel om onsself te verstaan – hoe ironiese dat ons presies weet wat in ander mense aangaan en hulle motiewe kan peil?
Enige mens wat hierdie woorde ernstig opneem sal gestil word deur sy eie donker wat aan die lewe klop. Antieke gelowiges het gepraat van die donker nag(te) van die siel. Dit is om God te vind te midde van die nag en nie ten spyte daarvan nie. Ons evangeliese tradisies wat ons van herlewingspredikers geërf het bied geen raamwerk en verstaan vir hierdie sielswerk wat so nodig is nie. Tradisies soos die kontemplatiewe tradisies het weer hierdie stryd deel gemaak van die Christelike reis. ‘n Reis wat ten volle kan identifiseer met Jesus se lewe wat ook eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie: “My God , my God…?” (Matt 27:46). Iemand wat hom doelbewus voorberei vir sy dood: “Niemand neem my lewe nie, maar ek lê dit self af…” (Joh 10:18).
Die Christelike boodskap is een van pyn waar God binne die donkerste nag ontmoet kan word. In daardie ontmoeting vind die opstanding plaas. Dit word hoop genoem. Hoop ken net een taal – dit is liefde. Chris kon nie hierdie opstanding in hierdie lewe vind nie – dalk soos baie ander wat vandag dalk nog leef, maar sonder enige hoop. Wat Chris wel nodig gehad het en nou nog verdien, is liefde.
Want dit gee God nou aan hom, en ons.
by admin on November 11, 2009
My kinders help my om God beter te verstaan. Die eerlike rou vrae en antwoorde is soms soos ‘n dolksteek – dan probeer ek luister. Hierdie stiltes bring gewoonlik ‘n nuwe hoorbare bewustheid van God.
Een so insident het gebeur toe my dogter, Carissa 3 jaar oud was. Die spesifieke dag was sy ondeund en pa moes hard praat. Ek het haar op die kombuistafel gesit, in die oë gekyk en gesê: Carissa jy maak pappa se hart seer. Sonder om te skroom antwoord sy: “Woon liewe Jesus dan nie in jou hartjie nie?” Vir haar is dit onmoontlik dat haar pappa enige pyn kan ervaar met Jesus in sy hartjie. Die vorige week het haar maatjie ook vir haar by die kleuterskool gesê dat dit seker baie op Jesus se kop moet sneeu nadat hulle roomys geëet het! Hoe Carissa dink oor die boodskap van Jesus is maar soos ons almal dit leer in die Sondagskool. ‘n Jesus wat my ook ‘n hero maak. Om een of ander rede wil ons dit glo. Ons wil glo dat Jesus ons immuun maak teen enige seer en teleurstellings (so terloops dit is ’n baie bekende lering wat Triomfantalisme genoem word).
Een van die moeilikste dinge van pa wees is om antwoorde te gee wanneer daar nie antwoorde is nie. En dit veral wanneer ons as gesin vir sake saam bid. Hoe verduidelik ek my egskeiding aan ‘n 10 jarige dogter wat kinderlik glo, bid en huil vir die herstel van haar pa en ma se huwelik? Hoe verduidelik ek spierdistrofie en die dreigende blindheid wat my kind in die gesig staar. Hoe verduidelik ek my werkloosheid of die 46% van ons land se bevolking wat onder die broodlyn leef? Ons gebede klink heel anders as die gebede van die 46% van ons land wat God moet vertrou om bo die broodlyn te leef. CS Lewis het tereg gesê dat elke hongersnood, ramp en sterfbed is ‘n versoek wat nie beantwoord is nie.
Ons kultuur het ‘n groot invloed hoe ons na gebed kyk. Alles is vandag kits en vinnig. Bigger is beter word sinoniem met God se seën. Superman-fantasieë vul ons gebede. Die Bybel word soos die Geelblydsye en vir elke vraag is daar ‘n antwoord. Ontmoet maar net Job se vriende dan hoor jy dat jy nie genoeg geloof het nie, sonde gedoen het of te veel gevrees het. Ek het geen twyfel dat baie ons gebede soms net te onbeduidend en ligsinnig is om te antwoord. Dink maar aan al die versoeke wat Jesus nie kon antwoord nie (Mat 17:4; Mat 16:22; Luk 9:54; Mat 20:20 -21). Hoe antwoord die Here al ons sport gebede? Floyd Patterson het gesê nadat hy wêreldtitel wen: “I just hit him and the Lord did the rest!” (Dit moet ook seker moeilik wees om teen ‘n ou en die Here te boks!) Ek brand om te weet wat bid die meeste rugbyspelers as hulle kniel op die veld voor die game. (As ek na Bakkies kyk – dan vra hy seker byvoorbaat om vergifnis!) Ons bid en getuig met oorgawe nadat ons wen maar bitter min as ons verloor. Dan word Carissa se vraag of Jesus in jou hartjie is seker baie relevant.
Ek het groot geword met hierdie woorde: “Gebed is om met God te praat”. Ongelukkig het hierdie praat wenslyssies en voorskriftelikhede geword. Gebed moet ons na een plek neem: “Om na God te luister”.
En dan veral te luister na:
• Mag. Daarom is gebed wonderlik maar ook gevaarlik. Indien die duiwel Jesus versoek word met mag sal ons seker ook daarmee versoek word. Wanneer word my gebede superstisie, manipulasie of suggestie? ’n Groter vraag moet wees wat wil ek doen met die gebed wat beantwoord word en hoe sal dit ander mense kan dien?
• Roeping. Gebed het alles te doen met my lewe. Dit is nie net woorde of versoeke wat ek na God toe bring nie maar my lewe. My roeping teenoor my vrou, man kinders, omgewing en orals waar ek leef word die konteks vir gebed (Spr 21:13, Gal 2:20 en Jak 1:27).
• Misterie. Ons bid met geloof en nie vaste sekerhede nie. Daarom vra Jesus nadat Hy oor gebed leer “sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”(Luk 18) Soms voel ons die verste van Jesus as Hy die naaste aan ons is. Soms is sy antwoord om nie te antwoord nie. Jesus se lewe eindig met ‘n vraag en nie ‘n antwoord nie: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 27:46)